Menu terloops
In Sepies [30 Jan 2023]

Sepies: Lewens – en harte – op die lyn


Dit was net koeëls en vonke waar jy kyk in ons sepies verlede week.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Lewens – en harte – op die lyn

Daar is mense wat hul lewens, en ander hul harte, verloor het. Dít was net ’n voorsmakie van die drama wat op pad is. Sepies op ons radar vandeesweek is Binnelanders, Suidooster en Arendsvlei.

Binnelanders

Die een oomblik laat Lexi (Kisha Skei) my skuldig voel omdat sy die jaar afskop met ’n nuwe fiksheidsroetine – als van joga tot draf – terwyl ek Netflix en chill. Maar die volgende oomblik sak sy inmekaar. Dit is hoekom ek maar eerder nie oefen nie! Die dokters sukkel nog om ’n diagnose te kry, terwyl arme Steve (Clint Brink) en Bronwyn (Kim Cloete) siek van bekommernis is. Dalk is dit soos Zee (Mila Guy) vermoed en het Lexi iets vreemds op haar drafroete teëgekom. In sepieland is enige iets mos moontlik.

Ek kry Karen (Luandri Reynders) jammer, maar ek sou ook so woedend soos Gaby (Maude Sandham) gewees het as my beste vriendin se skelmstreke tot my pa se dood gelei het. Gaby se pa was nou ’n textbook-geval van op die verkeerde tyd op die verkeerde plek wees. Hy was in die hospitaal die dag toe Binneland in die parkour chase-toneel uit Casino Royale verander het. Die sindikaat was uit vir bloed, maar die polisie was op hul spoor en dit het in ’n skietgeveg geëindig. Die see kon Karen nie afwas soos Gaby haar sleggesê het nie.

Maar net toe Conrad dink dat die skietgeveg in Binneland die mees dramatiese gedeelte van sy week is, daag sy verlore “moeder’’ op. Soekie (Antoinette Kellerman) beweer sy en At (Hans Strydom) is 40 jaar gelede binne gemeenskap van goedere getroud, maar het nooit geskei nie. Nou soek sy die helfte van At se boedel. Ek weet darem nie of dit waar kan wees nie. Hoe kon hy met Annelize trou as hy nie van Soekie geskei is nie? Ons sal maar moet sien wat die prokureur sê, maar Soekie weet ook nie dat At nog springlewendig in Europa is nie. Ewa (Bianca Amato) beter vir At fyn dophou. As hy eers van Soekie uitvind, is hy op die eerste vliegtuig huis toe.

Kyk Binnelanders op DStv Online

Arendsvlei

Elke hond kry sy dag, maar slinkse Xander (Ayden Croy) was toe nie so slim soos wat hy gedink het nie. Daar was geen uitkomkans vir Xander toe Nicolene (Gretchen Ramsden) eers hoor dat dit nié Anton se hart in sy borskas is nie. Hy het gedink hy kan haar charm of met haar kop smokkel, maar ons almal weet Nicolene het nie regtig in hom belanggestel nie. Sy wou net naby die man wees wat met Anton se hart rondloop.

Ek wou nie lag toe die koeël hom in slow motion tref nie. Ons sepieskrywers en produksiespanne hou darem daarvan om dramaties te wees. Maar ten minste was dit effens realisties. Wat wel onrealisties is, is die feit dat Beatrice glad nie van die skietery weet nie. Sy glo sommer dat wyn op die mat geval het. As die skote in my straat geklap het, was die skindertonge nou los. Wil jy vir my sê dat hulle nie ’n buurt-Whatsapp-groep het nie? Of dat niemand vir Beatrice gevra het hoekom die polisie by haar huis was en ’n lyk uitgedra het nie? Ai, ons kan nou seker nie elke geveg wen nie. Die skiettoneel was realisties genoeg. Maar ek sien al hoe hierdie geheim vir Nicolene gaan knak.

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Suidooster

Ty (Maurice Page) gaan ’n oorval kry as hy uitvind dat Wade (Dean Smith) weer vir Angie (Char Carrie) val. Hoeveel keer gaan Wade nog sy kop stamp voordat hy luister? Angie is bad news! Wade was amper dood, maar hy wil weer saam met Angie wees en lieg reeds vir sy familie. Kom ons hoop dinge werk uit. Angie is nie goed vir hom nie en ek gaan hom nie jammer kry nie.

Kyk Suidooster op DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies