Jannie Holsthyzen (20) was die derde stadsjapie wat op sy hêrrie gekry het tydens verlede week se episode van kykNET se werklikheidsreeks, Plaasjapie.
Soos ’n skapie gelei
Etienne erken Jannie se uitstemmery het hom nogal swaar getref.
“Dit was my plan, so dit het letterlik vir my gevoel ek het hom soos ’n skapie gelei in die afgrond [in],” kom dit van ’n emosionele Etienne en hy bevestig weer dat dit vir hom baie erg was. Maar hy het ook ’n geheim . . . En dit gaan oor ’n kans wat hy dink hy vermors het.
“Op hierdie huidige stadium weet niemand ek het my pekelpennie gespeel nie, en niemand gaan weet nie.”
Nog ’n pekelpennie en verwyte
Milandie is ook baie spyt sy het haar pekelpennie gespeel. En die ratte in haar kop begin draai oor die R60 000 wat van die prysgeld afgetrek is. Sy wonder of Etienne sy pekelpennie gespeel het.
Sy takel Etienne trompop oor sy stilswye rondom haar naam wat tydens stemtyd opgeduik het.
“Jy’t gesê jy gaan vir my sê as my naam opkom. My naam het opgekom en jy’t my glad nie gesê nie. Ons is die heeltyd – soos ek en Blue en Monique – ons gaan vir Riaan, en jy ook.
“En toe jy net nooit my naam vir my noem nie, of sê ek is in die moeilikheid nie, toe dog ek net soos . . . Etienne is al weer besig om my te play.
“Ek gaan nou net hierdie swing. En toe’t ek op die nippertjie vir hulle gesê, ‘Julle, ons gaan nou vir Jannie. Ons los vir Etienne met Riaan want ek wil sien [of] kan ons hom rêrig vertrou’. Hulle vertrou jou, maar ek vertrou jou nie!”
Iemand se neus raak al hoe langer
Milandie probeer uitwerk wie vir Riaan gestem het. Etienne ontken ten sterkste dat dit hy was en sê hy het vir Jannie gestem.
“Ek het glad nie vir Jannie gestem nie,” kom dit later laggend van Etienne wat inderdaad vir Milandie gestem het. “Ek het geweet as hierdie gaan ontplof in my gesig en ek laat hierdie koek val, gaan ek moet hárd jok. En dis nou presies wat ek besig is om te doen.”
Hy vra Milandie dat hulle weer moet probeer.
Nuwe lootjies, nuwe leiers
By Oranjezicht is dit die tweede keer in ’n ry dat Stanley die plaasbestuurder-lootjie trek. Maar dis nie al nie. Die span word na die Klein Erf genooi vir ’n ontmoeting met Ewan waar daar ’n verrassing op hulle wag.
“Ons nuwe plaasbestuurder is ons ou plaasbestuurder,” kom dit ewe lakonies van André. Hy is effe ongemaklik omdat dit die geval is en persoonlikhede word as die rede geopper.
“Ek is nie so tevrede met sy persoonlikheid nie, bietjie kantkieserig. Hy’t ’n bietjie van ’n ander tipe manier van bestuur, maar op die stadium weet almal al wat om te doen. So, ons val maar net in,” laat hy hoor.
Groenkloof se lootjie word deur Monique getrek en so word sy hierdie seisoen se eerste vroue-plaasbestuurder.
“Oh my goooooshhh! En toe’s ek van, ‘Dankie, Jesus’ . . . en toe’t ek my Oscar speech gehad,” sê die nuwe plaasbestuurder. Sy erken sy het nog nie baie navorsing gedoen oor “die mag van die mes” nie, maar sy gaan nie daaroor stres nie.
“Almal is rustig. Ek dink hulle tjarra-tjarra in elk geval so onder mekaar laat hulle gaan nie ’n hel omgee wat ek sê nie. Of vir my luister nie.”
Die ‘l’-woord duik weer op.
Danielle en Pieter is doenig by die melkstal onder aanvoering van Michelle wat hulle soos ’n verkeersbeampte reguleer om die koeie op die regte plek in die stal te kry.
“Ek het vanoggend die beestekraal se water skoongemaak en nuwes ingegooi. Ek het met die aartappellande begin én ek het kos gemaak. Ek hoop net die plaas kan sien dis wat ek kan doen,” sê Danielle.
Maar nie almal sien raak wat sy wil hê hulle moet sien nie.
“Ek dink sy is ’n klein bietjie onvolwasse, as ek dit so kan sê. Ennnnn . . . sy’s lui,” kom dit van Michelle.
“Ons kort iemand wat vinnig kan hardloop, ons kort iemand wat hulle gewig kan dra, ons kort iemand wat hul 100% kan gee.
Pieter erken wel dat Danielle werk, maar dis halwe werk.
“Dit is nie dat wat sy doen, nie klaar gedoen word nie. Dis dat wat sy doen, doen sy voluit. Maar sy kan nog twee keer meer doen,” is sy opinie.
Stanley se strategie en Danielle se liefde vir slaap
Terwyl hy ernstig besig is om die pappot te roer, deel Stanley sy strategie met Danielle.
“Ek dink nou is nie die beste besluit om met die majority vriende te maak nie want dit het my amper in die g*t gebyt,” kom dit ernstig van hom. Maar Danielle is vinnig by om hom te verseker sy het steeds vertroue in hom.
“Ek hoop jy het nog steeds vertroue in my? Ek sal nog steeds nie vir jou stem nie. Ek hoop nie jy sal vir my stem nie,” lok sy ’n belofte van hom uit.
“Dit voel nou asof hulle ’n mens uitsit en ek, jy en André is weer op iets anderster want hulle is so vroeg op in die oggende. Dan voel ’n mens maar soos in jôh, is ons nou sleg omdat ons lê nou net nog ’n bietjie in?
“Jy weet, dit gaan nie oor kom ons kyk wie doen die meeste werk hiersô nie, dit gaan net oor kom ons werk almal hard saam,” kom dit van Danielle.
Die leuen duur voort
Terwyl daar rondom die plaasdam tande geborsel word op Groenkloof, hou Etienne vol dat hy vir Jannie gestem het. Maar dit laat vrae opduik – wie het dan vir Milandie gestem?
Sy is oortuig dit was Jannie, Riaan en Zanie. Maar Monique skop vas.
“Zanie het nie vir jou gestem nie,” en bevestig dat Zanie vir Riaan gestem het.
Met dié draai Milandie na Etienne en sê: “Wel, iemand bullsh*t jou dan.”
Tyd vir ’n uitdaging
Dis tyd vir die spanne om vir Ewan by die Klein Erf te ontmoet. Oranjezicht hoor vir die eerste keer met hoeveel die prysgeld verminder het na die vorige aand se Koöperasie-kuier. Wenkbroue wip en diep sugte word gehoor.
Ewan vertel dis tyd om ’n bietjie stoom af te blaas en om pret te hê. Dit word met groot gejuig aangehoor, meer nog toe hulle hoor die tema vir die dag is boeresport. En dat die wenspan ’n baie lekker bederf gaan ontvang.
Dis nie die einde van Ewan se nuus nie. Maar eers: Boeresport.
Driebeenresies met die eier en lepel daarby, is die eerste uitdaging. Dis Danielle en Michelle vir Oranjezicht en Riaan en Blue vir Groenkloof. Beide spanne trap suutjies-suutjies want spanwerk is baie belangrik om seker te maak daar val nie ’n eier op die grond nie.
Nadat Oranjezicth die eerste been gewen het, het Groenkloof sommer blitsvinnig die bordjies geswaai en die resies gewen. Hulle tel die eerste punte aan.
Gaan die vere waai met die kussinggeveg?
Dis Pieter teen Blue! Skaars twee houe van Pieter dryf Blue van die planke. Zanie en Michelle lewer meer van ’n skouspel en na ’n paar vurige houe is dit Michelle wat die aftog moet plaas.
Ook Stanley is die meester van kussinggevegte, maar Milandie verhang die bordjies. Ook Riaan is te sterk. Een-hou-moker-Monique laat op haar beurt vir Danielle in die stof byt. Hulle loop 2–0 voor.
Gaan die toutrekkery, wat 2 punte kan oplewer, dalk Oranjezicht se kanse verbeter? Nie maklik nie want Groenkloof maak korte mette van die kompetisie en trek die hele Oranjezicht-span die modderbad binne.
Daarmee wen hulle ook die lekker beloning van ’n klaar-voorbereide warm water om in neer te plons en ietsie om die plaasstof mee af te sluk.
Nóg ’n verrassing
Vroeër het Ewan belowe dat daar nog nuus op die spanne wag. En hy doen sy belofte gestand: Vir die spanne wag daar ’n heerlike braaivleisvuur waar hulle heerlik gaan saamkuier om mekaar beter te leer ken.
Dit word oorweldigend verwelkom. En die tafels wat kreun onder lieflike slaaie, waatlemoenskywe en die bobaas-braaivleisvuur dra gou by tot ’n baie gesellige atmosfeer tussen die twee spanne.
“Vir ’n oomblik het ek vergeet jy’s hier om strategies te werk te gaan, want dit was heerlik,” sê Blue.
“Julle lyk almal goed vir jul ouderdomme, hoor. Ek weet nie of dit die gym is of wat nie,” komplimenteer Danielle die span van Groenkloof. Sy is dadelik gek oor die groep en wens sy kon saam met hulle huis toe gaan: “Hulle is my tipe mense”.
Nuwe vriendskappe
Etienne teiken vir Danielle en probeer uitvis wie in hul span die pekelpennie gespeel het.
“Hoorie, dis nog ’n discussion tussen ons almal,” laat sy hoor en hy volg ewe gladweg op met: “By ons ook.”
Etienne glo hy het ’n band met Danielle gesmee sou enigiets anders gebeur. Hy beskryf haar as ’n straight shooter en kort voor lank kom sy met die hele sak patats na vore: “Dit was ek,” lig sy hom in oor die gespeelde pekelpennie.
Milandie sien rooi vlaggies. Sy vertrou geensins vir Danielle nie, en die skielike groot gesprekke tussen haar en Etienne hits die wantrou nog verder aan.
“Ek is seker daarvan Etienne het my alweer onder die bus gegooi,” is die gevolgtrekking waartoe sy kom.
“Ons het lekker gebraai, ons het vir mekaar geglimlag en hulle is genuinely nice mense – maar ek sal hulle nie vertrou om my skape te voer nie,” sê Riaan na afloop van die braai.
Warm water en koue vonkelwyn
Benewens die heerlike braai, het Groenkloof se span ook ’n heerlike warmwater-bedryf en vonkelwyn wat op hulle wag.
“Toe is dit asof die game en die gevoelens wat ons het teenoor mekaar, basically just wegsmelt,” erken Blue.
Uitskop-uitdaging: Wat wag vandag?
By die Groot Arena stel Ewan die twee spanne bekend aan Boer soek ’n vrou (seisoen 15) se boer Hennie, ’n koringboer van Moorreesburg. Boer Hennie is natuurlik Hennie de Villiers en hy het sy droomvrou tydens daardie seisoen ontmoet.
Twee spanlede moet twee sakke koring van die hoek van die werf tot by hul werksbank bring. Dan gaan die volgende twee spanlede werk om die koring van die kaf te skei. Die laaste twee spanlede sal daarna die koring maal en sif om meel te kry. Die wenspan is die een wat die skaal op 2,5 kg meel laat registreer.
Dis nie genoeg nie. Ewan én Hennie moet gelukkig wees met die gehalte van die meel wat aangebied word.
Vir Groenkloof doen Riaan en Anelda die dra-werk en vir Oranjezicht is dit Stanley en André wat die spiere gaan bult.
Michelle en Liovian blaas-blaas die koring om dit van die kaf te skei. Maar o wee! Hulle blaas dit binne-in Monique en Milandie se meelbak in. Chaos.
Ná ’n fyn inspeksie deur boer Hennie, kry Oranjezicht eerste die groen lig om hul koring te laat maal.
Groenkloof is nie gelukkig met Oranjezicht se strategie nie. Terwyl Riaan hulle probeer aanmoedig, is dit Anelda wat baie vies laat hoor: “Ja, maar hulle het ge-cheat!”.
Eindelik is hulle ook by die meul en elke spanlid kry ’n kans om die meul te draai. Dis harde werk dié.
Ten spyte van Oranjezicht se aanvanklike voorsprong by die meul, is dit Groenkloof wat eerste na die skaal toe hardloop. 2,4 kg!
Riaan se arms pomp soos ’n besetene om die koring te maal terwyl Oranjezicht 2,3 kg op die skaal haal.
Dis Zanie wat met die laaste bottel meel hardloop en dit registreer 2,5 kg. Maar gaan boer Hennie tevrede wees met die kwaliteit? Absoluut!
‘Dis ’n rowwe ene’
Dis ’n bedremmelde sestal wat terugkeer na hul huis op Oranjezicht.
“Ek gaan heeltyd sê dat dit emosioneel dreinerend is om elke keer te verloor en om Koöperasie-kuier te gaan besoek, want dit is nie lekker nie. Maar dit is ook nie goed om te sit met spanmaats wat nie hul sout werd is nie,” sê Liovian.
“Dis ’n rowwe ene,” som Stanley dit kortweg vir almal op.
“Dis iets wat as ons verloor het, verloor ons nou nie als nie want ons is nou besig om ons span bietjie fyn te kam. Daar is Stanley wat my irriteer, maar ek voel net met elke uitdaging . . . Danielle is so bietjie van ’n disability wat ons het, jy weet.
“Sy dra baie tot span-moreel by want sy chat lekker, man. Maar as dit by uitdagings kom, gaan chattiness nie help nie,” kom dit van Pieter.
Michelle erken teenoor Danielle dat hulle verloor vir haar ’n baie teer puntjie is. En vir Danielle gaan dit daaroor dat daar weer vir iemand gestem moet word. Op Michelle se vraag wat sy dink, gooi Danielle vir Stanley onder die bus. André se naam duik ook op.
Danielle wil hê Michelle moet met Pieter en Liovian oor Stanley praat.
“Ek voel [Stanley] praat te veel en dan . . . ons kom nie by ons punt uit wat ons wil hê nie,” sê sy vir Michelle. En sy voel al hoe meer sy is werklik haar sout werd.
Sy gooi ook haar net oor Pieter terwyl hy besig is om nog ’n blikkie bully beef oop te maak en vertel hom sy vertrou hom omdat hy so regverdig is. Pieter rol net sy oë en verdwyn om die hoek.
Terwyl Michelle klere was en André water skep by die dam, gesels die twee oor Danielle se voorstel rondom Stanley. Hulle is dit eens dat Danielle haarself probeer red. André gee nie om watter een van die twee gaan nie, maar óf Stanley óf Danielle moet nou gaan.
“Ek hét met Danielle ’n lekker konneksie gehad. Maar ek het vinnig agtergekom sy is nie wat sy voorgegee het in die begin nie omrede ek gesien het sy steek lyf weg en sy beïnvloed.
“Sy hou van geselsies maak en mense die heeltyd prys en prys en prys en dink die ander kom dit nie agter nie. Ek kan net met jou ’n bond vorm, maar dit help nie ek het haar rug en sy’t nie my rug nie. So, dan moet sy ongelukkig gaan,” verklap Michelle op kamera.
“Die mag van die mes”
Stanley wonder kliphard wat sal gebeur as almal vir een persoon stem, maar die “mag van die mes” word op daardie persoon gebruik om die sout vol te maak.
“Hmm-hmm, jy kan net een koppie skenk,” lig Danielle hom in. Dit laat Stanley die inspan van die mes tydens die aand se stemmery heroorweeg. Gaan hy by sy voorneme hou om dit nie in te span nie?
Intussen vestig Danielle haar hoop daarop dat die span onder meer die beloning wat sy gekies het (koffie en suiker daagliks in episode 3) in gedagte sal hou en haar nie sal uitstem nie.
Koöperasie-kuier
Ewan wil uitvind hoekom die stadsjapies besluit het om hulle bloot te stel aan die lewe van ’n plaasjapie.
Michelle is eerste aan die beurt. “Ek het vir myself gesê ek gaan myself eerste sit. Ek sit gewoonlik ander mense bo my en kyk altyd dat ander mense oukei is . . . so, ek wil hier uitstap, ek wil ’n beter mens wees, ek wil ’n sterker mens wees.
“En natuurlik doen ek dit vir my kinders by die huis. Ek wil vir hulle wys dat niks is onmoontlik nie,” kom dit met trane in die oë van die Namibiër.
“Ek is hier om definitief my beste te kan gee, om te kan kyk of ek sterk genoeg is as persoon om hier in te kan stap en uit te kan stap as ’n wenner,” is Stanley se antwoord en voeg by hy wil vir sy ouers ook wys hulle het ’n goeie seun grootgemaak.
Danielle sê sy is hier vir haar kind wat verlede jaar stilgebore is, iets wat sy nog nie met die span gedeel het nie. In dieselfde tyd het haar man sy werk verloor en hulle het huis en alles verloor.
“Ek is net hier om vir my kind te bewys dat ek is ’n goed genoeg ma en ek wens net hy was hier vandag om dit te besef,” en ook dat sy vir haar man kan bewys sy is ’n vrou en ’n mens werd, kom dit tussen die trane deur.
Ook Liovian se man het sy werk gedurende die pandemie verloor. Sy moes instaan as ma, as broodwinner en hulle deur ’n verskriklike moeilike tyd help. En haar boodskap aan haar kinders is: “It doesn’t matter how many times you fall, what really matters is how you get up.”
Stemtyd
Vanaand is ’n pekelpennie R35 000 werd. Gaan iemand dit speel of spaar vir later?
Baie duime wys na onder en na die stemtyd is daar net twee emmers met sout wat na vore gebring word – dié van Stanley en Danielle.
Danielle is die een wat hierdie keer nie haar sout werd is nie.
“My hart is seer, maar ek is baie trots op myself want ek voel ek het baie hard gewerk. Ek voel ek het alles in my gegee – op die werf, op die plaas – en as dit nie goed genoeg is vir my span nie, dan is dit nou maar so,” sê sy.
“Ek is maar net bly vir my tyd hiersô. Ek voel ek het uitgestaan uit die span uit, ek voel ek het definitief my naam gemaak en ek is trots op die persoon wie ek is. Alhoewel Ewan gesê het ek is nie my sout werd nie, glo ek ék is my sout meer werd as enigiemand anderster in my span.
“Niemand sal meer oor my trap nie!”
Volgende keer
Glanssjef Herman Lensing kom kuier by die plaasjapies maar die brood is rou. Daar is botsende belange en manewales met melktyd . . .
Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.