Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (13 tot 17 Oktober) in Suidooster, Diepe Waters en Binnelanders kan uitsien.
Diepe Waters
Die twee sussies is weer in die middel van die drama hierdie week in Boskruin, maar vir verskillende redes. Ek was heel verbaas om Anja (Reandi Grey) met hierdie nuwe kant van haar persoonlikheid te sien. Ek kon nie besluit of dit cringe of oulik is nie. Anja kry ’n groot verrassing en mens sien ’n hele sy van Anja wat ons nog nooit gesien het nie! Hier kom groot sports. Ek wonder of die kykers hul gelukkige einde gaan kry en of dit net nog ’n kinkel in die kabel is…?
Maar terwyl Anja op ’n wolk sweef, is die duiwel weer besig om vir Sanet (Nadia Valvekens) beet te kry. Ná haar verhouding voor ons almal se oë ontplof het, sukkel sy om die stukke op te tel. En dan kom spook haar ou bestie van die verlede ook nog by haar. Ek hoop nie dat Sanet al haar harde werk gaan weggooi oor ’n man nie. Ek was regtig geskok toe sy na haar ou gewoontes terugkeer, maar soms is die lewe seker net te moeilik om goeie besluite te neem. Wie gaan vir haar uitkyk? Of gaan sy net meer (slegte) aanmoediging kry?
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
Nadat Annetjie (Lorainne Burger) die papiere gekry het, het ek gedink Joe (Roberto Kyle) se probleme is iets van die verlede, maar lyk my nie so nie.
Een ding is seker – almal het ’n Nicolette (Kate Roothman) in hul lewe nodig. Iemand wat tot die bitter einde vir jou gaan veg. As sy eers haar lady boss-broek aantrek, kry ek dadelik my popcorn gereed. Sy lewer weer ’n masterclass hierdie week in hoe om mans en hul ego’s te takel. Nicolette is mos nie bang om haar mond oop te maak nie, en ek love dit.
Ongelukkig is daar meer as een bom in Joe se lewe wat dreig om in sy gesig te ontplof. Hy mag dalk gevoelens vir Anya (Nadia Beukes) ontwikkel het, maar soms is dit die mense vir wie jy die meeste omgee wat jou die seerste maak.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Suidooster
Wade (Dean Smith) moet tussen lojaliteit en vriendskap kies en ons almal weet van sy flat-dae saam met Angie (Char Carrie) dat mense hom maklik ’n gat in die kop kan praat. Wade neem groot besluite hierdie week en nie almal gaan in sy guns werk nie. Ek wil soms vir hom ’n lekker klap deur die skerm gee sodat hy kan wakker skrik, maar dalk verras hy ons dié keer! Ek hoop net hy besef dat as jy lojaliteit by die verkeerde mense gaan soek, hulle altyd hul pond vleis een of ander tyd gaan terugeis. En dan beter jy kan opdok! Hier kom groot moeilikheid, want ’n luiperd verander nie sommer van kolle nie…
Ten minste leer Kaashifa (Jawaahier Petersen) van haar foute, maar eers sorg dit vir ’n lekker giggel. Ek het so lekker gelag, want die uitdrukking op hul gesigte met haar blapsie was priceless.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.







