Menu terloops
In Recaps & Resensies [15 Jul 2025]

‘Lottoland help ’n dorp’: ‘Nuwe’ Coligny is nou baken van hoop vir res van land


“As hulle Coligny kan omdraai, dan kan enige dorp omgedraai word,” meen ‘Lottoland help ’n dorp’-aanbieder Leah nadat dié dorp ’n wonderbaarlike transformasie ondergaan het.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Lottoland help ’n dorp’: ‘Nuwe’ Coligny is nou baken van hoop vir res van land

In die eerste episode van die vierde seisoen van die realiteitsreeks Lottoland help ’n dorp het die sangeres en programaanbieder Leah van Niekerk en haar span ’n draai in die Noordwes gaan gooi – en die mense van Coligny beter leer ken.

Kykers wat hierdie episode misgeloop het, gaan die nuwe formaat van die reeks net soveel geniet as die vorige drie seisoene. Waar daar in die verlede een dorp per episode besoek is, gaan daar nou net ses dorpe besoek word. En die begroting én die projekte wat getakel word, is aansienlik groter.

In Coligny se geval is daar R1 miljoen vir hul projekte bewillig. Dit is die meeste geld wat tot nou toe aan ’n dorp beskikbaar gestel is om daardie noodsaaklike verbeteringe aan te bring en ’n nuwe gees van hoop en positiwiteit in ’n gemeenskap te bewerkstellig.

Lottoland, Coligny
“Ek word vanoggend wakker in ’n hele nuwe Coligny. Hierdie is nou ’n prôpperse dorpie,” het ’n opgewonde Leah oor dié dorp se transformasie vertel. Foto: Skermgreep

Ongeloof, hoop én vrywillige hande

Gemeenskapslid Malcolm Moore kan steeds nie glo dat Coligny die Lottoland help ’n dorp-lysie gehaal het nie. Hy sê dis maklik om verlore te voel op ’n klein dorpie, veral waar alles oënskynlik inmekaar tuimel.

Reinette van der Merwe, gemeenskapslid, is ook baie positief oor wat voorlê. En nog iemand wat nie kan glo dat Lottoland help ’n dorp ooit by Coligny sou indraai nie, is Boitumelo Pule, projekspanlid. Sy het die reeks op TV gevolg en die wete dat ook Coligny nou in die visier is, maak haar baie opgewonde en gelukkig.

Walter Pretorius, projekspanleier, erken hy het aanvanklik bietjie negatief gevoel omdat hy meer insette van die gemeenskap verwag het. Die gemeenskap van Tlhabologang het Walter egter verstom gelaat want daar was meer van dié gemeenskap se inwoners betrokke by die projek as inwoners van Coligny self.

Op sy beurt loop Gerhard Jacobs, projekspanlid, oor van dankbaarheid jeens die ondersteuning komende van die boere, die inwoners en natuurlik ook die mense van Tlhabologang. En almal het vrywilllig gewerk. Net die padkontrakteur het vergoeding ontvang. 

En nes Gerhard was Cobus van Tonder, projekspanlid, ook aangenaam verras oor die toeloop van vrywilligers wat by die projek hand, bloed en sweet kom bysit het. “Baie van die goed wat gedoen word deur die vrywilligers, kom uit hul eie sak uit. Baie keer kan die mense dit nie bekostig nie, maar ter wille van die dorp en sy oorlewing gee elkeen maar wat hulle kan bydra,” vertel Hannelie Jacobs, projekspanlid.

Nuwe hoofstuk 

Van die plaaslike munisipaliteit is daar geen sprake nie. Dit het in duie gestort en politiekery word daarvoor blameer, aldus Richard Lefeane, projekspanlid. Ook hy sien uit na ’n nuwe hoofstuk vir Coligny en glo dat alles ten goede sal verander.

Amalia Legote, gemeenskapslid en -leier, sê sy sukkel nog om ’n woord te kry wat die munisipaliteit kan beskryf, want daar is nie een nie . . . En vir Elsie Legote, projekspanlid, is die belangrikste dat almal net moet saamstaan en die dorp weer mooi moet laat lyk.

Vir Sanet van Tonder, projekspanlid, is die grootste teleurstelling dat die hoofstraat nie opgedollie kon word soos wat hulle graag sou wou nie. Die koste daaraan verbonde was astronomies, byna dubbel die begroting wat hulle van Lottoland help ’n dorp ontvang het. 

Die tekort aan toerusting het ook ’n groot rol gespeel, maar weer het die boere wat reeds hulp verleen het, nog meer gedoen om te help sodat die vullis verwyder kon word. 

Een van Coligny se lewensare is die lisensiekantore want dis waar die meeste geld gegenereer word. Die vroue het hier ingespring met skoonmaak en selfs ’n rotstuin tot stand gebring.

’n Emosionele Elize van Scharrel, projekspanlid, onthou van die protesoptogte van 2017 en erken sy het nooit gedink die dorp sal ooit daarvan herstel nie. “Nou kan ons weer vorentoe kyk.”

5 weke later

Leah en haar Lottoland help ’n dorp-span keer weer terug na die dorpie wat ’n paar weke gelede nog besig was om uitmekaar te val. “As hulle Coligny kan omdraai, dan kan enige dorp omgedraai word,” is haar versugting. 

Hulle het laatnag in die dorp aangekom terwyl daar nog gewoel en gewerskaf was. Maar die wakker-word op ’n lieflike sonskynoggend bring meer as net hoop vir nog ’n dag. “Ek word vanoggend wakker in ’n hele nuwe Coligny. Hierdie is nou ’n prôpperse dorpie,” vertel ’n opgewonde Leah.

Om nie te praat van die behoorlike teerpad waarop sy en Walter nou kan stap nie. En, verklaar sy, daar’s nie slaggate nie en die strepe is op die pad geverf.  Walter vertel hulle kon soveel meer gedoen kry as wat aanvanklik beplan was danksy bydraes uit die gemeenskap. Hy erken hy het nie eers aan die strepe op die teerpad gedink nie. Maar daar is dit nou.

Lottoland, Coligny
Ten spyte van die reën wat aanhoudend geval het, het die projekspan wel daarin geslaag om die teerpad te voltooi en die spertyd te haal! Foto: Skermgreep

Walter vertel dat daar heelwat uitdagings was tydens die projek en Leah vertel van die reën wat net bly val het. Dit het die padwerke met sowat twee weke vertraag. Maar ’n sperdatum is ’n sperdatum is ’n sperdatum. Tot haar grootste verbasing kon die projekspan daarin slaag om ten spyte daarvan steeds die teerpad te voltooi. Sanet vertel laggend dat dit die eerste keer in haar lewe was dat sy nié gebid het vir reën nie. 

Walter vertel dat die vertragings hulle genoop het om vroegoggend tot laataand te werk om soveel as moontlik van hul projek binne 10 weke afgehandel te kry. En noem ook dat dit vir hom skokkend was om te besef hoe min daardie R1 miljoen is wanneer daar spandeer moet word.

So is die geld spandeer:

  • Asdromme: R40 000
  • Straatligte: R30 000
  • Asgate: R10 000
  • Teerpad: R850 000
  • Straatname: R10 000
  • Middelmannetjies: R5 000
  • Verf: R28 000
  • Brandstof: R25 000
  • Munisipale gebou: R20 000

Dít alles tesame het R1,1 miljoen beloop.

Meer oor die projekte

Walter noem dat daar tonne en tonne vuilgoed rondgelê het en die asgate was nie sonder uitdagings nie. Genadiglik kon hy op sowat vyf boere staatmaak wat hulle toerusting beskikbaar gestel het om die berge vullis te verskuif. Hy vertel vir Leah dat hulle die hele dorp geverf en skoongemaak het.

Van die vrywilligers moes hard werk om nóg mense te betrek, want aanvanklik wou hulle nie verniet werk nie. Maar die spanwerk het gegroei. Só ook die trots op elke liewe verbetering en lagie verf wat die lig gesien het.

Lottoland, Coligny
Soos Leah sê: “As jy so ’n bietjie hoop nodig het, ry gerus deur Coligny”. Foto: Verskaf

Selfs die poskantoor wat lank nie meer ’n aktiewe poskantoor is nie, lyk nou sommer spiekeries met ’n nuwe lagie verf. Die grootste verbetering was wel die verandering aan die munisipale kantore – buite en binne!

En die straatname? Walter vertel laggend iemand het die vorige dag aan hom gesê hy verdwaal nou in Coligny want die strate het nou name . . . “Skielik verstaan die mense nou die dorp,” sê hy.

Harde werk die moeite werd

Lottoland, Coligny
Die projekspan, bestaande uit 15 bestuurslede en 55 vrywilligers van Tlhabologong, het Coligny behoorlik – met Lottoland help ’n dorp se hulp – op sy kop gekeer. Foto: Skermgreep

Dit was harde werk. Daar bestaan geen twyfel daaraan nie. Maar, vertel projekspanlid Elize van Scharrel, hulle het gesing en gedans as hulle laatmidddag die gereedskap weer teruggedra het stoor toe.

Maria Kelebogile Leeto, projekspanlid, sê sy is baie trots op dit wat sy kon bydra om hulle dorp weer mooi te maak.

Tussendeur berei Amelia haarself voor vir haar jonger seun en kleinkinders wat kom kuier. Sy gaan hulle beslis deur die dorp laat stap om te sien wat hulle alles vermag het. “Want hulle het foto’s en wou altyd by my weet hoekom is ons dorp so vuil. Hierdie keer gaan hulle iets anders te sê het, ” kom dit van ’n baie gelukkige en trotse ouma.

Sonja erken dit was werklik moeilik om die vrywilligers na afloop van die projek te groet want almal het so geheg geraak aan mekaar. En dis wedersyds. Sy kan nie indink hoe die lewe vorentoe ná Lottoland help ’n dorp gaan lyk nie.

’n Nuwe Coligny 

Die projekspan, bestaande uit 15 bestuurslede en 55 vrywilligers van Tlhabologong, het Coligny behoorlik op sy kop gekeer. Op die beste moontlike manier. Maar dis nie waar dit eindig nie. Deur hierdie projek het die twee gemeenskappe waarlik mekaar gevind, by mekaar geleer en saamgespan.

Nie eers sporadiese vandalisme tydens die projek kon hierdie wonderlike span mense ontspoor nie. Ook nie die kritici wat heelwat eiertjies te lê het, gaan dit regkry nie. 

Hierdie projek op hierdie klein dorpie wat nou weer letterlik uit die as verrys het, gaan nie net hier stop nie. Dit gaan uitkring en ander motiveer. Toegegee, dit was nie altyd maklik nie. Maar niks wat die moeite werd is, val sommer net in jou skoot nie. Die spanlede se ervarings tydens die projek is vol lewenswaarhede. Moenie dit misloop nie. Soos Leah sê: “As jy so ’n bietjie hoop nodig het, ry gerus deur Coligny”. 

Ja, daar is ’n nuwe storie geskryf vir hierdie dorpie in die Noordwes, ’n storie wat almal moet lees . . .


Lottoland help ’n dorp wys Dinsdae om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream. Episodes is ook ná uitsending op CatchUp beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies