“Sedgefield is nie die N2 nie, jy draai af in Sedgefield – en dan sien jy hierdie pragtige dorp. Dit is berg, dit is see, dit is bos, dis meer . . . en dis soveel meer as wat jy dink,” kom dit van Lottoland help ’n dorp se aanbieder, sangeres Leah van Niekerk.
Dis jou dorp . . .
“Sedgefield is uniek omdat al die mense almal hierheen getrek het, dink ek, omdat hulle van hierdie stadige leefwyse hou wat ons in Sedgefield het. Daar’s geen gejaag in Sedgefield nie,” sê Sally Theron, Revive Sedgefield.
Linda Evans, Revive Sedgefield, stem heeltemal saam hiermee. Hulle het tien jaar gelede na die dorpie getrek en die dag toe hulle intrek, het al die bure rondom hulle koek en tee aangedra. Hulle het onvoorwaardelik hul hart op die gemeenskap verloor, ’n gemeenskap wat sy as ’n verskuilde juweeltjie beskryf.
Antoinette Brinkmann, Revive Sedgefield, is verstom dat soveel mense onbewus is van waar Sedgefield nou eintlik geleë is. Sy noem dat dit in die middel van Knysna en George aan die pragtige Tuinroete is.
“Wat is die verskil tussen gelukkig wees en vreugdevol?” vra Eddy Lloyd, gemeenskapslid. “Wanneer jy met vakansie gaan, is jy gelukkig. Wanneer jy in Sedgefield bly, is jy vreugdevol,” kom dit met ’n laggie van sy kant af.
Wat die dorpie nog lekkerder maak, is volgens Edelweiss Flynn, Revive Sedgefield, meer as net die see. Dit is ook die strande wat uiteenlopend van aard is. En vir haar is die natuurskoon onbeskryflik.
Dr. JC Venter, gemeenskapslid, is ook geesdriftig oor die natuurskoon en plekke soos Swartvlei, Groenvlei, die pragtige meer en rivier, en dan die markie. Hy glo Sedgefield bied alles wat ’n mens nodig kan hê.
Draai in by daai verkeerslig…
Sally voel dat mense net links en regs kyk en verby ry, maar sy moedig besoekers aan om by die dorp se enigste verkeerslig in te draai en deur die pragtige gemeenskap te ry.
Sy kan ook nie uitgepraat raak oor die ondersteuning wat hulle van die gemeenskap ontvang nie. Wanneer hulle besig is met projekte, is dit nie ’n vreemde gesig om van die gemeenskapslede te sien koeldranke of ietsie te ete aan te dra nie. Daar word raakgesien dat hulle die dorp probeer verfraai.
Revive Sedgefield het ongeveer twee jaar gelede tot stand gekom met net ’n handjievol mense tydens die eerste vergadering.
Linda sê hulle het besef die dorp is besig om agteruit te gaan. Van die paaie is vol slaggate en daar is verskeie geboue wat aandag nodig het, maar die fondse is skraps. Dit het hulle motiveer om die inwoners betrokke te kry en aan die gang te kom om dinge te verander, eerder as om net oor alles te kla.
Donderdae gaan die groep uit en versorg die dorp se tuine. Dis waar hulle vrywilligers ook nader.
“Ek het nog altyd gesê een mens kan nie alles doen nie, maar almal kan iets doen, en ek dink saam kan ons dan mos baie doen,” is hoe Sally hierdie projekte in Sedgefield benader.
Help, Lottoland help ’n dorp
Antoinette vertel vir Leah dat hulle baie projekte het wat hulle bitter graag sou wou takel. Revive Sedgefield het vier projekte ingeskryf vir Lottoland help ’n dorp.
Hulle wil die goed-benutte gemeenskapsaal ’n nuwe lagie verf gee, daar is spoedhobbels wat geverf moet word en astro-gras vir kinders waarby Masithandane, wat wonderlike gemeenskapswerk doen, voordeel sal trek. Die vierde (en grootste projek) is om die speelparkie oor te doen.
Die groen koevertjie
Leah wil by Antoinette hoor of hulle ’n Plan B het indien dinge nie uitwerk soos wat hulle voor hoop nie.
Antoinette sê hulle het al baie teleurstellings in die verlede ervaar, maar hulle sal voortgaan soos gewoonlik. Nog funksies sal gehou word om geld in te samel, en sy sê hulle sal aanhou tot waar hulle alles gedoen kry.
“Gelukkig vir julle het ek ’n verrassinkie vir Sedgefield,” en met daardie woorde oorhandig Leah daai groen koevertjie aan Antoinette.
Met bewende hande kry sy die koevert oop en tot haar uiterste verbasing stel Lottoland help ’n dorp R485 000 beskikbaar om hulle met opknappings in Sedgefield te help.
“Dis die beste nuus ooit!” sê sy.
Toe Sally ook ’n koevertjie met dieselfde boodskap ontvang, is sy geheel en al deur haar emosies oorrompel. En Linda? Sy kon haar oë nie glo nie. Ja, nie een van hulle het die boodskap sonder ’n traan in die oog ontvang nie.
Agt weke later
Met haar terugkeer vertel Antoinette vir Leah dat hulle so half ’n prentjie gehad het van hoe die speelparkie gaan uitdraai, maar die resultate het alle verwagtinge by verre oortref.
Sally sê die afgelope tyd was ’n tydperk van gemengde gevoelens – van opgewondenheid tot hartseer, alles sommer net deurmekaar. Maar, vertel Linda, hulle het ook baie pret tussen die harde werk deur gehad. En hulle het al hul projekte afgehandel!
Antoinette noem dat daar by tye goeters opgeduik het in die vorm van onverwagte uitgawes, maar dan was daar ook ander plekke waar hulle kostes kon inkort. Op die ou end het hul begroting 100% geklop.
Kwas in die hand
Een van die spannende projekte was die gemeenskapsaal omdat dit deurlopend in gebruik is. Gelukkig kon hulle vir twee weke lank toegang tot die saal geniet om dit op te knap.
Alfonso de Kock, opsigter van die gemeenskapsaal, kan nie genoeg dankie sê vir Revive Sedgefield nie. Hy sê die saal het in baie jare nie so mooi gelyk nie. Aan die einde was dit nie net ’n nuwe lagie verf nie, maar die houtvloere is afgeskuur en weer verseël en die binnekant is ook uitgeverf.
Edelweiss vertel dat hulle informele verflesse by die munisipale werkers gekry het oor hoe hulle die spoedhobbels moet verf. Sy sê aanvanklik het dit maklik gelyk, tot waar jy die kwas in die hand het. Dan moet jy weet wat jy doen . . .
Toe hulle eers aan die verf kom, het ook die stopstrate onder hul kwaste deurgeloop.
Danksy ’n donasie kon hulle plaveisel lê wat na die astro-gras lei, en ook plaveisel rondom die astro-gras.
“Hier waar ons nou sit . . . dit was net sand. En nou, kyk om jou heen. Ons het so ’n pragtige grasperk, ons het ’n mooi pad,” sê ’n baie ingenome Jacky Weaver, bestuurder: Masithandane. Sy is baie bly dat daar nou speelplek vir die kinders is, maar terselfdertyd ook ’n bestemming is vir die bejaardes. Dis ’n plek vir almal.
Feetjieland
Linda waarsku Leah dat die nuwe parkie haar asem gaan wegslaan. En sy’s reg. “My verwagtinge is heeltemal oortref. Dit is feetjieland!” is haar eerste woorde.
Meer as 90 m2 grond is ingery, van die ou toerusting is afgesaag en die afgesaagde dele is ingespan om weer nuwe speelgoed vir die kinders te maak. Nuwe gras, plaveisel en ’n boomstomp met ’n fenomenale feetjiehuis is maar net ’n paar van die skitterende veranderinge wat plaasgevind het.
Wisdom Galadile, Revive Sedgefield, is oorstelpt van vreugde met alles wat by die parkie plaasgevind het. Hy is ook trots op wat hulle alles verrig het om die parkie van algehele verval te red.
Sally dink CJ Langenhoven se werksresep is presies wat hulle met hierdie projek gevolg het: “Jy moet swaarkry met lekkerkry klaarkry”.
Linda sê sy het veral uit hierdie proses geleer wat alles bereik kan word as mense net saamwerk.
“Pak die bul by die horings en skryf in. Jy sal nooit spyt wees nie, want Lottoland help ’n dorp hélp ’n dorp. Ons het dit gedoen, en as ons dit kon doen, glo ek enige ander dorp kan dit ook doen,” moedig Sally ander dorpe aan.
Toe Leah by haar wil weet wat sy vir die spanlede en vrywilligers wil sê noudat alles afgehandel is, het sy net een kragtige woord vir hulle: “Bravo!”
Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaand om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.