“Welkom in die middelpunt van Suid-Afrika. Dis eg-Vrystaats. Dis ’n kléín dorpie,” vertel die programaanbieder Leah van Niekerk oor haar kennismaking met Petrusburg in vandeesweek se episode van Lottoland help ’n dorp.
“Ons het nou nie ’n see nie, maar ons het die mooiste blou lug. In die somer is dit so lekker om buite te sit met die helder sterre. Dit maak dit so spesiaal hiersô,” sê Petro Beneke, projekleier, oor dié dorpie wat ’n regte boeregemeenskap is.
Elana en Fasie Grobbelaar, eienaars van Quest Garage, voel hierdie is ’n veilige omgewing vir almal. Hul vyf kinders kan met die grootste gemoedsrus na hul oupa se huis op die dorp stap. Sy hou baie daarvan, en ook dat kinders hier ook net kan leer om te speel sonder enge kommer.
Dis jou dorp…
Alhoewel daar nie baie op Petrusburg gebeur nie, voel Leah dat hier al aansienlik gelééf is – van die stadsaal tot die oorgroeide skougronde.
“Ons maak die lekkerste boerewors in die land,” kom dit onomwonde van Kobus Hugo, die eienaar van Petrusburg Vleismark. Maar hy maak nie net boerewors nie. Hy het self ingespring om die grondstraat na sy huis reg te maak. Toe sien hy die slaggate in die teerpaaie raak.
“Toe’t ek by die paaie-administrasie teer gekry, ek het ’n paar manne gehuur en ons het al die slaggate toegemaak op Petrusburg.”
Wat hierdie ervaring vir hom ’n unieke ervaring gemaak het, was die feit dat hy die slaggate op sy eie begin doen het. En toe begin mense saamspan en help ook uit.
Fasie is ook vol lof vir hul brandbestrydingsdiens. Sodra daar ’n WhatsApp-boodskap ontvang word oor ’n brand, sal daar maklik 50 bakkies opdaag om te kom help, vertel hy.
Dan het die boere en die inwoners van hierdie lieflike dorpie ook hul eie veiligheidsvereniging begin. “Die mense . . . hulle is rêrig . . . aktief in die dorp om ons dorpie beter te kry. Daar’s nie iemand wat nou voel laat ons dit nou maar net los nie,” sê Petro. Sy sê wanneer daar met sulke mense gewerk word, is die resultaat dat ander ook lus raak om by die projekte betrokke te raak.
“As ons iets aanbied in die dorp, dan is die boere betrokke.”
Petro is aktief betrokke by die Vroue-landbou-unie (VLU) en vir vanjaar se fondsinsamelingsaksie is daar besluit om fondse vir kanker in te win. En sy het besluit om nie net die handjievol VLU-vroue se hulp in te roep nie, maar die hele gemeenskap te nader.
In haar soeke na ’n plek om ’n sportdag vir die fondsinsameling te hou, het haar by die skougronde laat beland. Maar dit was baie verwaarloos omdat dit in 2015 laas in gebruik was.
Help, Lottoland help ’n dorp
Petro vertel vir Leah hoe die skougronde vroeër vir een van die hoogtepunte op Petrusburg se kalender was. Soos byvoorbeeld die legendariese Aartappelfees wat jaarliks daar gehou is. Dan is daar die perdestalle wat eens onder die beste in die land getel het.
Vir Petro voel dit of die inwoners van Petrusburg familie is. “En as jy mos deel van ’n familie is, dan wil jy hê jou familie moet groei en jy wil jou familie vooruit help,” vertel sy vir Leah. En sy wil ook met hierdie projek haar dankie aan die gemeenskap sê.
Vir Leah is die verval van die skougronde hartseer want soos sy dit van naderby beskou, bly sy prentjies in haar kop kry van hoe dit in volle fleur gelyk het, “die absolute opwinding van ’n skougrond, en ’n mens kan dit sien”.
Die skougrond is in die dertigerjare begin en dit is Kosie Steyn Park genoem. Kosie was glo ’n onderwyser op die dorp wat met die idee na vore gekom het om ’n skou te begin.
Toe Dirk Terblanche, projekspanlid, in 1983 op Petrusburg beland het, was dit nog ’n groot gemeenskap. “Daar was seker vier keer meer boere as wat daar vandag is. Hierdie skougronde hier was gebruik vir die perdeskou. Dit was die tweede grootste perdeskou in die Vrystaat, onthou hy.
Sedert die skougronde in onbruik verval het, het vandale lustig toegeslaan en wat nie gesteel kon word nie, is stukkend gebreek. Dit is ook vir Petro ’n hartseer saak want toe die skougronde nog ten volle benut is, is daar baie goeie goed gedoen met die wins wat gemaak is. Die ouetehuis het byvoorbeeld groot baat daarby gevind.
Leah erken dat sy effe angstig voel oor die hoeveelheid werk wat voorlê om Petro se droom
van ’n gelukkige plek vir die gemeenskap te bewaarheid. En sy droom van atletiek, sokker, jaffles en pannekoek . . .
“As hier weer ’n ordentlike fasiliteit is, dan kan dit weer dreun!” kom dit van ’n begeesterde Dirk. Hy sien uit daarna om ’n bestemming vir die kinders te vestig.
Vir Petro is die hoop daar dat, sou hierdie projek van die grond af kom, dit iets vir toekomstige generasies sal nalaat waarop hulle kan voortbou.
Die groen koevertjie
Dis ’n opgewonde Leah wat die groen koevertjie aan Petro oorhandig. Sy is effe uit die veld geslaan want dis nie wat sy gedink het nou gaan gebeur nie.
Maar toe sy besef daar gaan R350 000 beskikbaar gestel word om Petrusburg te help, erken sy laggend dat sy gedink het dis bloot ’n oefenlopie met die groen koevert en dat daar nie regtig iets in die koevert sou wees nie.
“Jy bewe, jy bewe as jy daai koevertjie so oopmaak en as jy daai woorde lees van ‘Lottoland help ’n dorp gee vir Petrusburg . . .’ Dit is die wonderlikste gevoel,” kom dit van ’n baie dankbare Petro.
Nou moet daar gewerk word.
Agt weke later
Petro erken daar was ’n paar negatiewe mense, maar die oorgrote meerderheid was baie opgewonde oor wat voorlê. Die resultaat is dat sy nou deur talle mense gekontak word wat dinge op die skougronde wil doen – en dít het haar stoutste verwagtinge oortref.
Die eerste groot atletiekbyeenkoms het alreeds plaasgevind met skole van die omliggende gebiede: Fauresmith, Jacobsdal en Koffiefontein.
Petro is net spyt dat die intense koue winter wat die Vrystaat ervaar het, verhoed het dat die gras lieflik groen kon spog vir die kamera. Maar sy glo oor ’n paar weke gaan dit heeltemal anders lyk.
Frans du Toit, een van die boere in die omgewing, sê die atletiekveld kort nog ’n bietjie aandag, maar met die gemeenskap en die boere se hulp gaan dit ook opgeknap word. Hy sien ook rugby- en sokkerspanne wat eersdaags hier op die veld gaan draf.
Danie Jacobs, gemeenskapslid, is baie beïndruk met die transformasie van toe tot nou en wat alles bereik is. Die paviljoen is oorgemaak en geverf, so ook die binnekant van die geboue. Talle vensters is vervang en baie herstelwerk is gedoen.
Kobus Groenewald, gemeenskapslid, vertel hulle het onder andere veiligheidshekke gemaak en ’n nuwe veiligheidsdeur geïnstalleer.
“As jy kyk hoe dit voorheen gelyk het en hoe vuil en vervalle dit was… Dis ’n nuwe plek dié,” vertel hy.
Petro vertel dat daar tydens die projek weer vandalisme was. Maar toe het een van die plaaslike onderwyseres vir Petro op die perseel raakgeloop. Sy het daarna met haar laerskool-kunsklas opgedaag en saam het hulle die geboue met die mooiste, vrolikste kunswerk opgekikker.
Ashwill Blaauw, gemeenskapslid, is opgewonde om te weet dat daar weer sportgeleenthede vir die kinders gaan wees. Hy het in 2010 na Petrusburg verhuis. Hy onthou goed van die Aartappelfees en hoe die Vodacom Cheetahs elke jaar daar kom rugby speel het.
En so word daar ’n nuwe bestemming met eindelose moontlikhede vir die inwoners in die middel van Suid-Afrika geskep. Daar is reeds sprake van ’n gospel-fees en ’n verjaardag-makietie.
Soos Dirk voor gehoop het: Petrusburg gaan inderdaad weer dreun!
Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaand om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.