Dis net leed en geheime waar jy kyk! Die drama en spanning het hierdie week ’n hoogtepunt in sepieland bereik, en dit was maar net die begin. Dinge gaan vir die res van die maand kook. Die sepies op ons radar vandeesweek is Arendsvlei en Binnelanders.
Arendsvlei
En die Oscar gaan aan (*drum roll)…. Pieter van Schalkwyk (Ivan Abrahams)! In ’n skokkende wending, wat my voete onder my uitgeslaan het, vertel Pieter toe vir sy kleindogter Debra (Kay Smith) die waarheid oor haar ma en wat sy aan die Cupidos gedoen het. Dit was ’n goue oomblik vir die skrywers van dié reeks toe Pieter in sy laaste oomblik vir Debra vertel dat haar ma George Cupido se studio aan die brand gesteek en gestaan en kyk het hoe dit afbrand.
Ek het, nes Debra, fyn geluister om seker te maak dat ek elke laaste word uit Pieter se mond hoor. Die een oomblik sukkel hy nog om ’n laaste sin uit te kry en toe… Stop die musiek vir ’n enkele sekonde. Net lank genoeg vir kykers om te hoor hoe hy sy laaste asem uitblaas. Die toneel was só dramaties, só angsaanjaend en só meestervol vertolk. Dit was regtig die perfekte manier om die begin van Ingrid (Rehane Abrahams) se einde aan te kondig nie.
Ek hoop ek was nie die enigste onsensitiewe kyker wat ’n happy dans met ’n Dr. Evil-lag gedoen het ná Pieter die geheim verklap het nie. Ek kon dalk eers gewag het tot arme Pieter in die graf is, maar die oomblik was te groot. Ons wag al vier seisoene vir ’n crescendo soos hierdie. Ek wou uit my vel uit bars van blydskap! Nou gaan dinge in die Vlei behoorlik opwarm.
Debra was stomgeslaan en weet nog nie presies hoe om die nuus te hanteer nie. Ek gaan heel week voor die TV met ’n groot bak popcorn sit en wag vir die oomblik as die Cupido’s die waarheid hoor. Ingrid sal nie sommer maklik haarself uit hierdie een kan wurm nie.
Ingrid het al lankal nie meer aanhangers in Arendsvlei nie en nou maak Debra ook nie meer ’n moordkuil van haar hart nie. Debra het darem lekker vir Ingrid die Leviete voorgelees en ek het elke oomblik daarvan geniet. Dis ook net ’n slang soos Ingrid wat haar pa se sterfte sal gebruik om in haar dogter se goeie boekies te kom.
Nee kyk, dit was ’n week vir die boeke, want selfs die Le Fleur-mans het nie geweet of hulle kom of gaan met Ingrid se dramatiese tranedal nie. Toe Ingrid eers so ontroosbaar in haar huis sit en skree en met die dooies in haar lewe begin gesels, het dit vir my gevoel asof ek terug in die 90’s is met die Days of our Lives-karakter Marlena Evans wat deur die duiwel besete is. Dit was ongemaklik en creepy om te kyk, maar weereens was dit briljante toneelspel deur Rehane Abrahams. Ek is glad nie ’n aanhanger van Ingrid/ Wendy nie, maar Rehane mag maar ’n SAFTA wen.
Gaan die Cupidos dié week die waarheid uitvind? Gaan Debra eindelik genoeg bewyse hê om haar ma te laat betaal vir alles wat sy gedoen het?
Kyk Arendsvlei op DStv Online.
Binnelanders
En terwyl ek SAFTA-toekennings uitdeel, kan At Koster (Hans Strydom) ook sommer in die ry kom staan. Want al is Ingrid slinks, is daar beslis nie ’n groter en meer ikoniese plaaslike sepie-skurk as At nie. Ek het hom staande toegejuig toe Delia uiteindelik al die stukkies bymekaarsit en At se meesterplan vir Binneland en die super-ER onthul. Ons moes mos geweet het dat At nooit sonder ’n geveg van sy eie raad afgestem sou word nie.
Ons het gedink Dr. Annelize Roux (Cindy Swanepoel), (wat wel vir ’n SAFTA benoem is) het ’n mic drop oomblik gehad toe sy vir At en Conrad (Hykie Berg) van die raad afstem en die leisels oorneem. Maar dié week het At weereens bewys hoekom niemand naby hom kom nie. Wys vir my iemand, anders as At, wat hul eie hospitaal sal laat opblaas!? Sal Conrad en Annelize ook dié week twee en twee bymekaar sit?
Kyk Binnelanders op DStv Online.