Menu terloops
In TV [10 Jul 2026]

‘ONTWAAK’: ‘Koek’ se Cindy Swanepoel, ‘Reënboogrant’ se Minke Marais in nuwe Afrikaanse rillerreeks


’n Nuwe Afrikaanse rillerreeks op DStv Stream, ‘ONTWAAK’, met Cindy Swanepoel en Minke Marais in die hoofrolle, bring vrae oor behorendheid – en wat ons sal prysgee vir aanvaarding – onder die loep.

Deur Redaksie
‘ONTWAAK’: ‘Koek’ se Cindy Swanepoel, ‘Reënboogrant’ se Minke Marais in nuwe Afrikaanse rillerreeks
Kyk lokprent

Hoeveel van jouself sal jy prysgee om iewers te behoort? Dit is die vraag wat die kern van ONTWAAK, Sonvelt Media se nuwe Afrikaanse psigologiese rillerreeks, vorm. Dié reeks van agt episodes, geskryf deur Wessel Pretorius en met André Velts in die regisseurstoel, is vanaf 14 Julie eksklusief op DStv Stream beskikbaar.

Die storie en spelers

Die hoofkarakter is Melissa Human (Cindy Swanepoel, Koek), ’n psigiater wat ná jare oorsee terugkeer na Suid-Afrika om by Noordlig, ’n psigatriese inrigting vir misdadigers, te begin werk. Haar nuwe lewe neem ’n onverwagte wending wanneer sy met mense en gebeure uit haar verlede gekonfronteer word.

Die ondersoek na ’n ritualistiese moord lei na Horisonne – ’n afgesonderde gemeenskap wat kwesbare mense lok met die belofte van identiteit, veiligheid en ’n plek waar hulle uiteindelik kan behoort. Maar agter dié belofte skuil ’n donker werklikheid. Wanneer Melissa dieper delf, ontdek sy ’n wêreld waarin trauma, manipulasie en geloof gevaarlik met mekaar verweef is.

Vir Wessel het die reeks ontstaan uit ’n belangstelling in die manier waarop mense hulself binne groepe en gemeenskappe definieer. “Ek is gefassineer deur kuddementaliteit,” sê hy. “Die vraag waaruit ONTWAAK ontstaan het, was: Hoeveel van jouself sal jy prysgee om te behoort?”

Ontwaak, Cindy Swanepoel
Cindy Swanepoel as Melissa Human in Ontwaak. Foto’s: Verskaf

Volgens Wessel is die reeks nie bloot ’n verhaal oor kultusse nie – dit gaan oor ’n universele menslike behoefte. “Meeste mense smag daarna om deel te wees van ’n groep of ’n beweging. Ons wil nie agtergelaat of uitgesluit word nie. Selfs al resoneer die stam se etos nie noodwendig met ons nie, sal ons soms persoonlike etiek prysgee om aanvaar te word.”

Vir André was dit belangrik dat die wêreld van ONTWAAK onheilspellend voel sonder om ongeloofwaardig te raak. “Die ruimtes dra gewig en geskiedenis,” sê hy. “Die stel word amper ’n karakter op sy eie. Van die beligting en kameralense tot kostuums en klank het elke element bygedra om die sielkundige spanning van die verhaal te ondersteun.”

Groter vrae

Hoewel ONTWAAK spanning en die tergende raaisels van ’n misdaadriller vervat, vra dit ook groter vrae oor identiteit, invloed en die behoefte om êrens te behoort. Wessel hoop die reeks sal gesprekke oor hierdie kwessies ontlok en dat kykers hulself ná afloop van die laaste episode sal afvra: “Dink ek vir myself, of volg ek maar net die groep?”

ONTWAAK is deur Sonvelt Media (Reënboogrant, Pronk Primêr en Ek, hy en jy) vervaardig. 

Die reeks spog met ’n ensemble-rolverdeling wat, buiten Swanepoel, ook vir Minke Marais, Chris Chameleon, Carel Nel en Sean-Marco Vorster insluit.


ONTWAAK begin 14 Julie eksklusief op DStv Stream wanneer die eerste twee episodes beskikbaar gemaak sal word. Daarna volg ’n nuwe episode weekliks.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies