Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (2 tot 6 Junie) in Suidooster, Binnelanders, Diepe Waters en Skemergrond kan uitsien.
Diepe Waters
Gys (Justin Strydom) verbeel hom weer dat hy Boskruin se grootse casanova is, maar dit laat hom eerder meer desperaat lyk as enigiets anders. Veral omdat die dames almal jonger is en meer ’n match vir sy seuns sou wees as vir hom! Maar wie is ek om te praat? Ouderdom tel seker nie meer so baie nie. Maar al is sy kinders nie juis opgewonde of oortuig oor sy nuwe verhouding/loslappie nie, is alle oë hierdie week op ’n ander Swarts se verhouding.
Pam (Tracey-Lee Oliver) en Siseko (Chumani Pan) se trou-week is hier, maar alles is nie soos wat dit moet wees nie. Pam glo sy het die persoonlikheid en kwaliteite om die volgende Xhosa-koningin te wees, maar nie almal is oortuig nie! Sal sy nes Anja (Reandi Grey) en Zelda (Sandi Schultz) nog ’n Boskruin-bruid wees wat nie haar sprokieseinde kry nie of is Pam Boskruin se eie Aspoestertjie?
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Suidooster
Lee-Ann (Portia Joel) en Bridgette (Denise Newman) mag dalk susters wees, maar mens sou nooit sê dat hulle in dieselfde huis grootgemaak is nie. Lee-Ann gee om vir haar medemens, kies altyd familie bo besigheid en het so baie empatie al verdien mense dit nie altyd nie. Bridgette stel familie eerste as dit by haar planne inskakel, the show must always go on wanneer dit by besigheid kom, en ek sou nou nie juis sê dat sy almal met ope arms verwelkom nie… Vra maar vir Wade (Dean Smith).
So al weet sy hoe sy die situasie met Nazeem (Irvine van der Merwe) wil hanteer, word haar planne vinnig in die wiele gery op ’n manier wat haar die seerste gaan maak. Dit is nogal briljant. En al is Lee-Ann nie so agterbaks soos haar suster nie, kan sy ook maar lekker tergend wees wanneer sy lus het. Veral wanneer sy vir Bridgette ’n les wil leer! Ek kan nie wag om te sien hoe hierdie een uitspeel nie.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Binnelanders
As ek Delia (Odelle de Wet) was, sou ek in ’n hoekie wou verdwyn en daar sit en huil totdat ek nie meer ’n gedagte in mense se koppe is nie. Nee, kyk, so kan die Here jou nou ook nie straf nie. Dié vrou weet nooit wanneer genoeg genoeg is nie en nou is dit amper te laat. Kykers vind uiteindelik uit wie agter die hacking sit, maar julle gaan glad nie kan raai wie dit is nie. My mond het oopgehang! Dit wys jou weer jy kan niemand vertrou nie. En ongelukkig is dit meeste van die tyd die mense naaste aan jou wat jou hart die ergste breek. Dit is nou ’n lekker raaisel, want meer as een persoon lyk skuldig… Maar julle gaan moet inskakel om die regte misdadiger te onthul. Ongelukkig lyk dit asof Delia se reputasie nie hierdie skandaal gaan oorleef nie.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Skemergrond
Ek het mos gesê Christine (Devonecia Swartz) se kuiergas gaan meer as net ’n bed wil hê. Haar ma, Sonja (Lee-Ann Van Rooi), kuier by haar op die oomblik. Skynbaar om hul band te versterk, maar haar mooipraatjies hou nie lank nie. Dié vrou sal mos haar siel vir ’n R5 verkoop! So daar was geen hoop dat sy die regte ding vir haar dogter sou doen nie. Christine hou nog vas aan daardie hoop, maar hierdie nuwe verwikkelinge gaan regtig hul verhouding toets. Ek wonder of Sonja geld bo haar dogter se geluk gaan kies…
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.