Menu terloops
In Sepies [5 Nov 2025]

‘Skemergrond’ se Mario Haupt oor dáái skokkende wending


Toe die akteur Mario Haupt hoor wat sy ‘Skemergrond’-karakter, Ronnie Maarman, se voorland is, was hy net so geskok soos die kykers wat nie kon glo watter wending dié telenovela se storielyn vandeesweek geneem het nie.

Kyk 'Skemergrond' op DStv Stream

‘Skemergrond’ se Mario Haupt oor dáái skokkende wending

Dit was vir Skemergrond-kykers ’n groot skok toe Ronnie Maarman Maandagaand dood verklaar is. En die ergste is dat dit sy eie vrou, Hazel, was wat die skoot (per ongeluk) afgevuur het. Ná twee jaar in dié rol neem die akteur Mario Haupt egter swaar afskeid van die karakter wat soveel kykers se harte gewen het.

“Ek het daarvan gehou dat Ronnie nie net ’n eendimensionele man was nie,” vertel Mario. “Hy was vol teenstrydighede – sterk maar broos, kwaad maar vol liefde. Hy wou altyd die regte ding doen, maar het soms op die moeilikste manier daar uitgekom. Ek dink baie mense kon met hom identifiseer. As akteur was dit heerlik om hom te speel, want ek kon elke dag iets nuuts van hom ontdek.”

Skemergrond, Ronnie, Mario Haupt
Die groot skok: Hazel skiet per ongeluk vir Ronnie dood. Foto’s: Verskaf

‘Soos om ’n goeie vriend te verloor’

Toe hy hoor wat met Ronnie sou gebeur, was hy net so geskok soos die kykers Maandagaand: “Ek het letterlik ’n paar sekondes net daar gesit en gesê: ‘Wat? Nee man, nie Ronnie nie!’ Dis vreemd hoe geheg jy aan ’n fiktiewe karakter kan raak. Dis amper soos om ’n goeie vriend te verloor.”

Maar, voeg Mario by, hy het ook geweet Ronnie se dood is ’n sterk storielyn en dat dit mense gaan tref. “En uiteindelik is dit waarvoor ons daar is: om gehore te laat voel.”

Mario sê Ronnie se lojaliteit was die eienskap wat hy die meeste bewonder het: “As jy syne was, het hy jou beskerm met alles wat hy het. Hy het diep liefgehad, selfs al het hy dit partykeer so lomp gewys dat jy hom wou skud. Hy het sy gesin bo alles gestel, en daardie gevoel van verantwoordelikheid, selfs wanneer dit moeilik was, het ek baie gerespekteer.”

Skemergrond is meer as net ’n storie – dis ’n spieël van ons mense, ons families, ons foute en ons hoop. As Ronnie iets agtergelaat het, hoop ek dis hierdie: dat liefde altyd ’n kans verdien, al maak dit seer.”

Mario Haupt

Lesse en hoogtepunte

Oor wat hy by Ronnie geleer het, sê hy: “Om nie alles vir jouself te hou nie. Ronnie het probeer om alles te dra – die pyn, die skuld en die bekommernis – en dis eenvoudig te veel vir een mens. Ek het by hom geleer dat kwesbaarheid nie ’n swakheid is nie – dis eintlik ’n vorm van vryheid. En dalk ook om te leer luister voor jy ontplof.”

Ronnie, Mario Haupt, Skemergrond
“Die tonele saam met Hazel (Carmen Maarman) en Junior (Ayden October) was altyd spesiaal,” vertel die akteur Mario Haupt oor sy hoogtepunte in die rol van Ronnie in Skemergrond.

Wanneer hy terugkyk op sy tyd by Skemergrond, onthou Mario talle hoogtepunte. “Die tonele saam met Hazel (Carmen Maarman) en Junior (Ayden October) was altyd spesiaal. Daar was regtig ’n gesinsgevoel tussen ons. Ek het ontsettend lief geraak vir Junior, en dit het die rolle selfs meer betekenisvol gemaak,” deel hy.

“Die tonele saam met Lily (Hildegardt Whites) was ook baie sterk en vol emosie. En dan die dae op stel waar almal net saam kon lag. Daardie oomblikke agter die kamera is soms die kosbaarstes. Dis ’n span mense wat ek vir altyd in my hart gaan hou.”

Wat is volgende vir Mario?

Wat die toekoms betref, sê hy: “Ek wil aanhou stories vertel – op die verhoog, op skerm en dalk eendag in boekvorm. Ek wil bly groei en nuwe uitdagings aanpak, maar ook meer tyd hê vir die klein dinge wat jou hart vul: stil oomblikke, goeie geselskap en die dinge wat jou laat glimlag en rus bring.”

Hy sê hy sal graag nog ’n rol speel wat donker en intens is – iemand met ’n geheim of morele dilemma. “Ek hou daarvan om te grawe in die grys areas van mense. Maar ek sal ook nie nee sê vir ’n lekker komedie nie. Dis tyd dat ek ’n rol kry waar ek kan lag en sonder trane aan die einde.”

Vir Skemergrond se kykers het hy hierdie boodskap: “Baie dankie vir julle ongelooflike ondersteuning. Julle het nie net vir Ronnie liefgehad nie – julle het hom verstaan. Jul boodskappe, kommentaar en liefde het regtig my hart geraak. Skemergrond is meer as net ’n storie – dis ’n spieël van ons mense, ons families, ons foute en ons hoop. As Ronnie iets agtergelaat het, hoop ek dis hierdie: dat liefde altyd ’n kans verdien, al maak dit seer.”


Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies