Hulle het ons laat skaterlag, die trane – en soms ook die snot – laat loop. Hulle het ons die hele jaar op die punt van ons stoele gehou en seker gemaak dat ons dag ná dag vir nog aksie, intrige en romanse inskakel. Ons plaaslike sepiesterre verdien deur en deur ’n einde-van-die-jaar-blaaskans om te ontspan, boek te lees of net met geliefdes leeg te lê.
terloops het met ’n paar van ons gunsteling-sepiesterre gesels oor 2022, feestyd-tradisies en waarna hulle hierdie vakansie uitsien.
Die jaar was lank! Hoe ontspan jy gedurende die feestyd en waarna sien jy die meeste uit?
Maude Sandham (Gaby in Binnelanders): “Ek gaan na een of twee buitelugfeeste toe vir ’n lekker dansie en ’n jol. Maar meeste van die tyd wil ek lang luilekker resepte kook, langs die swembad met ’n drankie in die hand lê, saam met my familie flieks kyk, en in my nuwe tuin werk.”
Luandri Reynders (Karen in Binnelanders): “Ek ontspan deur Playstation te speel. Ek leef myself altyd so in dié wêreld in. Maar ek sien die meeste uit om tyd saam my familie en vriende te spandeer. Ons kry nie baie tyd saam mekaar deur die jaar nie, so ek is baie opgewonde om almal te sien.”
Merlin Balie (Hein in Arendsvlei): “Ek sien die meeste uit om te braai, vis te vang, wynplase te besoek en tyd saam met my familie en vriende te spandeer.”
Jarrid Geduld (Bompie in Arendsvlei): “Dit was beslis ’n baie besige jaar, om eerlik te wees, dit het so vinnig verbygevlieg dat ek skaars kans gehad het om te gaan sit en dink, soos wat ek graag sou wou. Hierdie feestyd beplan ek en Vashti (Prins, sy meisie wat die rol van Danni in Suidooster vertolk) om lang perdritte te doen en ’n heerlike buitelugpiekniek of twee iewers afgesonder te hê. Maar waarna ek die meeste uitsien, is om op ’n vliegtuig te klim en vir vyf dae Sun City toe te vlieg.”
Justin Strydom (Gys in Diepe Waters): “Feestyd is familietyd. Dit is die enigste tyd wanneer ons as familie werklik tyd saam kan spandeer. Ons gaan games speel, van tafeltennis regdeur tot ons gunsteling bordspeletjies. Movies is ook ’n moet, met popcorn en coke. En ook ’n bietjie uiteet. Dit is hoe ek wil ontspan.”
Simone Biscombe (Bianca in Suidooster): “Ek sien hierdie jaar baie uit na rustigheid en samesyn.”
Natasha van der Merwe (Susan in Suidooster): “Dit was ’n lang jaar, maar ’n goeie een. Ek sien uit om te chill en die sonkyn met ’n lekker boek te geniet. Ek kry nie altyd tyd om dit te doen nie. Ek sou weggegaan het, maar nou moet ek ’n bietjie werk. So dit gaan ’n bietjie werk en ’n bietjie chill moet wees.”
Eloise Cupido (Rose in Diepe Waters): “Ek het hierdie jaar ’n klein breuk van TV, maar ek werk op radio. Ek gaan gewoonlik nie weg nie, so ek gee nie om nie. Dit is ’n duur oefening om uit Gauteng gedurende die Kersseisoen te kom. Maar met almal wat weg is, is die stad lekker rustig en kan ’n mens restaurante en ander plekke gaan besoek. Ek is nie ’n groot langs-die-see-lê-mens nie, so dit is nie regtig ’n groot vermissing vir my dié tyd van die jaar nie. Ek gaan eerder op ’n ander tyd as daar nie so baie mense is nie. Ek kan ook nie wag vir ’n paar dates saam met my man nie en tyd saam met my seun en vriende.”
Wat is een ding wat jy nié saam met jou in 2023 wil inneem nie?
Maude:“Definitief 2022 se petrolpryse!”
Luandri: “My kar! Dis nou al amper vier jaar wat ek ʼn love/hate relationship met my kar het. Die mense wat my goed ken, sal verstaan hoekom ek dit sê. Baie soos my karakter Karen, sukkel ek ook met karprobleme. Daar is altyd een of ander iets wat gebreek het. Dit hou net nooit op nie. Ek is baie lief vir Stella, maar dit is tyd dat ons paadjies nou skei!”
Jarrid: “Ek het hierdie gewoonte om slegs vir werkdinge te beplan! So hopelik kan ek in 2023 my werksetiek en beplanning ook in my persoonlike lewe implementeer, eerder as om impulsief of op die dag besluite te neem.”
Simone: “Ek werk baie hard aan my fisieke en emosionele gesondheid, so ek kan nie langer ander se probleme hanteer asof dit myne is nie. Natuurlik sal ek altyd daar wees vir mense, maar in die verlede sou ek ander se probleme in my lyf en gedagtes ronddra asof dit met my gebeur en myself heeltemal afskeep.”
Natasha: “Ek wil nooit weer in my lewe ’n masker sien nie, haha! Maar ek dink skuldgevoelens kan ook agterbly. ’n Mens voel soms skuldig omdat jy té veel of nie genoeg presteer nie. Soms is dit omdat jy nooit genoeg verlof vat nie. Wat ook al dit is, dit is iets waarop ek wil werk. Ek wil nie skuldig voel as ek ’n bietjie televisie wil kyk of boek wil lees nie.”
Eloise: “Ek poog altyd om my tydbestuur te verbeter. Dit is iets wat ek nogal uitdagend vind. Ek dink altyd ek kan ietsie vinniger doen as wat dit vat en dan brand ek vas. Een ding wat ek nie met my in 2023 gaan inneem nie, is om ja te sê vir dinge wat nie my prioriteite voed nie. As jy jou prioriteite te wyd versprei, kry die goed wat dit regtig nodig het en wat vir jou saak maak, nie altyd die nodige energie en passie van jou af nie. Ek is baie dankbaar as ek ’n aanbod kry, maar ek dink nie alles is ewe belangrik nie. Ek dink my tydbestuur sal verbeter as my prioriteit-bestuur verbeter. Geld, so skaars soos wat dit vir mense voel, kan jy weer terugkry, maar tyd kan jy nie.
Wat is een tradisie onder jou familie of vriende wat jy nooit wil vergeet nie?
Jarrid: “Die feestyd kom met soveel tradisies, maar die belangrikste een in my boek is om Kersdag saam met die hele familie te vier. Al die tannies, ooms, neefs en niggies wat die hele dag en nag saam in een huis feesvier.”
Justin: “Ons is nie almal altyd saam gedurende Kersfees nie, en daarom maak ons ’n punt om mekaar Kersoggend te bel. Ek en my gesin hou daarvan om Kersdag ’n movie te kyk.”
Maude: “Ek en my sussie kyk elke jaar The Gringe Who Stole Christmas en eet te veel tjoklit.”
Watter TV-reekse wil jy graag tydens die vakansie binge?
Luandri:“The Crown se vyfde seisoen en Tali’s Joburg Diary op Showmax.”
Merlin: “From Scratch en Chosen.”
Natasha: “Grey’s Anatomy en The Royals.”
Simone: “Hopelik niks! Daar is baie ander lekker dinge om gedurende die vakansie te doen, veral omdat ons as Suid Afrikaners bevoorreg is om die einde van die jaar gedurende somer te vier.”