Daar’s iets hipnoties aan Hasan Minhaj. Meer spesifiek – daar is iets hipnoties aan hoe Hasan Minhaj stories vertel. Iets aan die manier hoe hy sy grappe aanmekaar timmer. (Amper té) netjies saamgestel in sy kenmerkende styl – “PowerPoint comedy” soos hy, met net genoeg selfveragting, daarna verwys.
Dít het sinoniem met sy vertellingstyl geword op die stel van sy gewilde Netflix-reeks, Patriot Act: Minhaj wat gaan van stilstaan tot op en af bons voor ’n groot skerm waarop als van familiefoto’s en nuusberigte, videogrepe, sosiale media posts en aanlynbekgevegte (en doodsdreigemente) af en toe flits om die storie ’n ekstra laag te gee. Onder die kritiek oor Minhaj se tweede stand-up special vir Netflix (die eerste, Homecoming King, is ook uitsonderlik) is juis dat dié PowerPoint comedy-styl te aangeplak is. Dat als net te mooi verpak is.
Dié kritiek ondermyn egter die veelvlakkigheid van Minhaj se benadering. Hy het immers die uncanny vermoë om ’n grap só te vertel dat die landing net soveel vertakkings as talryke interpretasies het.
So, ja, dit is aangeplak. Ja, dit is met sorg verpak en opgevoer. Dis deel van die grap, mense. Hy is die king’s jester, mos.
Niks is gratis en verniet nie, veral nie ’n grap nie
The King’s Jester se 60 minute voel effens te kort in die oomblikke wat jy die hardste lag. Met dié dat dit om sy rise to fame-verhaal draai, baat die program by die meestal chronologiese benadering. Waar Minhaj daarvan afwyk, is dit om konteks te skep. Die parallelle reis tot dié roem is meer indringend. Dis ’n reis waar The King’s Jester ook dien as ’n manier vir Minhaj om sin te maak van wat werklik vir hom belangrik is… Die besef dat sommige grappe se prys net te duur is.
Só begin dit met ’n intieme storie oor Minhaj en sy vrou, Beena, se aanvanklike gesukkel om met ’n gesin te begin en hul skuif na Greenwich, Connecticut, waar hul klein Indiese familie uitstaan onder die white collar Markus Jooste-tipes. Die storie oor sy ervaring as ’n tiener met ’n undercover FBI-agent by hul plaaslike moskee, is skatersnaaks, maar die breër sosio-politiese konteks daarvan is geweldig problematies en ontstellend.
Dis asof hy jou opsetlik wil laat huil van die lag sodat jy kan huil van skaamte oor die realiteit wat so slim verbloem is. En dit doen hy telkens as hy ’n agter-die-skerms-blik gee oor van die noemenswaardigste episodes van Patriot Act en hoe dié episodes vorm aangeneem het. Soos die episode oor die moord op Jamal Khashoggi wat Netflix op aandrag van die Saudi-regering van sy platform in die streek moes verwyder. Of toe hy Jared Kushner ge-troll het.
Warm onder die kraag
Take your pick – daar is nie ’n tekort aan belangrike, gevaarlike, invloedryke mense wat Minhaj op die een of ander manier omgekrap het nie. En hy het homself daarin verlekker, vertel hy met groot oë, in ’n luidrugtige stem wat al harder raak en die kamera wat nouer en nouer op sy gesig fokus totdat dit ’n crescendo bereik wat jou soos yskoue water oor jou kop tref.
To be clear – die grap en die lag is in die opbou. Die yskoue water is die realiteit wat dié komediant-aktivis jou dan meedeel. Vir hom was die yskoue water dat hy sy familie in gevaar stel. Dat sy grappe – so nodig soos wat dit is in ’n samelewing – tot doodsdreigemente gelei het.
Skerp tonge met spieëls
Komediante soos Minhaj is einste wat die titel weergee. As die king’s jester, die hofnar wat homself laf hou, het hy (in teorie) ’n lisensie om sonder skroom die waarheid te praat, om iets op die naam te noem. Dis iets wat late night-aanbieders soos John Oliver en Trevor Noah daagliks doen. Hulle lewer bloot kommentaar op wat hulle voor hul sien uitspeel. Komediante hou net ’n spieël op en vertaal ons wêreld met ’n slim tong.
Minhaj se tong is onder die skerpste… en die lisensiekoste is duur.
The King’s Jester is op Netflix beskikbaar om te stroom.
Soortgelyke programme:
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →