Menu terloops
In Wat om te kyk [7 Sep 2026]

‘Tweespalt’: ’n Dokkie waar rugby-geesdriftiges mekaar met passie plettervat


‘Tweespalt’ ondersoek die passie, geskiedenis en verdeeldheid agter een van rugby se grootste wedywerings – die Springbokke teen die All Blacks.

Deur Redaksie
‘Tweespalt’: ’n Dokkie waar rugby-geesdriftiges mekaar met passie plettervat
Kyk lokprent

’n Nuwe kykNET-dokumentêre reeks, Tweespalt, werp die kollig op die vrae wat rugbygeesdriftiges al dekades lank teister – en dis veral nou relevant, met die Greatest Rivalry-reeks wat tans in Suid-Afrika aan die gang is.

Die dokkiereeks Tweespalt is onlangs tydens die veertiende kykNET-Silwerskermfees aan die gehore bekendgestel. Hierdie dokumentêr, wat oor twee episodes strek, ondersoek die passie, geskiedenis en verdeeldheid agter een van rugby se grootste wedywerings – die Springbokke teen die All Blacks.

Ja, daardie bykans oer-oue liefde-haat-gevoelens tussen plaaslike ondersteuners oor wie nou eintlik die beste span in die wêrreld is: die All Blacks of die Bokke? En hoe kan Suid-Afrikaners die All Blacks ondersteun ten koste van hul eie?

Suid-Afrikaners hou daarvan om van mekaar te verskil. Nes die manne wat met ietsie koud in die hand gesels oor watter Duitse motorvervaardiger die beste is. Jy’s óf ’n BMW-ou of daardie driester van Mercedes kraai koning op jou werf.

Die tweespalt tussen die ondersteuners van die manne met die silwer varing op hul bors en die manne met die trotse springbok op daardie groen trui kom reeds van 1921 af.

Hierdie “veld van verdeeldheid” het nie net tot verdeeldheid in die stadion gelei nie – selfs families was al behoorlik die hoenders in vir mekaar omdat tweespalt oor die twee spanne ook daar nes geskop het. En dis soms baie erger as die stryd oor familiename of byderwetse name vir die volgende geslag . . .

Van wie hoor ons in Tweespalt?

Jonathan Mokuena, voormalige Springbok-seweskaptein en rugbykommentator, sê rugby was die één aspek wat die land na apartheid bymekaar getrek het. “Dis ons siel, dis ons hart.”

En Ollie le Roux, veteraan van 54 toetse waarvan 10 teen die All Blacks was, sê onbeskroomd: “Dis deel van wie en wat ons is – en ons is blêrrie goed in dit.”

“Rugby is ’n kopspel, en dis ’n hardkoppige spel,” het Marco Botha laat hoor. Hierdie stelling het ook aanklank gevind by rocker Francois van Coke wat heeltemal begeesterd is met rugby en sy seuntjie baie sterk aanmoedig om daardie ovaal bal vaardig te raak. Sy raad? “Beproef alles en behou die rugby.”

Vir Winston Williams van Somerset-Wes is daar die wonderlike herinneringe aan soggens vieruur se opstaan om die All Blacks te kyk. Sy ma het al die kinders in die straat bymekaar gemaak en almal het kom rugby kyk. Maar Winston was nooit toegelaat om die Bokke te ondersteun nie…

Breyton Paulse, wat 14 keer teen die All Blacks uitgedraf het, onthou ook daardie dae toe daar min televisiestelle in die omgewing was. Sy oupa Ben het hom altyd kom oplaai om die Bokke teen die All Blacks te kyk, min wetend dat sy toekoms eendag in rugby sou lê.

TWEESPALT
Breyten Paulse laat waai met die bal in hierdie skermgreep uit Tweespalt. Foto: Skermgreep

Dan is daar die Cape Crusaders, die passievolle All Black-ondersteuners van Kaapstad met ’n ondersteunersklub in Somerset-Wes. En wie het nog nie gehoor van die Manenberg Maoris nie?

Polities-gemotiveer of bloot voorkeur? Maar hoe swaar weeg die geskiedkundige politieke agtergrond wanneer daar vandag, meer as 30 jaar later, steeds Suid-Afrikaners is wat oënskynlik verkies om aan die verlede vas te hou? Of berus dit aan die einde van die dag bloot op persoonlike keuses?

Hoekom moet jy Tweespalt kyk?

Daar word fassinerende feite, geskiedkundige datums en politieke onrus onder die loep gebring. Meer lig word gewerp op SACOS, ’n nie-rassige beheerliggaam vir sport in die land, en hoe die Suid-Afrikaanse Rugby-unie in 1992 tot stand gekom het.

Vind ook meer uit oor Errol Tobias wat die eerste gekleurde Springbok was wat in 1981 op die toer na Nieu-Seeland ingesluit was, selfs al was daar enorme druk vanuit eie geledere om dit nie te doen nie, maar eerder standpunt in te neem vir die bevordering van spelers van kleur in nasionale sportspanne.

Dit was juis tydens die Bokke se derde toetswedstryd in daardie jaar teen die All Blacks op 12 September by Eden Park in Auckland waar chaos uitgebreek het toe twee manne vanuit ’n gehuurde ligte vliegtuig meelbomme op die spelers vrygelaat het . . .

En was daar werklik ’n Suzie wat die All Blacks tydens die Wêrreldbekertoernooi in Suid-Afrika (1995) so ’n bietjie “aangehelp” het?

Deelnemers aan die gesprekke

  • Voormalige en huidige Springbokspelers
  • Wynand Claassen
  • Jonathan Mokuena
  • Jannie du Plessis
  • Victor Matfield
  • Ollie le Roux
  • Breyton Paulse
  • Richard Bands
  • Renaldo “Naledi” Young
  • Deurwinterde All Black-ondersteuners
  • Benna October (voormalige WP- en Leeus-speler)
  • Winston Williams (volbloed All Black-ondersteuner)
  • Elroy Christians (volbloed All Black-ondersteuner)
  • “Hulle weet nie wat ons weet nie” – Springbok-ondersteuners
  • Marco Botha (rugbykommentator en skrywer)
  • Francois van Coke (sanger en rugbyfanatikus)
  • Heindrich Wyngaard (TV-persoonlikheid en skrywer)
  • John van Rensburg (SuperSport-rugbykommentator – en fanatiese versamelaar met byna 2 000 rugbytruie!)
  • Walter Stander (‘Bokbefok’ in sy eie woorde) en sy ewe begeesterde seuntjie, Hanro (11)

Tweespalt se eerste episode word Woensdag 9 September om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies