Menu terloops
In Sepies [30 Mei 2022]

Sepies: Hou dié storielyne vandeesweek dop


Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne hierdie week. Moenie dié hoogdrama misloop nie.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Hou dié storielyne vandeesweek dop

Verlede week het ons plaaslike sepies my kroniese angstigheid behoorlik getoets (dankie tog vir kalmeerpille), want dit was die een skok ná die ander.

Arendsvlei het selfs vir ons ’n Days of Our Lives-oomblik gegee toe Beatrice (Jolene Martin) se oorlede man se döbbelganger op ons skerms verskyn het.

Arendsvlei

Ek wou regtig nie lag toe Beatrice skielik skeel kyk nie (ons almal het die foto’s op sosiale media gesien…), maar dit sou seker ook my reaksie gewees het as ek onverwags my oorlede man se ewebeeld moes sien! My mond het letterlik oopgehang, want al is ek redelik goed met storielyne voorspel, was selfs ék onkant gevang.

Ons weet nie presies wie Jeremy is en of hy wél Beatrice se oorlede man David Abrahams (Oscar Petersen) is nie, maar dit was TV-goud toe Arendsvlei se skrywers vir ons ons eie Stefano DiMera á la Days of Our Lives-oomblik gegee het.

As jy nie weet wie Stefano DiMera is nie, is jy té jonk of jy weet so min soos ’n aap van godsdiens. Want hierdie ikoniese Days of Our Lives-karakter het al 13 keer “gesterf”. Jy kon dalk die eerste keer gemis het. Selfs die tweede. Maar nie ál 13 nie. En gelukkig vir jou is dit maar die eerste keer vir David Abrahams (of Jeremy… of wieookal dit is).

Dit was nou ’n lekker verrassing vir kykers, want dit was nie jou gewone voorspelbare wending nie. Selfs Beatrice lyk asof sy hierdie verrassing verwelkom, met dié dat sy vir Jeremy wil leer ken. Sy het hom immers selfs vir ete met die familie genooi. Dalk is hy regtig net iemand wat soos David lyk, maar iets sê vir my dat dit wél David is. Ek weet julle het ook gesien hoe sy gesigsuitdrukking verander het toe hy saam met Beatrice na ou familiefoto’s gekyk het.

Dalk het die Here ons gebede gehoor en is David terug sodat Ingrid uiteindelik vir haar sondes kan betaal. Sy het mos vir David vermoor, maar dalk het hy ontsnap en sal hy een van die dae onthou wat Ingrid gedoen het. Dis nou as Jeremy se geheue eers terug is.

Ja, daar is baie vrae. Wat van David se tande wat Ingrid in haar kluis gehou het? En wie se lyk is dan verbrand? Ons sal maar moet kyk of Jeremy ’n paar verlore tande het, want dinge gaan beslis interessant raak!

Ons kort elke nou en dan iets wat ons weer intrek en op die punt van ons stoele hou en ek dink Jeremy se storielyn het dit hierdie week reggekry. Dis nou veral omdat dit nou definitief lyk asof ons wéér ’n gyselaarsituasie op ons hande het met Morne (Marunzo Thomas), die creepy skoolleerder. Wat gaan hy vanaand aan arme Alta-Marie (Roeline Daneel) doen? Hoekom het hy oor die muur by haar huis gespring?

Kyk Arendsvlei op DStv Online.

Suidooster

En net toe ons dink dat Arendsvlei die prys vir die skok van die week gewen het, daar daag Carmen (Desiré Gardner) uit Bali by die Samsodiens se huis op.

Ek was net so stomgeslaan soos Mymoena (Jill Levenberg) en AB (Cedwyn Joel). Al wat deur my kop gegaan het was wat hierdie kuiertjie vir Rhafiek (Irshaad Ally) en Kaashifa (Jawaahier Petersen) se verhouding beteken.

Ek hoop regtig dat Carmen vir hulle in vrede sal laat. Tog, as ek een ding weet, is dit dat niemand in die sepiewêreld se verhouding ooit te lank hou nie. Nie een paartjie in Ruiterbosch se verhouding is perfek nie. Kyk maar vir Tim (Marco Spaumer) en Zoë (Lauren Joseph). Maar, al word verhoudings in die werklike lewe ook getoets, is daar darem gelukkige eindes. Dit is beslis nie die geval in Ruiterbosch nie – en dit is hoekom ek glad nie bly was om vir Carmen te sien nie.

Sy is net hier om moeilikheid te maak. Sy wou mos haar Eat, Pray, Love-oomblik in Bali gaan geniet, so ek hoop sy gun Fiekie sy geluk. Ná Danny (Vashti Prins) en Siya (Gantane Kusch) uitmekaar is, het ek gedink my hart sal tyd kry om oor die hartseer te kom. Maar dit lyk nie so nie, want daar is altyd drama as iemand in Ruiterbosch verlief is. Kom ons hoop dat Wade en Angie (Char Carrie) se verhouding, na hul wankelrige begin, ’n beter kans het.

Kyk Suidooster op DStv Online.  

Getroud met Rugby

So van skokkende storielyne en gedoemde liefde gepraat… Ek hoop regtig dat dinge hierdie keer vir Anastasia (Jenine Grobler) en Ryno (Adrian Steyn) sal uitwerk. Hierdie week het ons gehoor dat hul verhouding soos load shedding is…”aan en af”. Hoewel dit waar is, glo Ryno sterk dat dinge hierdie keer anders gaan wees. Maar Vrydag was daar reeds weer drama nadat die saadjie in sy kop geplant is dat dit dalk nie sy baba is nie. Ryno en Anastasia was immers albei met ander mense toe sy swanger word. Al wou sy nie ’n vaderskaptoets laat doen nie, gaan sy nou een kry. Maar wat gaan die uitslae sê? Dit is wat ek dié week wil uitvind!

Kyk Getroud met Rugby op DStv Online en Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies