Hier is waarna jy hierdie week (13 tot 17 Januarie) op Suidooster, Diepe Waters, Skemergrond en Binnelanders kan uitsien.
Diepe Waters
Ek dink nie ek het al ooit ’n meer patetiese ou as Rossouw (Altus Theart) gesien nie! Hy bly aanjaag, maar speel dan lekker die slagoffer en wil hê almal moet hom jammer kry. Nee man, vat jou pak en los vir Anja (Reandi Grey) in vrede. Rossouw probeer een laaste keer om sy verhouding met Anja te red, maar intussen doen hy iets gevaarlik wat sy gesin nog meer bekommerd maak.
Rossouw is nie die enigste man in die gesin wat moeilikheid het nie. Zelda raak agterdogtig oor René (Marijke Coetser) en Gys (Justin Strydom) se verhouding, veral omdat René duidelik iets vir ouer mans het. Gelukkig vir haar vind sy die antwoord waarna sy gesoek het, maar sonder konteks kan dit haar verhouding met Gys of sterker maak of finaal breek. As ek Zelda was, het ek vir René op haar plek gesit en gesê dit is tyd om op jou eie voete te staan. Maar iets sê vir my dit wat Zelda ontdek, is genoeg om die ou Zelda binne haar wakker te maak!
Fourie (David Louw) neem beheer van sy eie familie, maar hy kan ’n ding of twee by Tommie (Righard van Jaarsveld) leer, want dié lat besluit uiteindelik waarvoor hy staan en sy keuse sal kykers verbaas.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up
Suidooster
Dit is ’n oorlogsone in Ruiterbosch op die oomblik. Al die angs in die lug laat my maag sommer draai.
Die spanning tussen Wade en Damian (Caleb Felix) bereik breekpunt hierdie week, maar op ’n manier wat julle beslis nie sien kom nie! As die waarheid ooit uitkom gaan dit groot implikasies vir Wade se lewe, verhouding en vriendskappe beteken. Ek het mos gesê Damian wil by Tim (Marco Spaumer) as Ruiterbosch se skurk van format oorvat en dít het hy beslis. Ek het wel nooit gedink hy sou vir Wade so omkrap nie. Ek het beter van Wade verwag as om vir ’n rich brat se uittarting te val.
Riaan (Daniel Coetzee) wil nie met Hanli (Celeste Loots) baklei nie, maar die twee sukkel ook om die vrede te hou. Hy kry die idee om berading te doen, maar ek dink nie Riaan is reg vir die waarheid nie. Hierdie tipe ding kan ’n verhouding red of sink en ná Hanli se skokonthulling dink ek nie Riaan is gereed vir berading nie. Maar wie weet, dalk verras hy ons. Kry die drankies gereed vir wanneer Hanli gereed is om te praat. Julle gaan hierdie storie beslis wil hoor!
Ruiterbosch verwelkom ook hul nuutste inwoner en hierdie keer is dit ’n groot feesviering omdat almal al so lank vir hierdie persoon wag.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Skemergrond
Dinge lyk nou baie donker op Everlasting vir die Louw-familie, maar by die blommemark in die Kaap lyk dit asof daar uiteindelik lig aan die einde van Gloria (Hunter Plaatjies) se donker tonnel is. Daardie lig is Kevin (Gershwin Mias), maar Fabian (Marunzo Thomas) hou niks daarvan nie. Beeno (Duncan Johnson) is altyd twee treë voor hulle.
Junior (Ayden October) het ’n deurbraak met sy pa, maar is dit te laat om sy toekoms te red? Christine (Devonecia Swartz) het een laaste toets vir die Louws – gaan hulle dit oorleef?
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
Louis (Germandt Geldenhuys) het groot probleme en moet sy familie uit Pretoria kry, maar sy verbeelding hardloop weg met hom. Joe (Roberto Kyle) help vir Louis wanneer hy iets buite sy karakter doen.
Delia (Odelle De Wet) het vir die eerste keer ’n diep gesprek met At (Hans Strydom) en wat hy vir haar sê het my mond net so groot soos haar mond laat oophang.
Met die Jonker-troue om die draai is daar ’n paar ou gesigte wat kom inloer. Elise (Lindie Stander) probeer haar nuwe man leer ken, maar almal om haar is bekommerd… En met goeie rede!
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.