Die moederhenne in Sepieland het verlede week ’n warrelwind van drama saam met hulle gebring. Tussen Natalie (Carmen Maarman) in Arendsvlei, Sanet (Nadia Valvekens) in Diepe Waters en Nelia (Joanie Combrinck) in Suidooster, is hulle besig om alles deurmekaar te krap. Ek weet nie hoe die mense rondom hulle dit gaan uithou nie, maar kom ons kyk watter van hierdie verhoudings gered kan word. Die sepies op ons radar hierdie week is Diepe Waters, Suidooster, Arendsvlei en Binnelanders.
Diepe Waters
Ek dink nie ouers besef altyd watter groot impak hul woorde en dade op hul kinders het nie. Sanet is nou ’n goeie voorbeeld van ’n ma wat dink dat sy in haar kind se beste belang optree, maar eintlik breek sy daai kind bietjie vir bietjie af.
Arme Karla (Daniëlle Swanepoel) se selfbeeld word elke liewe dag deur haar ma en onbeskofte oupa geknak. Daai kind is al so ’n senuweewrak dat dit my glad nie verbaas dat sy aan ’n eetversteuring ly nie. My geestesgesondheid sou ook ly as ek ontneem word van alles wat vir my ’n bietjie vreugde bring. Ja, sport kan deure vir jou oopmaak, maar ’n kind moet ook darem ’n kind kan wees.
Dit voel vir my asof Sanet haar eie tekortkominge agter haar dogter se prestasies probeer wegsteek. Rossouw (Altus Theart) probeer sy dogter help en beskerm, maar sy brat van ’n seun Johan (Liam Bosman) is altyd gereed om jou onder die bus te gooi. Daai een kort ’n lekker taai klap! Sanet is hardegat en vinnig om op haar perdjie te klim, maar my advies vir haar en haar skoonpa is dat as jy dit wil uitdeel, moet jy dit kan vat!
Kyk Diepe Waters op Catch Up en DStv Online.
Suidooster
Iemand wat nou regtig nie meer tyd het vir mense se oordeel nie, is Elana (Esther von Waltsleben). Nelia het gedink sy gaan met Elana se kop kom smokkel, maar Elana was reg vir haar. Sy gaan geen nonsens in haar stad duld nie. Ek het gedink Nelia kom in vrede ná haar man se dood, maar sy wil obviously nie dinge tussen haar en Elana regmaak nie.
Elana se mure is op en wie kan haar kwalik neem? Haar ouers het dan vir haar gesê het sy is vir hulle dood omdat sy met ’n vrou getrou het. Dít is wreed en ’n mens vergeet nie sommer daai pyn nie. Dit kan ook nie oornag vergewe word nie. As Nelia regtig ’n verhouding met haar dogter wil hê, beter sy haar woorde mooi kies… Én alle dele van haar dogter aanvaar. Ek verstaan hoekom Elana nie vir haar ma wil vertel van haar egskeiding nie, maar shame, ek voel nogal vir Justin (Eden Classens) wat moet kyk hoe sy meisie saam met haar eks huisie-huisie speel.
Kan hierdie ma en dogter se verhouding gered word? Ons sal maar moet sien hoe dinge dié week uitspeel.
Kyk Suidooster op DStv Online.
Arendsvlei
Daar is die ma wat te veel omgee en dan is daar die ma wat net vir haar eie geluk lewe. Natalie verdien regtig nie die titel van ma nie! As iemand haar nie vinnig keer nie, gaan sy haar seun se bakkery en nalatenskap heeltemal vernietig. Die vrou doen net wat sy wil en ek is nou gatvol van haar arrogansie.
Hoekom gaan sien Hein (Merlin Balie) nie ’n prokureur nie? Ek wens hy vat haar hof toe en leer vir haar ’n les. Ek sou orals krap totdat ek ’n manier of loophole vind om haar uit te kry. En wie het vir haar gesê die mense in die Vlei wil ’n vegan-spyskaart hê? Ek is nie verbaas dat mense haar nuwe sjef se kos teruggestuur het nie. Sy moes beter marknavorsing gedoen het, want selfs ek weet dat ’n vegan-bakkery nie in die Vlei gaan geld maak nie. Anton draai in sy graf om!
Kyk Arendsvlei op DStv Online.
Binnelanders
Die hel is dié week in Binnelanders los met Tracy (Melinda Brink) en Lukas (André Lötter) wat agter Conrad (Hykie Berg) se rug die kat in die donker knyp. Conrad gaan Lukas se nek omdraai as hy hulle vang en dit is presies wat ek ook sou doen. Ek het onlangs sleg gevoel vir Tracy wat heeltyd Conrad se aandag moet deel. Maar hoe kan sy vir hom van ontrouheid beskuldig en dan gaan doen sy dieselfde! Nee, wat Tracy, jy het nou ongelukkig jou eie bed gemaak.
Kyk Binnelanders op DStv Online.