Menu terloops
In Recaps & Resensies [23 Mei 2024]

‘Plaasjapie’ S2: ’n ‘Nuweling’ op die plaas en pennies wat spook


Terwyl die teiken op Milandie se rug al groter word as gevolg van haar en Etienne se klimtol-vriendskap, was dit Stanley Venter van Pretoria wat in die vyfde episode sy soutsilo moes leegtap. Watter drama wag op die stadsjapies in die sesde episode van ‘Plaasjapie’?

Deur Annelene Oberholzer

Kyk Plaasjapie op DStv Stream

‘Plaasjapie’ S2: ’n ‘Nuweling’ op die plaas en pennies wat spook

Pieter se geselsery tydens die Koöperasie-kuier het Michelle onseker laat voel. En dis hoekom sy haar stem verander het van Liovian na Stanley.

By hul Oranjezicht-tuiste bied sy vir André ’n katspoegie koffie aan, maar die man is veel meer geïnteresseerd in wat die dag se mandjie vir hulle inhou. Daar is ’n nota en die lootjies om ’n nuwe plaasbestuurder aan te wys.

Kinkel in die kabel

André lees ewe gewigtig die nota voor. Die nuwe plaasbestuurder gaan ’n onbenydenswaardige taak hê: om oor te loop na Groenkloof en een van die japies daar te kies om by Oranjezicht aan te sluit. Dan is daar ook ’n uitdaging wat by die Groot Werf op beide spanne wag.

Zanie, Milandie en Etienne se name word genoem en Pieter maak dit duidelik dat hy Etienne of Zanie sou verkies.

“As ’n mens gaan dink, strategies en iemand wat krag het, en iemand wat woema het . . . definitief Zanie,” kom dit van Michelle. Etienne kuier wel ook in haar agterkop.

Groenkloof

Onbewus op wat later met die span gaan gebeur, is dit melktyd op Groenkloof. Tot waar hulle opkyk en sien Liovian kies koers na hulle kant toe. Sy is die nuut-verkose plaasbestuurder van Oranjezicht. 

“Wat de hel, julle?” kom dit van Blue.

“Sy gaan een kies en net hier vir jou sê ‘pak jou tassie, jy stap hier oor’,” is Etienne se opinie.

Intussen is Liovian nog nie heeltemal seker wie sy na Oranjezicht gaan neem nie.

“Met die pad aandurf, gaan ek maar gebruik om ’n bietjie net na te dink en sodra ek op die plaas kom, hulle body language net assess en kyk wat my instink vir my sê.”

“Almal se p**ph*lle maak so, want sh*t’s happening now,” sê Monique.

Liovian bevestig wat Etienne gedink het en dit is dat sy hier is om een van hulle saam te van Oranjezicht toe. Dis ’n gespanne oomblik vir die Groenkloof-span maar Etienne kan nie ophou glimlag nie. Hy sê dis maar sy senuweeagtige laggie.

Liovian wil weet of Etienne dink hy kan ’n aanwins wees vir Oranjezicht. Sy onmiddellike reaksie is om te weet of dit ’n onderhoud is. Liovian ontken dit en sy maak dit duidelik dat sy die vraag vra omdat Etienne gesê het hy voel senuweeagtig.

“Ek dink vir enige span waarin ek is, is ek ’n aanwins,” laat Etienne vol selfvertroue hoor.

“Dink jy jy sal vir ons kan help wen?” wil Liovian weet.

“Wel, die span waarin ek is, wil ek altyd hê moet wen. Ek dink ons almal voel so,” laat hoor hy.

Volgende wil Liovian weet wat Zanie se gevoel is.

“Dis ’n hoë risiko, maar dis goed. Dit verander die spel en dis waaroor dit gegaan het. So, dit skommel en change alles weer,” antwoord sy. “So, dan maak jy maar weer daar ietsie en jy begin weer voor, maar ek dink daar’s baie harde werk daar by julle want julle is min. Maar dis reg.”

Maar vir wie lig Liovian eindelik haar vinger en sê: “Jy kan maar jou sakkie pak”? Dis vir “ja nee” – die t-hempie wat Etienne dra, en hy moet gaan pak.

Plaasjapie
Tyd vir trek! Foto: Verskaf

Oh, my word, hierdie is eintlik erger as wat ek gedink het,” sê hy terwyl hy omdraai en ’n traan of twee wegvee.

“Hulle het vir Etienne gekies vir die fisieke aspek want hulle is nou al moeg om te verloor, wat ek heeltemal goed kan verstaan,” is hoe Monique oor Liovian se keuse voel.

“Die uitdrukkig op Etienne se gesig het boekdele gespreek. Want toe sien ek soos die Twin Towers . . . alles crash net. Shame, en hy het eintlik trane in sy oë gehad, maar nie omdat ek dink hy nie hier wou gewees het nie, maar omdat hy nie ’n pekelpennie het nie!” sê sy.

Intussen is Etienne se fluisterende raad aan sy bondgenoot, Riaan, om net kalm te bly en deel te raak van Anelda en Blue se alliansie. Of Milandie en Monique, hy moet net self besluit.

“Iewers gaan ek ’n leisel moet optel waar hy uit is,” kom dit van Riaan, wat duidelik nie van hierdie nuwe verwikkeling hou nie. Hy het immers sy grootste bondgenoot verloor. En hy dink Milandie is sy volgende spanmaat.

Terug by Oranjezicht

“Sy’t vir Etienne gekies,” kondig Michelle aan. Sy vertel ook vir Pieter dat sy haar stem van Liovian aangepas het na ’n stem vir Stanley. Hy is baie verbaas daaroor.

“Ek wou ook vir Stanley gestem het, maar toe dog ek, oef, kom ons bly maar net by die plan, jy weet,” kom dit van hom. Michelle sê sy het van plan verander omdat sy nie gedink het sy het vir Pieter aan haar kant nie.

“Ek voel ek kan nog steeds Michelle vertrou. Dit was maar nou ’n noue ontkoming gewees, maar ek dink sy moet net weet dat, as sy vir my iets sê, hou ek daarby. Ek gaan nie switch of enigiets soos dit nie,” sê Pieter. 

“Die beste oomblik van my hele lewe was, van Plaasjapie begin het, toe sy vir my sê ‘Etienne, sal jy Oranjezicht toe kom?’ want ek dink sy het my letterlik so aan my kraag opgetel, uit die k*k uitgetel, en net op ’n beter plaas neergesit,” erken Etienne.

“So, jammer Miandie, jy’t toe nou jou kans gehad. I’m saved by Oranjezicht!”

Toe word daar gevra: Met wie’t jy die beste konneksie gehad? Met Riaan, natuurlik. 

En toe gooi hy vir Milandie onder die bus. Sy is heelbo aan sy lysie van mense wat hy glad nie vertrou nie. En na hul aanvanklike goeie verstandhouding, is Blue nou nommer twee op dié lysie. 

O ja, en alhoewel hy nie baie kontak met Zanie gehad het nie, kry sy ook haar plekkie op die wantroue-lysie. Hy pak lekker uit oor sy vorige spanmaats en beskryf Anelda as bloot net ’n “volgertjie” wat alles doen wat Blue vir haar sê.

Pekelpennie-petaljies

Etienne verseker die span dat Melandie vir ’n feit haar pekelpennie gespeel het. “En dan is dit definitief Monique of Zanie,” mislei hy sy nuwe spanmaats.

“Want Zanie was verskriklik ge-rattled . . . Zanie. Ja, baie. Dit is die ding hoekom niemand eintlik met haar direk connect nie want sy raak so crazy ge-rattle dat jy kan haar nie vertrou nie,” is sy volgende skuif.

Pieter erken hy het Etienne se naam eerste genoem en dat hy baie bly is Etienne is nou deel van Oranjezicht.

“Hy klink na ’n baie legit ou en ’n baie nice persoon om aan jou kant te hê,” sê hy.

“Maar toe kom sy [Milandie] sommer na my toe, toe sê sy dadelik vir my ‘wys my jou pennie’. Toe sê ek vir haar, ‘Ek weet, voor my heilige siel, ek het nie my pennie gespeel nie. Ek hoef hom nie vir jou te wys nie’,” gaan Etienne voort om sy nuwe spanmaats om die bos te lei. 

Michelle verseker hom dat pekelpennies en die “Mag van die Mes” gerespekteer word en nie oop is vir bespreking nie.

“Ek is so, haaaaa . . . Dit reën letterlik op my neer en ek is so dankbaar vir dit. So, nou is dit vir my baie makliker om vir Oranjezicht te oortuig ek het nog ’n pennie. Maar nou, hierdie pennie het by my gespook. So, ek voel hoe minder ons oor ’n pennie praat, hoe beter,” sê Etiennie.

Groenkloof

Die mandjie by Groenkloof bevat onder meer mieliemeel, bully beef en koffie. Ook hier moet lootjies getrek word vir ’n nuwe plaasbestuurder en die span word ingelig oor die uitdaging by die Groot Werf.

Dis ’n tweede keer vir Monique om die amp van plaasbestuurder te dra. Sy is baie opgewonde oor die “Mag van die Mes”.

“Dis eintlik net lekker laat vrouens die geleentheid kry om die Mag van die Mes so tussen ons klomp vrouens te kan move,” sê sy.

Die Groot Werf

Plaasjapie
Boer Tickey van Wyk van Loxton saam met Ewan. Foto: Verskaf

Daar word vir ’n beloning en veiligheid gespeel. En daar’s weer ’n gas wat saam met Ewan gaan kyk hoe die uitdaging verloop. Dis boer Tickey van Wyk van Loxton wat in die eerste episode van Boer soek ’n vrou talle harte verower het.

“Vandag gaan julle skape aanjaag,” vertel Ewan die twee spanne. 

Daar is vier kampe met een spanlid vir elke kampie. Die vyfde spanlid is die skaapwagter. Dan is daar spesifieke instruksies oor watter skaap in watter kampie moet beland. Die vinnigste span wen die uitdaging. Die verloorspan gaan in die Koöperasie kuier.

Boer Tickey se beste raad aan die spanne is om kalm te bly en nie te vinnig na die skaap te beweeg nie.

Oranjezicht is die eerste span wat moet aanjaag . . . Skape, bygesê. 

Etienne is die skaapwagter. Kort voor lank is Pieter en Etienne suksesvol met skape in kampie 4. André en Etienne mors ook nie tyd nie. Liovian verloor ongelukkig haar skape en skielik is daar bevele van elke spanlid wat raad geen. Etienne se rustigheid beïndruk vir Ewan en boer Tickey.

Plaasjapie
Milandie het praat-praat haar skape in die kraal gekry… Foto: Verskaf

Monique kyk van die kantlyn af vir Groenkloof terwyl Milandie skaapwagter speel. Anelda moet sorg dat die skape in kampie 3 moet kom. Maar o aarde! Die skape spaander maar kort voor lank is hulle veilig in die kamp. Zanie moet kampie 4 vol skape kry. Sukses! Praat-praat kry Milandie en Blue hul skape in die kraal. Riaan se groepie skei maar eind goed, als goed.

Die tye is onderskeidelik 12 minute 7 sekondes en 8 minute 47 sekondes. Maar dis Oranjezicht wat eindelik die uitdaging hulle s’n maak met daardie uitstekende tyd. En Groenkloof verlaat die Groot Werf met hangskouers.

Oorwinning! Foto: Verskaf

Beloning

Liovian gaan vir Ewan besoek om hul beloning te kies. Wat gaan sy kies? ’n Blaarblaser, insekweerder, speserye, verskeidenheid pasteie en lekkers is op die spel. 

Na wik en weeg kies sy die speserye, wat onder andere sout en peper insluit. Sy verduidelik aan die span dat sy tussen die eenmalige pasteie en die speserye moes kies wat hulle langer kan gebruik. Pieter is baie spyt daar’s nie ’n pastei of so nie, maar besef hulle moet vir iets kyk wat langer gaan hou.

Strategieë op Groenkloof

Anelda wil van Riaan ontslae raak omdat hy haar irriteer. Maar Blue voel vir Milandie. Hy sê sy gaan alles in haar vermoë gebruik om hulle teen mekaar te laat draai. Monique is deel van die gesprek. Die drietal besluit om vir Milandie te sê hulle stem vir Riaan. Ook Zanie is aan boord.

“Vir nou is my mind ge-set op Milandie. Dit is die besluit wat ek gaan maak, en ja, ek sit net vertroue in die spannetjie saam met wie ek werk dat hulle gaan sout aftap soos ons sê ons gaan sout aftap,” kom dit van Blue.

Langs die dam bevestig Riaan dat sy laaste lojaliteit by Milandie lê. Hy kort net ’n naam van haar. Sy onderneem om met almal te praat en sal dan vir hom vertel.

“Ek voel op die oomblik is dit my naam wat op die blok is, en joune,” vertel sy vir Riaan.

“Ek is nou op die oomblik ’n baie maklike target. Ek het nou so bietjie dalk die challenge van vandag aangejaag mee. En ook, ek het nie meer my [pekel-]pennie nie. So, dis baie maklik om vir my te gaan,” erken Milandie.

Op sy beurt plant Blue die saadjie rondom Zanie by Milandie omdat sy ’n sterk speler is.

En Zanie?

“Dit is malligheid wat nou aangaan. Jy’s van heeltemal safe en ewe skielik kom jou naam op. Jissie, wow! What the hell?” wil sy weet.

Sy kry vir Monique eenkant en pols haar oor Blue. Haar kommer is dat hulle die girl power gaan verloor as Melandie die trekpas kry. 

Monique is geensins van plan om met Milandie te versoen nie. Sy sê hulle kan nie nou van plan verander nie, maar Zanie se kommer is dat hulle een vrou minder gaan wees.

Monique erken Zanie se aanslag het haar aanvanklik geskok. Tot waar sy daaroor begin dink het.

“My kop sê vir my ‘stem vir Milandie’ en my hart sê, ‘Moenie vir Milandie stem nie’. Dis alles nog baie deurmekaar. Ek kan nie nou sê waarheen ek gaan nie,” sê sy.

“As ons vier girls saam is, en ons skryf Blue se naam neer, dan is ons nog girl strength. As ek moet een van dit kies, sal ek steeds die vier girls bymekaar wil hê,” kom dit van Zanie.

Monique besluit om met Milandie te gesels oor Blue. Nee, sy wil nie vir Blue laat gaan nie. In reaksie daarop sê Monique dat Blue en Anelda vir haar net “té tight” is.

“Ek vertrou régtig baie vir Blue. En ek hoop dit byt my nie in die g*t nie,” kom dit laggend van Milandie.

“Ek sal altyd eerder iets vir iemand anders doen en dis so moeilik om nou aan myself te dink, dis rêrig baie moeilik. Ek haat dit,” kom dit tussen die trane deur van Monique.

Koöperasie-kuier

Dis die Groenkloof-span se tweede kuier in die Koöperasie. Foto: Verskaf

Dis die Groenkloof-span se tweede kuier in die Koöperasie. Blue sê dit gaan oor die algemeen goed daar, maar dat dit ’n woeste dag is: eerste vir Etienne wat hulle moes groet en dan nou iemand tydens hierdie kuier.

Gaan Monique vanaand na haar kop of haar hart luister? Ook by Milandie vier emosies hoogty toe sy aan die groep erken dit raak vir haar moeilik, maar dat sy vanaand met haar kop moet besluit.

“Ek raak bitter vinnig lief vir mense, so ek dink so graag as wat ek met my kop wíl speel, want ek weet dit sal die beste vir my gaan wees, meng my hart die heeltyd in. En dit maak dit vir my baie moeilik om ’n besluit dan te neem,” sê sy.

“Kop is jy dink vir jouself en hoe ver daai besluit vir jou gaan vat,” kom dit van Blue. Ook hy sukkel om sy emosies in toom te hou en sê dat sy hart baie seer gaan wees oor sy besluit.

Riaan se gesig vertrek in pyn toe Ewan aankondig dat die pekelpennie nou R45 000 beloop! Ook Blue se gesig eggo die erns daarvan. Die pryspot is nou R915 000. Gaan iemand hul pennie speel?

Na die sout-aftappery keer Ewan terug met twee emmers sout, verteenwoordigend van twee mense vir wie daar gestem is: Milandie en Zanie . . . 

Plaasjapie
Ewan deel die nuus… Foto: Verskaf

Dis Milandie wat nie haar sout werd is nie en sy moet haar silo leegmaak.

Dis ’n emosionele afskeid met trane wat vryelik vloei.

Milandie groet

“Ek voel ek is reg om huis toe te gaan. Ek het hard gespeel en ek het regtig probeer eerlik speel. Ek het nie vuil gespeel nie. 

“En ek wil net sê ek het toe nou agtergekom die konkelhaan was toe nou Blue gewees. Ek love game-play, so well done! En ek bly lief vir hulle al het hulle my uitgevat. So, ek is reg om by my man en by my honde en by my familie te wees.”

Milandi moet groet. Foto: Verskaf

Volgende keer op Plaasjapie

Sakke moet gepak word vir ’n ontmoeting by die Klein Werf en Riaan besef dis tyd vir die top-10. En daar wag ’n groot verwikkeling op altwee spanne.


Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies