Menu terloops
In Gons [3 Sep 2025]

‘My f*k, Marelize!’ skiet na nommer 1


‘My f*k, Marelize!’ het die top-posisie by die Suid-Afrikaanse loket (en in Namibië) tydens sy openingsnaweek verower.

‘My f*k, Marelize!’ skiet na nommer 1
Kyk lokprent

Die Afrikaanse film My f*k, Marelize! het oor die naweek die ligte uitgeskiet by die loket en daarmee die boonste sport op die Suid-Afrikaanse toptien bereik. En dít ten spyte van strawwe internasionale kompetisie in The Roses, Caught Stealing en Afterburn wat tans ook op die kringloop is. 

Dit is die eerste Afrikaanse rolprent wat weer op nommer een open sedert Ivan Botha en Donnalee Roberts se reusetreffer Pad na jou hart (2014).

Dié rolprent het by die onlangse Silwerskermfees première.

Oor die naweek het dit 24% van die inkomste wat die toptienflieks by die loket verdien het, ingebring. In Namibië – waar dit verfilm is – was die fliek vir 6,3% van die naweek se algehele loket-opbrengs verantwoordelik. Dít is ’n nuwe rekord in Namibië vir die persentasie wat ’n Afrikaanse rolprent in die openingsnaweek verdien het.

In vergelyking met ander Afrikaanse trefferflieks het Marelize, in terme van die openingsnaweekverdienste, 89% beter as verlede jaar se Die Kwiksilwers by die loket gevaar.

My f*k, Marelize! is gegrond op ’n ware verhaal van ’n viral video wat ’n nasie geïnspireer en ’n uitdrukking in die volksmond geword het. Dis ’n coming of age-film wat gaan oor Heidi, ’n vrou met verbete wilskrag wat haar kanker vir haar familie wegsteek, en Marelize, haar ongeluksvoël-dogter wat moet leer fietsry om as au pair in Nederland te gaan werk.

Meer as R1 miljoen by loket

My fok marelize
Zandélle Meyer (Suidooster, Wyfie) vertolk die naamrol in My f*k, Marelize! Foto: Verskaf

“Die film het nou al meer as R1 miljoen by die loket verdien. Dít is geen geringe prestasie nie en veral noemenswaardig in die huidige klimaat,” sê Nicola Auret, MultiChoice se uitvoerende hoof van programsamestelling. “Ons is verheug oor die loketsukses van My f*k, Marelize! in die openingsnaweek. Ons is baie trots op hierdie film en dankbaar vir die samewerking van die Namibiese filmbedryf en mense om dit moontlik te maak. ’n Plaaslike speelfilm wat nommer een by die loket is, is uitstekende nuus vir die plaaslike filmbedryf.”

My f*k, Marelize! is geskryf deur Brett Michael Innes (Khaki Fever, Sink, Fiela se kind). Zandré Coetzer (Mooiweer en warm, Dinge van ’n kind) het die regie behartig. Marelize is haar debuut as speelfilmregisseur.

Oor die sukses van die film se openingsnaweek sê Zandré sy is oorstelp van vreugde. “Dit wys weer dat opregte stories saak maak en dat gehore positief reageer op alledaagse mense wat buitengewone dinge doen.” (Lees ook ons onderhoud met Zandré oor die fliek.)

Die hoofrolle in My f*k, Marelize! word vertolk deur  Namibies-gebore Je-ani Swiegelaar (Binnelanders, Pad na jou hart, Vuil wasgoed), Zandélle Meyer (Suidooster, Wyfie), Neels Clasen (Spoorloos: Losprys, Raaiselkind) en Nichola Viviers (Nuwejaar, Meisiekind).

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies