Austin Powers was Mike Myers se grootste sukses. Oor die loop van vyf jaar (1997-2002) het hy ’n reeks uiteenlopende karakters vertolk in ’n fliek-franchise oor ’n Britse spioen op wie enigiemand kon verlief raak. (En enigiemand en almal het…what were you thinking Beyoncé aka Foxxy Cleopatra?!)
As skepper, skrywer en hoofspeler, het Myers bewys hy kan oortuigend snaaks wees as beide good guy, Austin Powers, en baddie, Dr. Evil. Terselfdertyd het hy ook ’n rits ander karakters in sy drie Powers-flieks gespeel. Die toonbeeld van nimmereindige veelsydigheid, of hoe?
Met sy nuwe Netflix-reeks, The Pentaverate, vertolk Myers selfs méér karakters as wat hy in die Powers-flieks aangevat het. ’n Mens wonder of hy dalk gesukkel het om ander akteurs te vind om teenoor hom te speel. Hy vertolk agt verskillende, eienaardige mense – minstens in die eerste twee episodes. Dit is moontlik dat hy selfs méér rolle vertolk, maar ná die tweede episode was daar niks van dié vreemde wêreld wat Myers op planeet Netflix geskep het wat my kon oortuig om verder te kyk nie. (Redakteursnota: Dit is agt in totaal, maar dis dalk ook sewe te veel…)
Soek die grappies
The Pentaverate kry sy naam vanaf ’n geheime groep mans wat glo die wêreld bestuur; ’n tipe illuminati. Myers vertolk vier van die vyf mans wat aan die hoof daarvan staan. Hulle name is Lord Lordington, Bruce Baldwin, Mishy Ivanov en Shep Gordon. Elkeen van dié karakters verwys vaagweg na mense in die regte lewe met wie Myers klaarblyklik ’n appeltjie te skil het. Baldwin is byvoorbeeld heel duidelik ’n verwysing na Rupert Murdoch. Dié karakter het soos Murdoch ’n sterk Australiese aksent het en is ook ’n voormalige media mogul.
Hoewel ons reeds in die eerste episode aan die karakters voorgestel word, voel dit asof ons meestal in die donker gehou word. So asof die teks volop inside jokes is en jy weet nie warrehel aangaan nie.
Vorige Myers-karakters soos Austin Powers was snaaks omdat daar ’n universele begrip was oor hoekom iets aan dié rol snaaks behoort te wees. Ter voorbeeld: As jy weet dat daar gek geskeer word met Britse mense oor hul tande, dan sal jy gevolglik dink Austin Powers se tande is snaaks omdat Myers besig is om die gek te skeer met Britte. Dis lui humor, want dit maak staat op stereotipes en die versterking daarvan. Maar, minstens hoef jy nie vir die grap te gaan soek nie.
In The Pentaverate het jy agt Myers-karakters wat elk op dieselfde tyd die gek skeer, maar ’n mens weet net nie mooi met wat nie. Die aksente en verskillende maskers wat Myers dra verskil genoeg om onderskeid tussen elkeen te tref, ja. Tog gaan die effektiwiteit van elke karakter en sy onderskeie kenmerke nietemin heeltemal verlore.
Toilethumor wat stink
Die enkele Myers-karakter wat meeste kykers sal geniet, se naam is Ken Scarborough. Ken is ’n nuusverslaggewer by ’n Kanadese nuuskanaal, CACA News Toronto. Ja, die woord CACA is veronderstel om jou aan ekskresie te laat dink. Dis ’n deurlopende tema in The Pentaverate. So elke tien minute probeer hulle ’n grappie oor liggaamlike uitskeidsels maak. Of probeer hulle Scarborough se penis wys. Either or.
Daar’s byvoorbeeld ’n sasquatch wat in ’n gang poef waarlangs ’n man dood is wat sy eie boude probeer soen het. Ja, lees daai sin maar weer.
Dorpe het name soos Nuts Deep en daar word ’n hele argument gemaak oor die waarde van iemand wat besny is. ’n Kroeg verkoop ’n drankie met die naam Anal Probe en jy sien hoe mense die toilet gebruik en grappies maak oor hoe stink hulle poep.
Aan die begin van elke episode word ’n aanhaling ingesluit van ’n bekende persoon as deel van ’n poging om jou te laat glo dat waarna jy kyk regtig besig is om te gebeur. ’n Nelson Mandela-aanhaling word byvoorbeeld gebruik om jou te oortuig dat hy ’n toespraak gelewer het by ’n Pentaverate-geleentheid by name “The Meadows”. Dís ’n tipe konferensie wat beskryf word as “kind of like Davos except it’s secret and there’s an orgy.” Sien, nog ’n seksgrappie.
Ek kan onophoudelik Austin Powers-flieks binge aand ná aand. Maar ná twee geweldig onsamehangende episodes van The Pentaverate, kon ek net nie verder kyk nie. Dis next level bisar en neuroties. En met meer toilethumor as ’n Leon Schuster-fliek uit die 90s. Dít wil gedoen wees.
Kyk eerder Austin Powers: The Spy Who Shagged Me en Austin Powers in Goldmember op Showmax.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →