Leah van Niekerk, Lottoland help ’n dorp se aanbieder, beskryf Howick as ’n unieke gebied met berge, woude, riviere, watervalle en damme.
“Howick is ’n klein dorpie met ’n gróót hart en dit is hoekom ek so lief is vir hierdie dorp. Groot drome, groot aspirasies en ’n groot gemeenskapsgees,” vertel Matt Hogarty, projekleier en stigter van Love Howick. Hy sê dis heerlik om deel te wees van ’n gemeenskap wat goed wíl verbeter. Boonop glo hy Howick is deel van die kuns en kultuur-kern van Suid-Afrika. Daar is hope kreatiwiteit wat toeriste lok, asook bestemmings soos die gewilde Midmar-myl en die Karkloof Classic, om nie van dié bergfietsuitdaging te vergeet nie.
Onlangs het Howick een van drie plekke in Suid-Afrika geword wat ’n UNESCO Creative City-toekenning ontvang het. Dit gaan oor kreatiwiteit, eienaarskap en hoe mense probeer oorleef in hierdie pragtige deel van ons land, vertel Christopher Pappas, burgemeester van die uMngeni Munisipaliteit. (Kaapstad en Overstrand is die ander twee UNESCO-bekroondes.)
Hier is baie goed om te doen, veral vir diegene wat van die buitelug hou. Een van die bekendste roetes in die land, is hier. Die Midlands Meander strek van Hilton tot by Mooirivier en al langs hierdie roete is daar ’n enorme verskeidenheid van handvaardighede en kuns wat deur die mense van die omgewing gelewer word. Christopher sê dit wissel van kerse maak tot gebak, gegote brons kunswerke en skilderye.
Gesonde mense, gesonde gemeenskap
Matt vertel dat die inwoners van Howick ouderdomsgewys baie divers is. Hy sê daar word na die dorpie verwys as die plek van die “newlyweds to the nearly deads”.
Hy het Love Howick nege jaar gelede op die been gebring, maar erken vandag dit was nie die beste vertrekpunt nie. Hy het deur die dorp gery en net die negatiewe goed raakgesien waaroor die meeste mense kla: slaggate, rommel, oorgroeide sypaadjies . . . Toe vra sy vyfjarige dogter wat saam met hom in die motor was, vir hom hoekom hy altyd oor alles kla en niks daaromtrent doen nie. En so kry Love Howick momentum in die regte rigting.
Met hierdie projek, wat verskeie onderafdelings takel, voel Matt of daar reeds ’n beweging weg van armoede in die rigting van gesondheid begin plaasvind het. Die einddoel van Love Howick is “gesonde mense, gesonde gemeenskap”.
Is Leah en Matt effe van die spoor af? Wat soek hulle by die treinbrug en die oorgroeide treinspoor buite die dorp? Matt stel haar bekend aan die Rail Trail, een van hul inisiatiewe om ou en afgeleefde bestemmings ’n nuwe greep op die lewe te gee sodat mense weer daar gaan inloer. Die plan is om die ou treinspoor in ’n promenade te omskep, ’n plek waar mense kan stap met dalk koffiestalletjies en musiekmakers op die roete. Vir Leah is hierdie “net baie cool” en sy sê dis al manier hoe sy hierdie spoorlyn in die woud kan beskryf.
Help, Lottoland help ’n dorp
Matt sê hulle het Howick ingeskryf met die hoop om nuwe asem in hul buitelug-galery te blaas. Daar is reeds verskeie plekke geïdentifiseer – van Nottingham Road deur Hilton tot by die einste spoorlyn waar hulle nou staan. Die bushaltes gaan versier word met skilderye van die mense wat van daardie haltes gebruik maak. QR-kodes by elke skildery gaan besoekers in staat stel om dit te skandeer en na die storie agter die skildery te kan luister.
Leah se eerste indruk oor die projek is dat dit anders en uniek is. Maar sy kon nie mooi uitwerk hoe die gemeenskap baat daarby gaan vind nie. Hoe meer Matt vir haar vertel het wat hulle beplan, het sy besef hoe groot die absolute passie, trots en dryfkrag om verbetering te weeg te bring, werklik is.
“Hulle dink aan die geskiedenis, hulle dink aan die toekoms en hulle dink aan die jeug. Hulle dink aan die hele gemeenskap. En dit is ook iets wat ’n hele klomp mense kan trek na hierdie dorp toe,” sê sy.
Die groen koevertjie

“Iets wat regtig uitstaan uit hierdie projek, is dat julle wil mooi skep uit iets wat vervalle is, wat gebroke is. En dis so lekker om te kan weet jy kan mooi uit lelikheid maak,” en met daardie woorde oorhandig Leah die groen koevertjie aan Matt.
Sy terg die Engelssprekende Matt toe hy die koevertjie oopmaak en sê sy weet hy het baie hard geoefen aan sy Afrikaans. Hy lag lekker saam en sê sy Afrikaans gaan nou beproef word, maar hy gaan probeer. Hy verstaan wel baie goed dat Lottoland help ’n dorp R400 000 vir Love Howick se straatkunsprojek beskikbaar gestel het.

“Is this true?!” kom dit van ’n oorstelpte Matt. Hy erken later hy het gedink dis ’n grap of bloot net ’n oefenlopie. Maar toe die werklikheid begin insink, is dit ’n diep-dankbare Matt wat nou slaggereed is om aan die werk te spring.
Leah noem aan hom dat dit die eerste keer is dat hulle ’n projek soos hierdie gaan ondersteun en dat hulle hoë verwagtinge koester oor die resultate. Ja, die druk is hoog!
Agt weke later
“Howdy van Howick af!” kom dit van Leah. Sy’s weer terug op die dorpie wat haar van meet af aan beïndruk het.
Matt sê die afgelope weke was ’n mallemeule van emosies, maar oor die algemeen ’n positiewe tyd. Love Howick het ook ’n vennootskap met Jackal & Hide gevorm as die kreatiewe kant en inspirasie vir die konsep, terwyl hy en sy span meer op projekbestuur en installasies gefokus het en tussendeur seker gemaak dinge word gedoen.
Jaqui Hildermann, kreatiewe direkteur en mede-eienaar: Jackal & Hide, vertel sy en muurkunstenaar Jono Hornby was al baie lank lus om die Midlands weer lewendig te maak. Die beste manier waarop dit gedoen kan word, lê vir haar in die vertel van stories.
“As hierdie jou land is, waar is jou stories?” en daarmee het hulle plaaslike Midlands-vertellinge met muurkuns gekombineer.
Lelo Mncwango, kunstenaar, vertel dis altyd ’n droom vir kunstenaars want hulle visualiseer goed, maar weet nooit of dit werklik gaan gebeur nie. Tot waar daardie oproep kom! “Elke ding wat jy skep, is jy. So – dis om myself daarbuite aan die publiek bloot te stel.”
Matt vertel dat daar vyf portretskilderye by bushaltes aangebring is en dan sewe groot muurskilderye wat die projek onderskryf. “Ons wil die magic van die Midlands vir almal ten toon stel,” vertel Matt. En dit word gedoen wanneer jy na die kunswerke gaan en terselfdertyd na die stories luister.

Makhubalo Ikaneng, storieverteller en inhoudsvervaardiger, vertel dat hulle stories van hoop geskep het, stories van hoop . . . stories wat lewe in dié ruimtes kan blaas. “Elke muur wat geverf is, vertel ’n storie van helder, kleurvolle hoop vir ons kinders, en generasies wat nog volg,” sê Makhubalo. “Ons wil daai dorp wees waar die mure praat, waar verbeelding en hoop gedeel en versprei word.”
Die twee gidse tot die kunsroete, is Dassie en Hadida. Luke Falconer is die stemkunstenaar vir Hadida, wat toevallig ook een van sy gunsteling-gevleueldes is. Dassie bied daarteenoor balans vir Hadida se uitgesproke aard, vertel Andrew Hepburn, Dassie se stemkunstenaar.
Leah vertel hoeveel sy hierdie opnames geniet en dat die vertellinge van Dassie en Hadida saam met die kunswerke ’n alomvattende ervaring is. ’n Baie aangename en ook vermaaklike een, natuurlik.
Maar hoe gemaak as daar nie ’n muur in Nottingham Road is vir die muurkuns nie? Wel, dan bou jy een, vertel Sandile Mnikathi, onderburgemeester: uMngeni munisipaliteit, want dis hoe opgewonde die gemeenskap oor die projek is.
Saam-saam is als die moeite werd
Die slapelose nagte, angs, spanning . . . elke oomblik daarvan was die moeite werd, volgens Jaqui. Wat vir haar baie besonders was aan die muurkunsprojek is hoe mense daarop reageer het: hande is geklap, die kunstenaars is aangehits en motoriste het hul toeters die boodskap van lekkerkry laat uitbasuin. Sy moedig besoekers ook aan om seker te maak Mpophomeni is op hul roete vanweë die fassinerende geskiedenis wat so ’n groot rol in vandag se politieke landskap gespeel het.
Matt sê die grootste uitgawes was boumateriaal en arbeid om mure te bou, asook vergoeding vir die kunstenaars en stemopnames.
“Ons kan dit nie alleen doen as ’n munisipaliteit nie. Die probleme is net te groot. Dan vind ons soms instansies soos Love Howick, wat in sommige gevalle dit beter kan doen as ons,” vertel Sandile. Daar is ook individue wat na vore kom met hul vaardighede en hy sê dis so lekker om in ’n gemeenskap te bly waar mense entoesiasties oor verandering is.
Lelani van den Berg, regsadviseur: uMngeni munisipaliteit, vertel van die swaar tye wat die omgewing getref het: vloede, politieke onrus, daardie groot grypery . . . maar ook van hoe dit begin stabiliseer het. Selfs die jeug wil betrokke raak en dis vir haar geweldig belangrik.
Matt glo alles kan reggemaak word solank mense dit sáám takel. En dis juis met daardie bereidwillgheid van die gemeenskap dat Howick nog stukke beter gedoen het. Daar is potplante op die sypaadjies, die dorp is verfraai, daar’s ’n speelpark geskep – en dit klink asof dit nog lank nie die einde is van die liefde wat vir Howick gekoester word nie..
“Ek dink daar’s ’n besef van optimisme vir die toekoms, iets wat ons vir ’n baie lang tyd nie gehad het nie. En as dit in Howick kan gebeur, kan dit enige ander plek gebeur!” kom dit van ’n moeë, maar baie gelukkige Matt.
“Kom laat ons gemeenskappe bou wat ons wil hê, kom ons bou die Suid-Afrika waaroor ons droom.”
Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaand om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.