Menu terloops
In Sepies [5 Sep 2022]

Sepies: Die trouklokke lui, maar wie kry wél hul gelukkige einde?


Trouklokke lui orals in ons plaaslike sepies, maar wie sal dit kansel toe maak en vir wie is liefde nie beskore nie? Hierdie is die sepies met die lekkerste, skokkendste (en soms belaglikste) storielyne hierdie week.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepies: Die trouklokke lui, maar wie kry wél hul gelukkige einde?

Ons sal maar vasgenael voor die TV moet bly dié week om te sien wie se liefde in ’n sprokie – of nagmerrie – eindig. Sepies op ons radar die week is Suidooster, Getroud met Rugby en Binnelanders.

Suidooster 

Ek is steeds oortuig dat Carmen (Desiré Gardner) onverwags op #Rhashifa se troudag gaan opdaag met ’n groot boep en Rhafiek (Irshaad Ally) gaan probeer afvry. Daar is geen manier dat die skrywers vir Carmen en Rhafiek ’n aand van passie sal gee en dan toelaat dat Rhafiek net in vrede vir die res van sy lewe met daardie geheim wegkom nie. As iets in Sepieland te goed is om waar te wees, dan is dit! Sover het Rhafiek met die geheim weggekom, danksy sy boesemvriend Siya (Gantane Kusch), maar ek dink dit is die kalmte voor die storm. Hoor wat ek nou vir julle sê: Iets is aan die broei. Ek voel dit in my bene!

Maar ag shame, al daag Carmen nie op nie, lyk dinge in elk geval nie goed vir #Rhashifa nie. Hulle trou dié week, maar Kaashifa (Jawaahier Petersen) het weer flou geword. Hoe sy dit kansel toe gaan maak, weet ek nie. Dalk trou hierdie twee in ’n romantiese oomblik, sommer net daar in Kaashifa se hospitaalkamer. Ek hoop net nie dat haar infeksie vererger. Ek dink nie Rhafiek sal dit oorleef as hy nog ’n geliefde aan die dood moet afstaan nie. 

… en Wade speel met vuur!

Wade (Dean Smith) het Vrydagaand amper sy gat gesien en het gelyk asof hy in ’n oorlog geveg het, toe hy daar by Nazeem (Irvine van der Merwe) se winkel aangedraf kom. Ons kan almal sien hy trek swaar, maar ek sal maar my trots in my sak steek voordat ek saam met ’n vullis soos Nazeem sake doen. Ons almal weet niks goeds gebeur as Nazeem betrokke is nie. Maar Wade se trots laat hom nie toe om elders hulp te vra nie. Gaan hy dié week die strydbyl tussen hom en sy geliefdes begrawe? Of gaan hy aangaan met sy skelmstreke en iets doen wat hy vir die res van sy lewe gaan berou? Ek hoop maar dat Wade die lig gaan sien, want al was sy storielyne die afgelope tyd baie vervelig, wil ek hom nie in die tronk of in ’n kis sien nie. 

Kyk Suidooster op DStv Online.

Getroud met Rugby 

’n Mens kan sien die einde is naby vir die Stryders-gemeenskap, want die vooruitsigte lyk maar droewig op en van die veld af. Maar twee mense wie se toekoms blink lyk, is Wouter (Francois Lensley) en Lulu (Ansu Visser). Hierdie karakters is al deur diepe waters, maar hulle kom altyd bo uit en nou het hulle mekaar gevind. Ek het geweet toe Wouter by die Stryders aansluit dat hy en Lulu vir mekaar gemaak is. Van daardie eerste week af, toe hy handy man in haar huis kom speel het, het ek die sparks gesien. Ek is mal oor die feit dat albei kinders uit vorige verhoudings het. Hul liefdesverhaal wys vir kykers dat daar wel geluk ná hartseer kan kom, en dat blended gesinne kan werk. 

Ek wens Amanda (Natasja Jacobs) kon eerder Lulu se voorbeeld volg as dit by die liefde kom. Amanda dink mos sy is God se geskenk aan manne, maar Philip (Markus Haywood) het verlede week vir haar van haar eie medisyne gegee. Hy laat nie met hom mors nie, en vir Amanda se speletjies, het hy nie tyd nie. Hy het haar sommer goed laat verstaan dat sy nie die enigste vis in die see is nie. Vir nou is hy klaar met haar, maar sal Amanda hom kan terugwen voor ’n pom-pom sy hart steel? 

Kyk Getroud met Rugby op DStv Online en Showmax.

Binnelanders 

Almal verdien ’n tweede kans, maar as dit by Andries (André Odendaal) se alterego(s) kom, is ek saam met Louis (Germandt Geldenhuys) bang vir Amalia se veiligheid. Al is jy my ma of pa, sal ek nooit daarmee gemaklik wees dat my kind saam met vyf verskillende alteregos in ’n huis bly nie. Nog minder met ’n alterego wat gevaarlik is! Ek is nou nie Delia (Odelle de Wet) se grootste aanhanger nie, maar selfs sy moet besef dat dit nie ’n goeie idee is nie. Hier kom GROOT moeilikheid. Ek wil nie sien wat gebeur as Andries dit regkry om alleen saam met Amalia te wees nie. As iets met haar gebeur, vergewe Louis nooit weer vir Delia nie.

Kyk Binnelanders op DStv Online

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies