Op 6 Desember 2017, het Markus Jooste skielik as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank te midde van ’n ondersoek na onreëlmatighede. Steinhoff se aandeleprys het binne ’n week met 90% geval. Gevolglik is meer as R200 miljard van die JSE se tafel gevee. Soos Watkykjy destyds hieroor geskryf het: “Ons praat hier van gewone Suid-Afrikaners en pensioenarisse, beroof van hulle lewensbesparings. Uitgewis. Weg.”
Glo het Jooste vir sy vrou gesê, “Gee dit vyf jaar. Teen dan sal alles oorgewaai het en ons sal kan aangaan met ons lewens,” hoor ons in die eerste van die twee nuwe episodes wat IdeaCandy tot hul dokumentêre reeks, Steinheist, gevoeg het. Dié episodes word op 20 Maart 2025 op Showmax vrygestel.
Jooste kon egter nie meer verkeerd gewees nie. Vyf jaar ná sy bedanking is die eerste drie episodes van Steinheist in 2022 vrygestel met ’n rekordgetal kykers en hernude belangstelling onder Jan Alleman oor wat presies by Steinhoff gebeur het.
Richard Gregory en Elle Oosthuizen, die regisseur en vervaardiger van Steinheist, het Sanlam se Finansiële Joernalis van die Jaar-prys vir 2022 met dié werk gewen. Só het hulle die eerste TV-joernaliste geword wat dié prys in byna ’n dekade gewen het. Gregory sê in ’n mediaverklaring dat dit belangrik was om die nuwe episodes te maak om te wys hoe die wiele van geregtigheid draai.
Steinheist, vervaardig deur IdeaCandy (wat ook Tracking Thabo Bester, Devilsdorp en Rosemary’s Hitlist vervaardig het), is ook vir vier Safta-pryse benoem. André-Pierre du Plessis het ook in sy resensie vir terloops geskryf dat dit “voorgeskrewe materiaal vir elke universiteitsklas oor sakejoernalistiek” moet word.
‘Steinheist 2.0’
Die twee nuwe episodes tel die storiedrade op in 2022, sowat ’n maand ná die dokkiereeks se vrystelling, toe die Suid-Afrikaanse Reserwebank beslag gelê het op miljarde rande se bates wat aan Jooste gekoppel is. Onder die gebeure wat onder die loep kom, is die boete van R475 miljoen van die Gedragsowerheid vir Finansiële Dienste (FSCA), die JSE-boete van R15 miljoen, die lasbrief wat vir sy inhegtenisneming uitgereik is en sy uiteindelik selfdood op 21 Maart 2024.

Dié storie eindig egter nie met die dood van die bedrogspul se baasbrein nie. Trouens die dag ná sy dood is ’n voormalige Steinhoff-direkteur, Stéhan Grobler, in hegtenis geneem. ’n Maand later is daar op R60 miljoen se bates van Bernice Odendaal, Jooste se vermeende minnares, beslag gelê. Episodes 4 en 5 kyk dus ook na die deurlopende pogings om die verlore geld terug te kry en Jooste se medepligtiges voor die hof te daag.
Die nuwe episodes sluit onderhoude in met kenners en diegene wat naaste aan die storie is. Onder hulle tel Rob Rose, die Financial Mail joernalis op wie se gelyknamige boek dié dokumentêre reeks gegrond is, Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff, Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en Louis du Preez, die uitvoerende hoof van Steinhoff toe dit ontbind is.
Episodes 4 en 5 van Steinheist word op Donderdag, 20 Maart 2025 op Showmax vrygestel.