Menu terloops
In Onderhoude [3 Nov 2022]

‘Sê Jou Sê’: Tonge klap, maar dís g’n ‘Jerry Springer Show’ nie, sê aanbieder Aden Thomas


Die nuwe kykNET&kie-kletsprogram ‘Sê Jou Sê’ laat die tonge klap en monde oophang, maar dit laat kykers en die gehoor ook skaterlag oor die soms skokkende goed wat mense kwytraak.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou

‘Sê Jou Sê’: Tonge klap, maar dís g’n ‘Jerry Springer Show’ nie, sê aanbieder Aden Thomas

Op Sê Jou Sê is hulle nie bang om ongemaklike onderwerpe aan te pak nie. Van papgeld tot goed waarvoor jy betaal en nooit ontvang nie, en selfs jou pa wat weer trou en al die geld uit jou ma se polisse aan die nuwe familie gee. Awkward… Hoe gemaak as jy huiskoop, intrek en twee weke later trek die vorige huurders terug en wil saam met jou in die huis woon? Imagine! Hierdie is van die stories wat aanbieder Aden Thomas kalm en sonder terughou op dié program aanpak.

Die program het ook elke week ’n “regter” – wat uit die gehoor gekies word – om die “skuldige party” aanspreeklik te hou. Die gehoor se geanimeerde en outentieke reaksies dra by tot die vermaak. Soms lag jy as kyker juis vir die gehoor se geskokte gesigte of die manier hoe hulle lag of skel van hul sitplekke af. Weens hul interaksie, word hulle sommer die jurie op stel. Kykers kan duidelik sien of hulle dink iemand is skuldig of onskuldig.

Die onderwerpe is alledaagse kwessies wat groot spanning tussen mense kan veroorsaak. Tog pak die gaste en die gehoor op hierdie program die een kwessie ná die ander met respek en geduld aan. En al raak dit soms heavy ongemaklik op daardie verhoog, is dit glad nie ’n Jerry Springer-agtige program nie. Mense gesels hier en luister (meeste van die tyd) na mekaar. Daar word nie op mekaar gespring nie en ons het ook nog nie mense gehad wat mekaar se hare wil uittrek nie. Sou dit wel gebeur, is daar ’n bouncer met lekker spiere, gereed vir aksie.   

Dit is opvoedkundig en mense sê presies wat hulle dink en dit maak dit baie entertaining.

terloops het met die aanbieder van Sê Jou Sê, die bekende en geliefde radio-omroeper Aden Thomas, gesels. Kyk ook sy onderhoud op Kassie-kuiers.

1

Daar is goeie reaksie oor die inhoud en die program op sosiale media-platforms. Maar wat sê jy vir mense wat dink dat dit net nog ’n Jerry Springer-spin-off is?

“Hierdie program wys regte mense wat werklike probleme ervaar. Baie van die inhoud van gewilde Amerikaanse programme soos The Jerry Springer Show word bestuur om tot plofbare en dikwels gewelddadige konfrontasies, voor ’n live gehoor te lei. Ons hou nooit terug tydens die besprekings nie, maar die inhoud is nooit bedoel om goedkoop, kras of uitbuitend te wees nie.”

2

Die program het al verskeie onderwerpe tydens sy eerste maand op lug gedek. Hoe besluit die span oor die onderwerpe? En watter onderwerpe sal jy nie aan raak nie?

“Ons hou gereelde inhoudsvergaderings om idees rond te gooi gegrond op dit wat op sosiale media of in gemeenskappe aangaan. Die vervaardigers kry dan die gaste en nooi hulle na die program. Dit is belangrik dat ons uitreik na beide partye van ’n dispuut, sodat ons ’n omvattende storie aan die gehoor en kykers kan bied. Dit is belangrik om ’n mengsel van onderwerpe in verskeie stadiums van produksie te hê sodat elke episode ’n ander kwessie aanpak. Ons het nie ’n reël oor wat ons nie sal aanpak nie. Ons is daartoe verbind om gebalanseerde programmering te verskaf, sodat beide kante gehoor word.”

3

Hoe kry jy gaste om betrokke te raak en wat doen jy om die meeste uit jou gaste te kry?

“Die gaste weet presies hoekom hulle op die program is en wat van hulle verwag word. Die betrokkenheidsvlakke is dus regtig hoog. Ek ontmoet hulle by die ateljee voordat ons die episode opneem, sodat hulle ’n gevoel het van wie ek is. Dit help gewoonlik ook om enige senuwees te kalmeer. Ek gee hulle ’n regverdige kans om hul saak te stel, maar hulle weet dat ek hulle sal uitdaag oor dinge wat nie sin maak nie.”

4

Dink jy jou ervaring as radio-aanbieder, veral in geselsradio, help in hierdie nuwe rol?

My radio-ervaring is beslis ’n aanwins. Ek het letterlik al duisende onderhoude oor my amper drie dekades in radio gevoer. So om kwessies direk met gaste aan te pak is niks nuuts vir my nie. Geselsradio kan soms nogal konfronterend wees. Ek het dus al geleer hoe om vyandige gaste, wat nie reguit antwoorde wil gee nie, te hanteer. Ek het ook baie in die verlede soortgelyke onderwerpe op radio aangepak. Ek het ’n idee van wat die openbare sentiment oor ’n spesifieke kwessie is. Dit help my om die regte vrae te vra.

5

Wat het jou tot dusver die meeste verras en hoekom dink jy trek die program se onderwerpe mense se aandag?

Ek is die meeste verbaas oor die grootte van die span wat nodig is om ’n TV-program van hierdie skaal te vervaardig. ’n Radioprogram het een of twee mense agter die skerms. Ek is ’n bietjie oorweldig oor hoeveel mense woes op stel of in die beheerhokkie rondhardloop om die verskillende elemente van die program vas te vang. Wat die inhoud betref, dink ek dat die gehoor kan daarmee identifiseer omdat die kwessies so herkenbaar en persoonlik is. Dit is alledaagse mense wat bedrieg of teleurgesteld is. Soms hanteer ons onderwerpe wat tot die gehoor se geloofstelsel spreek. Op geen stadium word die besprekings ooit akademies of ontoeganklik nie. Ek dink dit is hierdie benadering wat hulle vir meer laat inskakel.

6

As jy ’n gas op ’n program soos Sê Jou Sê was, watter onderwerp sou jy graag wou debatteer?

Tips in restaurante! Ek sal graag met mense in die gasvryheidsbedryf daaroor wil kan debatteer. Dit verbaas my regtig dat kelners wat werklik substandaard diens lewer, dink dat hulle geregtig is op 10% van die totale rekening bloot omdat hulle my bedien het. Ek het al op baie geleenthede ver bo 10% ge-tip, maar is verbaas oor die opmerkings wat ek kry as ek kies om glad nie ’n tip as gevolg van slegte diens te gee nie.


Sê Jou Sê word op Saterdae om 19:30 op kykNET&Kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Kyk dit ook op DStv Online en Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Vonke spat tydens semifinaal… en kelder toe dié twee braaiers

’n Fynproewersdis, ’n lang resep en kreatiewe verskille het daartoe gelei dat twee van kykers se gunsteling-deelnemers op 'Kokkedoor Vuur & Vlam' hul voorskote moes ophang.

Meer

‘Adolescence’ is noodsaaklike kykstof om samelewing aan skouers te skud

Die Britse reeks 'Adolescence', oor ’n dertienjarige seun wat ’n klasmaat doodsteek, behoort verpligte kykstof vir ouers en kinders en by skole te wees. Dit is ’n wekroep vir ’n samelewing wat besig is om kinders in die steek te laat.

Meer

The Handmaid’s Tale S1-6

Op Showmax

Blessed be! Seisoen vyf tel op nadat June wraak teen haar ontvoerder, teisteraar en verkragter, bevelvoerder Fred Waterford, geneem en hom met haar kaal hande uitmekaar geskeur het.
Meer

The Last of Us S1-2

Op Showmax

Die tweede seisoen van ‘The Last of Us’ begin vyf jaar ná Joel (Pedro Pascal) se onlosmaaklike leuen aan Ellie (Bella Ramsey).
Meer

Jy sal hou van:

21

21+ Afrikaanse flieks wat jy nou aanlyn kan kyk

Op soek na jou volgende gunsteling-fliek? Hier is van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax – van 'Hans steek die Rubicon oor' tot 'Eksie Perfeksie'.

Meer
26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies