Menu terloops
In Sepies [14 Mar 2026]

Sepievoorskou: Dit gaan goor in sepieland


Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (16 tot 20 Maart) op ‘Suidooster’, ‘Binnelanders’ en ‘Diepe Waters’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Dit gaan goor in sepieland

Sommige geheime is net te groot om weg te steek en dit is nie lank voordat almal in Ruiterbosch van Rhafiek (Irshaad Ally) se geheim uitvind nie. En ná die skietdrama in Boskruin verlede week, gee een paartjie vir almal iets om oor te glimlag. Maar ongelukkig lyk dinge nog donker in Pretoria by Binneland hospitaal. Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel. 

Suidooster

Die Samsodien-familie sukkel om tot verhaal te kom ná Rhafiek se diagnose, maar as jy gedink het dinge kan nie erger raak nie, het jy nog nooit in jou lewe ’n sepie gekyk nie! Met Moena (Jill Levenberg) se terugkeer, het ek gedink dinge gaan nou darem beter gaan vir Rhafiek met sy ma se ondersteuning. Maar Moena kan soms haar mond verby praat en dit veroorsaak hierdie keer groot probleme tussen die Samsodiens en Octobers. Rhafiek se volgende move is iets wat ek nie verwag het nie, maar ná dit wat Bridgette (Denise Newman) gedoen het, neem ek hom nie kwalik nie. 

Nog ’n moeder is terug in Ruiterbosch, maar iets sê vir my haar teenwoordigheid gaan dinge baie interessant maak! Is Susan (Natasha van der Merwe) regtig gelukkig met haar geskenk of maak sy maar asof sy gelukkig is om die vrede te bewaar? 

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.

Diepe Waters

Vuyelwa (Eve Rasimeni) kry hierdie week haar verdiende loon en ons sien ’n heel nuwe sy van Siseko (Chumani Pan). As Pam (Tracey-Lee Oliver) sy voice note en gesprek saam met sy eks gehoor het, sou sy net so trots soos die kykers gewees het. Dít is mos hoe liefde lyk! 

Rossouw (Altus Theart) het daarteenoor regtig die slegste geluk as dit by die liefde kom. As hy nie ontvoer word nie, word hy geskiet. Leandri (Christel van den Bergh) sukkel met haar skuldgevoelens ná wat met Rossouw gebeur het in die Viljoen Vyf se huis, maar wat beteken dit vir haar verhouding met Rossouw? 

Haar kinders kry ook ’n opdrag uit die tronk uit en reageer presies hoe ek sou! 

In ’n verrassende wending bring Zelda (Sandi Schultz) die opwinding hierdie week met iets wat almal omkant vang – en dít in ’n week wat sy ’n paar nuwe gesigte moet leer ken.

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Binnelanders

Naomi (Je-ani Swiegelaar) se emosies ry dié week wipplank en met goeie rede. Sy kry die beste én slegste nuus ooit. Dit sou vir my te veel wees om te hanteer, maar met haar hart weet ek nie hoe sy hierdie week se opwinding en teleurstelling gaan hanteer nie. Dit is nogal intens! 

Maar sy is nie alleen nie, want met Tertius (Reynard Hugo) se verrassing wat in Pretoria aangekom het, weet die arme man ook nie of hy kom of gaan nie! En om eerlik te wees – ek sou ook nie. Ek weet nie of ek vir hom moet bly wees of hartseer voel nie. Dalk is dit te bietjie te laat. So kan iemand mos nie met ’n ander persoon se hart speel nie. Ons sal maar moet sien wat Tertius nou volgende doen, want daar is nog iemand wat gereed is met ’n mes wat vir sy rug bedoel is… 

Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
30

30 Afrikaanse flieks wat jy vir oulaas op Showmax kan kyk

Met Showmax se dae getel, gaan ons binnekort ’n groot gros Afrikaanse speelfilms, kortprente, reekse en dokkies op dié plaaslike stroomdiens moet groet. Maak dus ’n plan om vir oulaas een van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax te kyk.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Maart 2026

Daar is ’n meer-as-vriendskap-vonk tussen Uys en Nicolette en as Hannah verdwyn, is almal op hol. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Maart 2026

Rhafiek kry skokkende nuus wat die Samsodiens verpletter en Zoë en Angie begrawe – skynbaar – die strydbyl... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Maart kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies