Menu terloops
In Wat om te kyk [12 Aug 2026]

Reënboogrant eersdaags terug op die kassie vir tweede seisoen


Dit was ’n lang wag vir aanhangers van die Afrikaanse telenovela ‘Reënboogrant’, maar dié TV-verwerking van Louise van Niekerk se gewilde tienerboekreeks, keer binnekort terug met selfs meer drama en dilemmas.

Deur Redaksie
Reënboogrant eersdaags terug op die kassie vir tweede seisoen

Die Brink-familie en hul vriende maak foute, raak verlief, verloor koers en help mekaar om weer te probeer in die tweede seisoen van Reënboogrant wat vanaf Vrydag 28 Augustus om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. 

“Ek sal die tweede seisoen beskryf as ’n gejaag na sukses, liefde, identiteit en ’n stryd om gehoor te word,” sê André Velts, die regisseur en kreatiewe vervaardiger van die reeks.

Waar tel die storiedrade op?

Reënboogrant hervat tydens die Desembervakansie, in die tragiese nadraai van Moniqué se ongeluk by die springgat. Terwyl haar vriende probeer sin maak van wat presies gebeur het, gaan die alledaagse voort: Rapporte word uitgedeel, nuwe studies en werksgeleenthede wink en ou verhoudings raak ingewikkeld. 

“Ons is opgewonde oor die reeks se terugkeer na kykNET en raai kykers aan om hul sitplekgordels styf vas te maak, want die avonture en uitdagings vir die Brink-familie in hierdie seisoen raak dieper en erger,” sê Soné Combrinck, medevervaardiger by Sonvelt Media, wat vir die reeks verantwoordelik is.

Waar bevind die karakters hulself?

Vir Shani Brink (Minke Marais) word die jaar ’n warboel van romantiese uitdagings. Sy is steeds verlief op die branderplankryer Dave Watkeys (Jean Henry), terwyl Johan Viljoen (Righard van Jaarsveld) nie gereed is om hul verhouding te laat gaan nie. Wanneer Jacques Bronkhorst (Vian Singleton) weer sy verskyning maak, raak Shani se hart én haar vriendskappe nog meer ingewikkeld. Haar ambisie om haarself te bewys plaas haar gereeld in situasies waar sy duur lesse moet leer. 

Haar broer, Dolf Brink (Paul Strydom), probeer intussen die emosionele nagevolge van die springgat-tragedie verwerk. Tussen universiteit, werk en sy geliefde Volla probeer hy vorentoe beweeg, maar wanneer Rachelle Labuschagne (Marelee Ferreira) terugkeer na Reënboogrant met geheime uit haar verlede, word sy lewe weer omvergewerp. 

Vir Sunette Brink (Mila de Villiers) bring die nuwe jaar atletiek, akademiese geleenthede en meer as een potensiële nuwe liefde. Die talentvolle musiekwonderkind Jaco (Louis Auret) gee haar nuwe perspektief, terwyl die jong onderwyser en atletiekafrigter Leon Tredoux (Liam Bosman) haar hart onverwags vinniger laat klop. Sunette se wêreld groei, en sy word genoop om belangrike besluite oor haar toekoms te neem. 

Maar dit is nie net die Brinks wat uitdagings in die gesig staar nie. Johan se obsessiewe strewe na atletieksukses begin gevaarlike gevolge hê. Japie Coetzee (Danté Elliot) en Hardus Bronkhorst (Jacques Gombault) se plan om vinnig geld te maak, bring hulle al dieper in die moeilikheid. Intussen word Marius Naudé (Wilco Meyer), Lizane Jacobs (Deidré Barnard), Bongi Buthelezi (Johnny Potsanyane) en die res van die vriendekring ook gekonfronteer met nuwe verhoudings, moeilike waarhede en persoonlike uitdagings. 


Reënboogrant S2 begin Vrydag 28 Augustus om 18:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies