Menu terloops
In Sepies [28 Feb 2026]

‘Skemergrond’: Wie’s die nuwe Louw op Gemoedsdrif?


Keenan Arrison, bekend vir sy hoofrol vir ‘The Heart is a Muscle’, Suid-Afrika se inskrywing vir 2026 se Oscars, sluit by ‘Skemergrond’ aan as ene PJ Louw – en nes die ander Louws is daar ook taamlik geraamtes in sy kas…

Deur Redaksie

Kyk nou 'Skemergrond' op DStv Stream

‘Skemergrond’: Wie’s die nuwe Louw op Gemoedsdrif?

Die Afrikaanse telenovela Skemergrond het vandeesweek ’n nuwe lid van die Louw-gesin bekendgestel – JP (Charlton George) se broer, PJ.

PJ word deur Keenan Arrison, reeds ’n bekende gesig op Suid-Afrikaanse skerms, vertolk. Keenan het veral lof ontvang vir sy hoofrol in die speelfilm The Heart Is a Muscle, wat ook dan Suid-Afrika se inskrywing vir 2026 se Oscars was. Vir hierdie rol is hy vir ’n Silwerskermtoekenning benoem en hy het ook ’n National Film and Television Award as beste akteur in ’n speelfilm ontvang. Hy was ook te sien in gewilde reekse soos Mince jou hareSara se geheim, Trackers en die immergewilde sepie Binnelanders.

Wat kom maak PJ op Gemoedsdrif?

Met PJ se aankoms word die Louw-familie se dinamika selfs meer kompleks. Sy teenwoordigheid bring nie net nuwe vrae nie, maar ou konflikte en spanning borrel na die oppervlak.

Dit word gou duidelik dat PJ se verbintenis met sy familie die potensiaal het om gevestigde verhoudings te toets.

Skemergrond
Sentraal tot PJ se storielyn in Skemergrond is sy verhouding met sy broer, JP Louw (Charlton George). Foto’s: Verskaf/Skermgrepe

Broederband: PJ en JP

Sy verskyning veroorsaak dadelik ’n gefladder in die duiwehok. “Wanneer PJ in Gemoedsdrif aankom, bring hy ’n gespanne, amper elektriese energie saam. Sy teenwoordigheid alleen begin verhoudings en situasies skuif,” sê Keenan.

Sentraal tot PJ se storie is sy verhouding met sy broer, JP Louw – ’n band wat deur eweneens deur lojaliteit én konflik gekenmerk word.

“Daar is broederlike liefde, maar ook onuitgesproke spanning en moontlik ou wonde wat nog nie heeltemal genees is nie. Dis ’n verhouding wat baie van sy innerlike konflik dryf.”

Is PJ wie hy voorgee om te wees?

PJ se eerste verskyning in Gemoedsdrif is geensins onopsigtelik nie. Hoewel hy na ’n kalm ou met ’n sin vir humor lyk, lê daar duidelik meer onder sy sorgvuldig opgeboude fasade.

Volgens Keenan is dié karakter heerlik veelvlakkig. “PJ is ’n man met baie lae. Hy is kompleks. Op die oppervlak kan hy rustig en selfs snaaks voorkom, maar daar is baie wat onder die oppervlak aangaan. As kykers hom die eerste keer ontmoet, gaan waarskynlik voel daar is iets wat hy terughou. Dís presies waar sy kompleksiteit lê. Hulle mag hom dalk as koud of berekenend ervaar, maar soos die storie ontvou, gaan dit duidelik word dat daar emosionele diepte en selfs ’n desperaatheid onder daardie beheersde buitekant lê.”

Dis juis hierdie kompleksiteit wat hom na die rol aangetrek het. “PJ is nie bloot ’n ‘held’ of ’n ‘skurk’ nie. Hy is menslik, met foute en motiewe wat soms bots,” verduidelik Keenan.

“PJ se reis gaan nie staties wees nie. Daar is besluite wat hy neem wat verreikende gevolge kan hê – vir homself en vir die Louw-familie.”

Skemergrond
Hoewel hy na ’n kalm ou met ’n sin vir humor lyk, lê daar duidelik meer onder sy sorgvuldig opgeboude fasade, vertel Keenan Arrison oor sy Skemergrond-karakter, PJ.

‘Groot verantwoordelikheid’

Vir Keenan was dit nie net opwindend nie, maar ook betekenisvol om die rol los te slaan en deel te word van die Louw-familie. 

“Dit was vir my ongelooflik opwindend en ook ’n groot voorreg. Die Louw-familie, met hulle sterk geskiedenis, is reeds so gevestig in die wêreld van Skemergrond. Toe ek hoor ek word deel daarvan as PJ, het ek dadelik besef die rol kom met verantwoordelikheid, maar ook met ’n ongelooflike geleentheid om iets nuuts na daardie familie-energie te bring.”

Keenan se benadering tot die rol is doelbewus introspektief en fyn ingestel op wat nie altyd hardop gesê word nie. “Ek bou ’n innerlike biografie waarvan dalk nie alles op die skerm gesien word nie, maar wat my help om elke keuse eerlik te maak… Om die stilte tussen die woorde net so betekenisvol te maak soos die dialoog self.”

Uiteindelik hoop Keenan dat PJ se storie kykers sal noop om twee keer te dink oor mense en hulle motiewe. “Ek hoop kykers voel uitgedaag om nie te vinnig te oordeel nie en dat hulle begin vra: ‘Wat dryf hierdie man regtig?’ ”


Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies