Menu terloops
In Sepies [19 Des 2022]

Sepies: Is At Koster, sepieland-skurk en kanniedood, se bewind waarlik oor?


Lyk my die sepie-gode wou 2022 met ’n slag eindig, want wie het gedink At Koster (Hans Strydom) sou ooit sterf? Maar die groot vraag is of hy regtig dood is, want waar is die lyk dan?! Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne hierdie week.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Is At Koster, sepieland-skurk en kanniedood, se bewind waarlik oor?

Sepies op ons radar vandeesweek sluit in Binnelanders, Suidooster en Diepe Waters.

Binnelanders

Ek het gedink Wengrid (Rehane Abrahams) se groot exit vanjaar sou my sepie-hoogtepunt wees, maar toe sterf een van sepieland se grootste skurke in ’n skokkende wending. Maar totdat ek ’n lyk sien, glo ek nie At is regtig na die hiernamaals nie. Dit is mos nou nie my eerste rodeo in sepieland nie. En selfs as daar ’n lyk én ’n begrafnis is, beteken dit amper niks. Mense staan mos vinniger as ’n feniks uit die as op in ons sepies.

Ek sou geld daarop sit dat Ewa (Bianca Amato) en Steve (Clint Brink) vir At gehelp het om te verdwyn. Dalk is dit deel van ’n meesterplan om Genevieve (Delia Pereira) te vang. Hoekom het Steve aangebied om At by die lykshuis sonder Conrad (Hykie Berg) uit te ken? Hoekom het ons nie die kamma-geveg tussen At en die hit man gesien nie? Sal ons vanaand die lyk in die kis by At se roudiens sien? En sal die skrywers ’n legendariese skurk soos At sommer-so laat sterf sonder ’n epiese takedown? Hoe kan iemand soos At Koster nie iemand hoor inkom by sy studeerkamer nie en net daar in sy stoel gevang word en sommer geskiet word?

EK GLO DIT NIE VIR ’N SEKONDE NIE.

Ewa se mense hou dan ook vir At dop! Dalk het hulle hom ontvoer om hom veilig te hou en nou is Steve en Ewa deel van die cover up, sodat Genevieve iets sal laat val! Ons hoor al vir jare van Genevieve, maar daar was nog nooit ’n gesig nie. Wie sou nou kon dink dat hierdie statige sakevrou ’n regte mafiabaas is. Dit wys jou net, in sepieland kan jy niemand vertrou nie. Veral nie dié wat onskuldig voorkom nie.

Kyk Binnelanders op DStv Online

Suidooster

So gepraat van mense wat jy nie kan vertrou nie… Arme Kaashifa (Jawaahier Petersen) se hart gaan verpletterd wees as sy uitvind dat Rhafiek (Irshaad Ally) haar met Carmen (Desiré Gardner) verneuk het. En ja, sy gáán uitvind. As ek ’n skelm aand met my eksvrou gehad het en dalk vir haar swanger gemaak het, sou ek dit teen alle koste wou wegsteek. Hier gee Carmen vir hom die geleentheid om ’n gelukkige huwelik te hê, sonder dat sy vrou van sy dade uitvind, maar nee Rhafiek kan dit net nie laat gaan nie.  

Carmen was nog heel kalm toe sy hom vasvat nadat hy haar “baby daddy” gebel het. Ek sou hom net daar voor almal in die sentrum uitgetrap het en ’n groot scene gemaak het. Hy wil mos nou sy geheim laat uitkom, so hoekom sy gevoelens probeer spaar? Die man krap waar dit nie jeuk nie en as daai bom eers bars, gaan sy hele wêreld uitmekaar val. Shame, dalk wil hy net bitter graag ’n pa wees, maar daar is ander maniere. Hoekom nie ’n kind saam met Kaashifa aanneem nie?

Ek wil sien wat dié week gaan gebeur, want om elke hoek is daar iemand met ’n geheim wat enige oomblik kan uitkom. Susan (Natasha van der Merwe) is ook op dun ys nadat sy vir Justin (Eden Classens) verneuk het. Hy was heeltyd bang dit sou gebeur en toe het dit. Mense dink hulle kan hierdie tipe foute geheim hou, maar dit kom een of anders tyd uit!

Kyk Suidooster op DStv Online.

Diepe Waters

Spyt kom altyd te laat. Ek is nou nie Gys (Justin Strydom) se grootste aanhanger nie, maar ek voel sy desperaatheid. Ek het gedink Meghan sou darem sleg voel vir die ander swemmers en mense by die klub, maar nee, die vrou wil die geld vir haar launch party hou.

Ek het gedink Gys kom iets oor verlede week toe Meghan nie vir hom geld wou gee nie. Dit gebeur as jy ’n vrou onderskat! Gys het gedink hy trou met ’n jong dom poppie wat na sy pype sal dans. Hy het hom lelik misgis, want Meghan is allesbehalwe.

Sal hy die swemklub kan red?

Kyk Diepe Waters op Catch Up en DStv Online.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Vonke spat tydens semifinaal… en kelder toe dié twee braaiers

’n Fynproewersdis, ’n lang resep en kreatiewe verskille het daartoe gelei dat twee van kykers se gunsteling-deelnemers op 'Kokkedoor Vuur & Vlam' hul voorskote moes ophang.

Meer

‘Adolescence’ is noodsaaklike kykstof om samelewing aan skouers te skud

Die Britse reeks 'Adolescence', oor ’n dertienjarige seun wat ’n klasmaat doodsteek, behoort verpligte kykstof vir ouers en kinders en by skole te wees. Dit is ’n wekroep vir ’n samelewing wat besig is om kinders in die steek te laat.

Meer

The Handmaid’s Tale S1-6

Op Showmax

Blessed be! Seisoen vyf tel op nadat June wraak teen haar ontvoerder, teisteraar en verkragter, bevelvoerder Fred Waterford, geneem en hom met haar kaal hande uitmekaar geskeur het.
Meer

The Last of Us S1-2

Op Showmax

Die tweede seisoen van ‘The Last of Us’ begin vyf jaar ná Joel (Pedro Pascal) se onlosmaaklike leuen aan Ellie (Bella Ramsey).
Meer

Jy sal hou van:

21

21+ Afrikaanse flieks wat jy nou aanlyn kan kyk

Op soek na jou volgende gunsteling-fliek? Hier is van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax – van 'Hans steek die Rubicon oor' tot 'Eksie Perfeksie'.

Meer
26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies