Menu terloops
In Sepies [23 Mei 2022]

Sepies: Witwarm storielyne dié week


Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne hierdie week. Moenie dié hoogdrama misloop nie.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Witwarm storielyne dié week

Suidooster

Waar daar ’n rokie trek, is daar gewoonlik ’n vuurtjie en ons almal weet Tim is glad nie so innocent soos wat hy gewoonlik voorgee nie. Zoë (Lauren Joseph) was woedend toe sy verlede week ’n onbekende bril onder haar man Tim (Marco Spaumer) se motor sitplek gevind het. Dalk was dit net ’n kliënt of vriendin se bril wat in die motor agter gebly het…Altans, dit was Tim se flou verskoning. Maar nes  Zoë se geliefde Auntie B, Bridget October (Denise Newman), glo ek daardie storie glad nie. En dít nadat Zoë reeds vermoed dat hy haar verneuk het ná sy sjampanje-aand in ’n hotel. Tim vind altyd ’n manier om die slagoffer te speel en hierdie keer het hy homself weer goed van sy taak gekwyt. Wéér het hy vir arme Zoë oortuig dat dit alles net háár insecurities is (hallo gaslighting!).

Soos ons haar ken, gaan Bridget dit nie daar los nie, al lyk dit asof Zoë vir Tim vergewe het. Sy sal haar eie ondersoek doen, maar wat presies gaan Bridget uitvind? Hoe gaan Tim homself uit hierdie een wurm? Of sal Zoë finaal met hom klaar wees? Dalk vertel hy die waarheid. Enigiets is mos moontlik in Ruiterbosch.

Kyk Suidooster op DStv Online.  

Binnelanders

Meeste mense is mal daaroor om haar te haat en dis ook nie asof sy dit moeilik maak nie. Min karakters klim onder kykers se vel soos dr. Annelize Roux (Cindy Swanepoel). In plaas daarvan om haarself skaars te hou tot die stof gaan lê ná die skokkende Koster-exit verlede week, is Annelize reeds met nóg skelmstreke besig. Hierdie keer probeer sy haar goeie vriend dr. Steve Abrahams (Clint Brink) oortuig om geld vir die Thusanang-brandeenheid te aanvaar. Dit klink soos ’n ongelooflike geleentheid… Behalwe dat die werkers van die mynmaatskappy wat die geld wil skenk ’n regstappe teen hul werkgewer begin het.

Steve wil niks daarmee te doen hê nie – veral nie terwyl hy steeds sleg voel oor sy stemmery teen Conrad (Hykie Berg) en At (Hans Strydom) nie. Hy waarsku vir Annelize om weg te bly van dinge wat Binneland se reputasie verder kan beskadig, maar sy glo vas dat dit goeie publisiteit kan wees.

Maar iets sê vir Steve dat hierdie plan van Annelize in hul gesigte gaan opblaas. Kykers weet natuurlik dat Annelize nie daarvan hou om verkeerd te wees nie en as sy eers ’n idee in haar kop gekry het, sal sy enigiets doen om dit te laat gebeur…selfs haar fixer betrek. Dinge gaan nie makliker vir Annelize raak nie, veral nie met Tertius en Conrad wat albei vir haar met valkoë dophou nie. Maar sal sy na Steve luister of gaan sy agter sy rug konkel? Sal Steve dalk sy fout besef en saam met Conrad werk om Annelize te keer?

Die geveg vir beheer oor Binneland is nog lank nie verby nie en ons wag almal in spanning om te sien wat At volgende gaan doen.

Kyk Binnelanders op DStv Online.

Arendsvlei

Binnelanders se Annelize mag dalk vir mense verkeerd opvryf, maar wat van Arendsvlei se Ingrid Van Schalkwyk (Rehane Abrahams)? Dit gons al weer behoorlik op sosiale media nadat arme Angel (Chelsea Thomas) uitgevind het dat sy swanger is met Priester (Whaden Johannes) se baba. En al het Angel haar eie swangertoets gedoen om dit te bevestig, wonder ek tog of die slinkse Ingrid nie iets met die uitslae te doen gehad het nie… Dit sou beslis nie ’n skok wees as ons uitvind dat Ingrid die toets vervals het nie! Maar vir nou is Angel swanger en ongelukkig het Ingrid uitgevind. Dit gaan beslis ’n impak het op Angel se planne om Arendsvlei te verlaat. Maar wat gaan Priester sê? En hoe gaan sy uit Ingrid se kloue wegkom?

Met sy onvanpaste opmerkings, komplimente oor haar klere en die foto’s wat hy skelm van haar neem, broei daar beslis iets vreemds wanneer dit by Arendsvlei se nuwe leerder Morne (Marunzo Thomas ) kom. Is sielkundige Alta-Marie (Roeline Daneel) veilig, of is dit die eerste tekens van ’n stalker? Hopelik sit ons nie een van die dae met nog ’n naelbyt-gyserlaarsituasie nie, maar hier kom verseker moeilikheid.

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies