Menu terloops
In Sepies [8 Des 2024]

Sepievoorskou: Ware kleure in ‘Suidooster’, groot marakkas in ‘Diepe Waters’


Een sepie-spiertier het ’n geheime vrou, terwyl ’n ander karakter die waarheid rondom haar eerste liefde uitvind. Lees ons sepievoorskou vir meer oor hierdie week se kinkels.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Ware kleure in ‘Suidooster’, groot marakkas in ‘Diepe Waters’

Hier is waarna jy hierdie week (9 tot 13 Desember) op Suidooster, Diepe Waters en Skemergrond kan uitsien. 

Suidooster 

Verlede week se groot vraag was… wie pla vir Riaan (Niël Coetzee) al die pad van Australië af? Wel, die raaisel word opgelos! Hoewel ek gewoonlik kan raai wat volgende in ons sepies gaan gebeur, is hierdie next level. As ek Bianca (Simone Biscombe) is, hol ek vir die berge, want ken ons ooit vir Riaan ná hierdie onthulling? En wat gaan Kate (Annelisa Weiland) sê, want dit lyk ook nie asof sy weet nie!  

Net toe almal dink dat Nazeem (Irvine van der Merwe) vir Kaashifa (Jawaahier Petersen) in ’n hoek gedruk het, wys sy vir hom (en ons) dat jy nooit tussen ’n vrou en haar baba moet kom nie. Maar ek sal maar wag voordat ek vir haar geluk sê, want ons almal weet hy gaan wraak neem. Hierdie een het hom te veel verneder. Dit is hoekom ek hom nooit sal vertrou nie. 

So gepraat van verneder, ek het altyd gedink Aiden (Theodore Jantjies) is ’n ordentlike mannetjie, maar ek begin nou sterk twyfel, want die bewyse teen hom is net té verdoemend. Wie het dan nou gedink Aiden gaan só uitdraai? Of dalk is ek en  Elana (Esther von Waltsleben) weer te vinnig met ons judgement, ons kyk maar! 

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Diepe Waters 

Rossouw (Altus Theart) is beslis ’n beter mens as ek, want ek vergewe en vergeet nie so maklik nie. Ek staan bankvas agter Anja (Reandi Grey) met hierdie een, want Sanet (Nadia Valvekens) begin my nou ook omkrap. Vir iemand wat so gereeld met gemors sit, maak sy nie die beste besluite nie. Hoekom nou vir Candy (Christia Visser) ’n koningslewe aanbied? Ek verstaan dit nie en Rossouw val ook soos gewoonlik vir die flous. Die vroue smokkel darem maklik met sy kop. 

En daar vind ons toe verlede week uit dat René (Marijke Coetser) se seun ’n Bester is, what a shocker! Gys gaan niks hiervan hou nie! Maar ek sou ook so paniekbevange soos René wees ná die onverwagse ontmoeting hierdie week. Hoe gaan sy seker maak dat pa en seun nie in dieselfde vertrek is nie? Boskruin is te klein om dit te vermy! 

Maar Jacques (Werner Coetser) het groter probleme as René! Hy het gedink hy doen iets goeds en nou is ek bang dat hy een van die dae die liefde van sy lewe in die tronk gaan moet besoek. Hier kom Boskruin se eie weergawe van #loveafterlockup. Hoor wat ek sê… PSTD kan jou snaakse dinge laat aanvang!

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Skemergrond

Jasmine (Khadija Heeger) is die duiwel in vir JP (Charlton George) die week en as julle uitvind hoekom, sal julle onmiddellik verstaan. Ek het empatie met JP, maar ek sou ook soos Jasmine gereageer het. Hierdie tipe geheim is iets wat verhoudings opbreek. JP se gesig toe Jasmine die ander nuus met hom deel was priceless. Nou wag ek in spanning om te sien hoe Christine (Devonecia Swartz) haarself uit hierdie situasie gaan kry met haar kreatiewe leuens. 

Hazel (Carmen Maarman) weet net nie wat op haar wag nie en ek kry haar so jammer. Ek wil glad nie vir Christine as ’n sussie hê nie, dan vat ek maar eerder my kanse met loskop Lily (Hildegardt Whites). 

Ons leer ken Tillie (Deirdre Wolhuter) ’n bietjie beter hierdie week en ek moet erken dit maak my nogal hartseer. Sy verdien nie wat met haar gebeur nie. Maar iets sê vir my ons gaan binnekort haar seun Dirk (Wilhelm van der Walt) ontmoet, want iemand moet vir Willem (Deon Lotz) keer.  

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Mei 2025

Rachelle woeker met haar slinkse planne om Shani te verneder en die matriekafskeid kom al nader. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

‘Diepe Waters’: Dís die storielyne om in Mei dop te hou

Mei bring nie net nuwe wendings nie, maar ook selfontdekking, groei en opwindende moontlikhede in 'Diepe Waters'.

Meer

Redakteurskeuse vir Mei 2025: ‘Bridget Jones 4’, ‘Die brug S2’, ‘Die nuusmakers’ en meer

Wat om te kyk: 'Die nuusmakers', ’n nuwe Afrikaanse drama wat persoonlike en professionele drama in die nuuskantoor in oënskou bring; die gewilde avontuur-realiteitsreeks 'Die brug' se tweede uittog; Tina Fey in 'The Four Seasons', ’n reeks wat raakvat soos min; en Bridget Jones se vierde fliekavontuur – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-gids vir Mei 2025

Aline se landerye vat vlam terwyl sy nog sukkel om die plaas se skuld te delg. En dan word sy boonop amper vergiftig! Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in Mei. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies