Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (29 tot 3 Oktober) in Suidooster, Diepe Waters en Binnelanders kan uitsien.
Binnelanders
Al wat Naomi (Je-ani Swiegelaar) se mamma-hart soek, is ’n lyfie om lief te hê en iemand om te versorg, en ek besluit nog of Hannah daardie persoon gaan wees. Liewe Hannah word uiteindelik hierdie week deel van hul huishouding, maar soos ek verwag het, is dit nie smooth sailing nie. Ek kan sien hierdie storielyn gaan aan mense se hartsnare trek en laat besef dat daar nie net babas is wat ’n huis nodig het nie, maar ouer kinders ook. En al wil ek hê dat sy by Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi moet opeindig, is daar ’n paar dinge wat die hare op my arms laat rys het. Julle gaan sien dat daar so tussendeur die hartseer ’n paar tekens is dat hierdie dalk ’n Orphan-situasie (daai rillerfliek) kan wees. Waar daar ’n rokie trek, is daar gewoonlik ’n vuur…
Joe (Roberto Kyle) en sy saviour-kompleks gaan hom nog sy werk kos en al is Jess (Erin Patience) die enigste een wat hom kan help, is sy juis die rede dat hy nou in die moeilikheid sit. Ek blameer hom glad nie vir sy reaksies nie, ek sou ewe die duiwel in gewees het, maar nou hoekom nie jouself red toe jy die geleentheid gehad het nie? Soms kan Joe my so kwaad maak en nou weet ek nie hoe hy hierdie aanval gaan kan dodge nie.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Suidooster
Toe Brendan (Caleb Arnolds) verlede week vir Bianca (Simone Biscombe) so groot in die verleentheid gestel het, het ek gedink dit gaan dinge finaal tot breekpunt stoot in die Thuli-huis. Maar Bianca is ’n ma en het regtig ’n groot hart om dit sommer sonder vrae te vergewe. Sy is beslis ’n beter mens en stiefma as wat ek sou wees, want ek gee nie om hoe moeilik dit vir jou is om aan te pas nie, ek sou seker baie kwaad gewees het ná so ’n voorval.
Ongelukkig vir almal in die Thuli-huis was daai maar net vir sports! Hierdie week neem Brendan dinge te ver en speel hy hierdie keer met lewe en dood. Julle gaan nie glo wat hy nou aanvang nie! Hierdie is onvergeeflik in my oë en dalk is dit presies wat hy wou hê. As hy nie oppas nie, is hy die volgende Carlo (Jadon Booysen) en hy weet tog hoe aaklig Carlo die lewe vir almal rondom hom gemaak het. Dit is tog hoekom hul vriendskap dit amper nie gemaak het nie. Maar op die oomblik lyk dit asof Brendan geen beheer het nie en ek verstaan hoekom Siya (Gantane Kusch) nie sy kind herken nie.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Skemergrond
Anders as met die ander sepies, is dit nie die kinders wat in Gemoedsdrift speletjies speel en mense seer maak nie, dit is juis die grootmense wat hulle soos kinders gedra! Ek wens soms ek kan namens die Louws en almal by die huis vir Christine (Devonecia Swartz) sommer deur my TV klap.
Dié vrou het geen perke nie en laat ou Wengrid van Arendsvlei soos Aspoestertjie lyk. Ek het nooit gedink ek sou ’n groter heks as Wendy sien nie, maar Christine dra beslis daardie kroon met trots. Hierdie vrou is boos verby! Geen wonder Ronnie (Mario Haupt) doen wat hy hierdie week doen nie. Hoe meer desperaat wil sy hê moet die arme man wees? En ongelukkig val Ronnie elke keer in die lokval wat sy vir hom stel. Dit is so frustrerend om te sien, en Hazel (Carmen Maarman) kan ook ’n bietjie meer empatie wys, al is dit sy eie skuld. Ek weet die Louws probeer net hul familie beskerm, maar is Ronnie dan nie ook familie nie?
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.