Menu terloops
In Sepies [4 Jul 2022]

Sepies: Wie gaan dié week hul vingers verbrand?


Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne hierdie week. Moenie dié hoogdrama misloop nie.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Wie gaan dié week hul vingers verbrand?

Eks-mans, nuwe mans en verlore broers. Die vroue in Sepieland het hul hande vol met die mans in hul lewens. Dit lyk vir my so asof hulle nie mét of sonder die mans kan klaarkom nie. Wie gaan dié week hul vingers verbrand? Sepies op ons radar vandeesweek sluit in Arendsvlei, Suidooster en Binnelanders.

Binnelanders

Dr. Annelize Roux (Cindy Swanepoel) is geen engel nie, maar as dit by die mans in haar lewe kom, kry ek haar soms verskriklik jammer. Hulle wil haar altyd uitbuit, of in die steek laat. Maar dalk is dit karmavir al die agterbakse, en selfs kriminele, dinge wat sy aanvang.

Maar selfs ’n slinkse persoon soos Annelize verdien om liefde (en familie) te vind, maar albei broers wat sover opgedaag het, wou eintlik net haar geld hê.  Ai, ek het nie geweet of ek haar moet bejammer, of “kry vir jou!” moes sê, toe die nuwe super ongevalle-eenheid én haar vertroue in haar halfbroer Wessel (Emile Hager) in haar gesig verlede week ontplof het nie.  

Die hele raaisel rondom die bouperseel se ontploffing, is vreemd. Ek kry die gevoel dat Annelize se bestie, Delia (Odelle de Wet), en die “nuwe” man in haar lewe, Dawid (Deon Lotz), agter alles sit. As ’n man elke aand by my wil kom kuier en kos aandra om my ’n rat voor die oë te draai, kan hy maar sy steaks hou! Anders as Annelize, val ek glad nie vir Dawid se besorgdheid nie.

Maar hoekom is At nou skielik terug? Is Wessel regtig nie betrokke nie? Gaan Annelize en die res van die bestuur tog die grond aan Delia se maatskappy vir R10 miljoen verkoop? 

Kyk Binnelanders op DStv Online

Suidooster

Geskroef! Dit is presies wat Zoë (Lauren Joseph) is, nadat sy besluit het om haar desperate man Tim (Marco Spaumer) in plaas van haar geliefde Aunty B (Denise Newman) te bel.

Ek het sommer geweet toe sy daardie benoude oproep maak dat Tim die een gaan wees wat opdaag. Hulle moet mos vir hierdie slang nog ’n manier gee om homself terug in Zoë se lewe in te wurm.

Hoekom kon sy nie net ’n bemagtigde vrou wees wat ’n aand van pret saam met haar vriendin geniet en later die man huis toe stuur nie? Hoekom moes sy hom nou vermoor en haar eksman bel? En dié lat gee haar toe boonop nog die slegste advies nog… Ek het verlede week weereens besef dat as ek ooit iets onwettig moes doen om myself te beskerm, is my eerste oproep na die polisie. Mense laat jou snaakse dinge aanvang en nou lyk dit asof Zoë tog haar stylvolle klere vir oranje overalls gaan moet ruil.

Plaas sy vir Bridgette gebel het, wat al ’n hele paar mense suksesvol laat “verdwyn” het. Sy sou presies geweet het wat om te doen en hulle sou beslis nie al die volgende dag die lyk gevind het nie.

Gaan Zoë se senuwees dit hou as die polisie weer hierdie week aan haar deur kom klop? Sal Tim dalk die romantiese ding doen en die pak vir Zoë vat?

Kyk Suidooster op DStv Online.

Arendsvlei

As Angel (Chelsea-Faith Thomas) nie dié week haar stem vir Priester (Whaden Johannes) dik maak nie, verloor Arendsvlei ’n kyker, want so kan dit nie aangaan nie. In watter jaar dink Priester lewe ons, dat hy dink hy vir sy vrou kan besluit of sy mag werk of nie? Dan moet sy nog elke aand in sexy onderklere vir hom in die kamer wag. En as hy nie sy sin kry nie, dan maak hy haar aspris naar. Ek kots sommer op so ’n niks van ’n man. Dalk leer hy dan sy les en respekteer hy ’n slag sy swanger vrou. Ek hoop Angel sit haar voet neer en besluit om eerder ’n lewe met Daniël te bou. Maar jy kan ook maar net hoop!

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies