Menu terloops
In Redakteurskeuse [9 Mei 2022]

Redakteurskeuse vir Mei 2022


Vandeesmaand se redakteurskeuse sluit in die begin van die einde van ‘Stranger Things’ en die TV-verwerking van die geliefde boek ‘Dinge van ’n Kind’.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Mei 2022

Stranger Things 4: Volume 1 

Stranger Things het met sy debuut in 2016 amper oombliklik ’n fenomeen geword. Dalk is dit omdat dit die terugkeer van Winona Ryder beteken het. Of dalk is dit te wyte aan die besonderse onderstebo mengsel van neon-nostalgie en neon-nuwigheid in hoe dit die popkultuur van die 80s uitbeeld. Of dalk is dit Steve (Joe Keery) se manjifieke coiffe. (Definitief laasgenoemde…) 

Stranger Things se vierde seisoen is nie net een van Netflix se duurste uittogte nie, dis ook die reeks se laaste. Dit is wel in twee dele verdeel met die eerste helfte van die nege-episode seisoen wat einde vandeesmaand op Netflix begin stroom. 

Met die aanvang van die vierde seisoen is dit reeds ses maande sedert die sogenaamde Battle of Starcourt Hawkins basies tot niet gemaak het. Die groepie vriende/kamma-helde is daar vort en intussen ook vir die eerste keer van mekaar geskei. Tienerwees was nog nooit maklik nie, maar gooi ’n afgryslike bonatuurlik (ondernatuurlike?) bedreiging in die pot en jy sit met ’n moerse probleem. Dis natuurlik Eleven (Millie Bobby Brown) wat moet red en saam-saam moet die vriende ’n einde maak aan die gruwels van die Upside Down wat hulle al so lank teister. 

Stranger Things het reeds meer as 65 toekennings gewen, waaronder ’n hele paar Emmy- en Golden Globes-pryse. 

Die rolverdeling sluit onder andere ook in: David Harbor as Jim Hopper, Finn Wolfhard as Mike Wheeler en Gaten Matarazzo as Dustin Henderson.

Volume 1 is vanaf 27 Mei op Netflix beskikbaar. Volume 2 se premiere is op 1 Julie. 

Kyk ook: 

Dinge van ’n Kind

Die TV-vertelling van Mart Vermaak se gedaantewisseling van kind tot vrou in Dinge van ’n kind is een wat ’n mens seker moes sien kom het. Dié storie is mos een wat in enige formaat met sy menslikheid roer. Dis so relevant en tydig as nagenoeg 30 jaar gelede, toe dié Marita van der Vyver-boek vir die eerste keer gepubliseer is. Langdurigheid is selde storie se vriend, maar met coming-of-age-verhale is dit dikwels die ontdekkers, die avonturiers, die curious cats in ons, wat soek na drade wat terug na onsself lei. Kry jy daai drade, sien jy jou gesig in die poele emosie en spanningslyne, die knope en ontknopings in die verhaal. Dis die tipe storie wat tyd en plek en zeitgeist nie onklaar kan maak nie. Maar dis raar. Enter thus, Dinge van ’n Kind.

In die roman het lesers vir Mart as tiener, sowel as ’n volwasse vrou in haar dertigs as ’n expat in Londen leer ken. In die TV-reeks, met tien episodes, ontmoet kykers egter ook ’n ouer Mart wat haar weer in Suid-Afrika gevestig het.

Terwyl die boek in twee tydvakke afspeel – teen die politiese agtergrond van die ontstuimige 1970’s en die vroeë 1990’s – is daar vir die TV-weergawe ’n deel deur die draaiboekskrywers Elanie Rupping en Henriëtta Gryffenberg bygewerk wat in die hede afspeel. Só is daar dus drie aktrises wat Mart vertolk. In die rol van jong Mart is Melissa Myburgh, met Cintaine Schutte as Mart in die 1990’s. Cintaine (Fynskrif, Ekstra Medium) het mees onlangs die rol van Mart in die verhoogsproduksie van Die Dinge van ’n kind gespeel. Susanne Beyers is hededaagse Mart.

Lees Riëtte van der Wat se volledige resensie hier

Vanaf 10 Mei op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online

The Lincoln Lawyer

David E. Kelley is welbekend vir sy regsdramas. Trouens, min TV-skeppers het al soveel sukses met prosedure-stories (jy weet, daai wat ’n bekende resep vir voorspelbare, verteerbare TV-genot volg) gehad. Ja, daar’s Shonda Rhimes (Grey’s Anatomy, Private Practice), en Greg Berlanti (Dawson’s Creek, Riverdale) is ook al deurgesout. Maar Kelley is die een wat vir ons Ally McBeal gegee het. Só ook Boston Legal, The Practice, L.A. Law – en nou The Lincoln Lawyer.

Die reeks is gegrond op die Michael Connelly-boek, The Brass Verdict. Dit is reeds ’n paar jaar gelede in ’n fliek, ook The Lincoln Lawyer, met Matthew McConaughey omskep. 

Connelly is, in ’n mate, die boekewêreld se Kelley. Beide is suksesvolle meesters van middle-brow stories. Die kombinasie van Kelley en Connelly vir dié nuwe Netflix-reeks voel dus effe soos kismet. 

The Lincoln Lawyer draai om Mickey Haller, vertolk deur Manuel Garcia-Rulfo, ’n prokureur wat vanuit sy kar – die Lincoln van die titel – werk terwyl ’n chauffeur hom rondry. Maar dan sterf sy voormalige vennoot en Haller “erf” dié se regspraktyk… En ook ’n baie hoë-profiel kliënt wat op aanklagte van moord teregstaan. Hy kom vinnig agter daar is meer aan die storie. Sy lewe en die van sy gesin word bedreig soos hy al nader die waarheid kom. 

Saam met Garcia-Rulfo (The Magnificent Seven) in die rolverdeling is onder andere Party of Five– en Scream-aktrise Neve Campbell en Becki Newton (Ugly Betty).

Vanaf 13 Mei op Netflix.

Kyk ook:

Ook op my moet-kyk-lys:

Swan Song

’n Lieflike komedie-drama met veteraan-akteur Udo Kier in die hoofrol as ’n afgetrede haarkapper wat uit sy ouetehuis “ontsnap” om ’n dooie vrou se hare vir haar begrafnis te stileer. Ook met White Lotus se Jennifer Coolidge, Michael Urie en Linda Evans. 

Stroom nou op Showmax.

Rita Moreno: Just a Girl Who Decided to Go for It

Rita Moreno: Just a Girl Who Decided to Go for It volg die merkwaardige lewe en loopbaan van die ikoniese Hollywood-baanbreker Rita Moreno. Just a Girl strek vanaf haar nederige wortels in Puerto Rico en vertel dan die verhaal van die wêreldwye roem en sukses wat sy op teaterverhoë en op die grootskerm oor haar loopbaan van sowat 80 jaar lank ontgin het. 

Haar grootste rolle was onder meer in West Side Story, Singin’ in the Rain en die bekroonde tronkdrama Oz.

Die dokkie het ’n punt van 95% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. Die resensente se konsensus lui: “’n Treffende profiel van die legende Rita Moreno. Dit is gelyktydig ’n skerp kritiek op die bedryf se verpletterende ongelykhede en ’n pragtige eerbetoon aan ’n kunstenaar wat ondanks menigde uitdagings nooit teruggedeins het nie.”

Stroom nou op Showmax.

Catherine the Great

Stroom dié mini-reeks met Helen Mirren in die hoofrol op Showmax.

Women of the Movement

Gegrond op die ware verhaal van die wrede moord op Emmett Till en sy ma, Mamie Till Mobley, se stryd om geregtigheid.

Stroom nou op Showmax.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies