Menu terloops
In Sepies [23 Jan 2023]

Sepies: Sanet verloor greep op ‘perfekte’ familie in ‘Diepe Waters’


Die storielyne in sepieland raak nou so ingewikkeld dat jy nie waag om ’n enkele episode te mis nie of jy sit dalk net die pot mis! En verlede week is ons weer herinner dat persepsies nie altyd met die realiteit strook nie. Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne dié week.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Sanet verloor greep op ‘perfekte’ familie in ‘Diepe Waters’

Waar is At? Wie is Xander nou regtig? Gaan Zoë en Nazeem liefde bymekaar vind? Gaan Johan vir Nina verkrag? Hierdie is net ’n paar van die vrae wat in my kop maal. Hopelik kry ek hierdie week antwoorde. Sepies op ons radar hierdie week is Arendsvlei, Suidooster, en Diepe Waters.

Arendsvlei

Dit het gelyk asof Beatrice (Jolene Martin) ’n aar gaan bars toe die DNS-toetse se uitslae gelees is en  Anthony (Terence Bridgette), heel opgewonde, vir hulle almal wil drukkies uitdeel. Die man het geen simpatie getoon nadat hul lewens basies in hul gesigte opgeblaas het nie. En asof hierdie skok nie groot genoeg is nie, het Anthony ook nie vir hulle toegelaat om vir hul ma te vertel nie. Gertie (Celeste Matthews Wannenburgh) is woedend oor die nuus. Nou lyk dit asof Gertie verdwyn het, nadat sy haar kinders goed laat verstaan het dat sy hulle nooit weer wil sien nie. Sjoe, Anthony het binne enkele dae dit reggekry om ’n gehegte familie uitmekaar te skeur. Praat van ’n wrecking ball!

Maar die Cupidos beter ook wakker slaap, want Xander (Ayden Croy) is glad nie wie hy voorgee nie. Hy is kop in een mus met Bompie (Jarrid Geduld) en het glad nie Anton se hart gekry nie. Ek weet nog nie wat sy planne is nie en nog minder hoekom hy wraak soek, maar as hy sy wil kry, gaan iemand nog met hul lewe betaal.

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Suidooster

Uh…em…ptsh…shhh… Stop alles, want Angie (Char Carrie) is terug! My bloeddruk het net so hoog soos Wade (Dean Smith) s’n gestyg toe ek sien dat Angie weer in Ruiterbosch is. Sy moet maniere leer, want Wade kan skaars ’n sin uitkry, dan kap sy hom af en storm sy uit met ’n “toodles!” Sy kan gerus weer verdwyn, want na al die onlangse drama het ek nie nog krag vir haar drama nie.

Sy het Wade se hele lewe omgekrap en toe vir hom sonder geld en met ’n gebreekte hart in hul duur flat sonder meubels – of elektrisiteit – gelos. Sy verdien nie ’n ou soos Wade nie, maar gelukkig hoef Wade nie te sleg te voel nie. Angie wil mense laat dink dat sy met haar gat in die botter geval het, maar in plaas van die madam van die huis wees, is sy maar net die nanny. Ek het so lekker gekry toe Carlo (Jadon Booysen) daai stukkie inligting deel. Kinders kom altyd uit met die waarheid.

Ek het gedink Zoë (Lauren Joseph) is slimmer as dit, maar selfs nadat sy vir Nazeem (Irvine van der Merwe) uitgevang het, het sy weer vir sy mooipraatjies en goedkoop lekkers geval.  Tim (Marco Spaumer) beter oppas, want een van die dae slaap hy alleen.

Kyk Suidooster op DStv Online.

Diepe Waters

So gepraat van slinkse mense: Johan (Liam Bosman) is ’n regte psigopaat.  Sy obsessie met mense en sy woede is baie meer as net steroïde of jaloesie. Die manier hoe hy vir Nina (Reze-Tiana Wesels)  dopgehou het en vir haar buite die toilette gewag het, is siek. Daai wilde kyk in sy oë en daai effense glimlag op sy gesig het my aan die gesigsuitdrukkings van reeksmoordenaars in true crime-dokkies laat dink. Ek hoop Tsepho (Johnny Potsanyane) betrap hom en red vir arme Nina voor dit te laat is. Haar ma is mos ’n prokureur en ek hoop hulle vat regstappe teen Johan, sodat hy ’n les kan leer.

Sanet (Nadia Valvekens) se perfekte familie val uitmekaar uit. Haar dogter wil nie meer swem nie, haar seun is dalk ’n steroïede-verslaafde verkragter en haar man knyp die kat in die donker met haar eie suster. Sjoe, Sanet is geen engeltjie nie, maar hierdie omstandighede sal enigiemand tot drank kan dryf.

Kyk Diepe Waters op Catch Up en DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies