“Lottoland help ’n dorp is ’n program waar ons die hele land platry na 13 dorpe in verskillende provinsies,” vertel Leah oor dié kykNET-werklikheidsreeks wat beslis geen tekort aan inspirasie bied nie. En boonop kykers bekendstel aan dorpies waarvan hulle dalk nog nie gehoor het nie.
Soos met hierdie seisoen se eerste besoek aan KwaZulu-Natal se Suidkus waar die lowerryke Munster knus langs die see lê.
Dis jou dorp . . .
“As jy eers hierdie plek besoek het – ek kan jou verseker jy gaan nooit weer dieselfde wees nie. Jy gaan nooit weer dieselfde dink oor see-vakansies nie, jy gaan nooit weer dieselfde dink oor die Suidkus nie – en jy gaan dalk ook ’n bietjie oor jouself begin wonder . . .” belowe Annelize Slabbert, projekleier.
“Dit voel of jy letterlik in jou eie vakansie inry,” kom dit van Leah wie se asem weggeslaan is deur die natuurskoon en die verandering van woud na see.
“Munster is op die heel suidelike deel van die Suidkus geleë,” vertel Arthur Fracas, wat saam met sy vrou Ursula die eienaars van Ocean Grove-gastehuis is. Dan is daar baie gholfbane en fantastiese strande wat volgens Arthur van Munster ’n baie spesiale bestemming maak. Ursula kan nie uitgepraat raak oor die eenvoudige en gelukkige leefstyl wat hier gevolg word nie. “Jy kan nie help om net so tevrede te voel met die pragtige natuurskoon rondom jou nie,” vertel sy.
Boerdery en toerisme is die grootste bedrywigheid in die streek. Maar moenie vergeet van die bokkies, die dassies en die witkruisarend-paartjie wat elke jaar hier kom broei nie!
Corrie Lotter, projekspanlid, beaam hoe ongelooflik dit is om die bokkiespore op die strand te sien, maar . . . daar is ook baie slange. Tog is die meeste van hulle skadeloos, verseker hy jou gou.
Ten spyte daarvan dat Leah baie opgewonde was toe sy ’n walvis kort na haar aankoms op Munster in die see sien baljaar het, erken sy dat die apies in die bome haar effe lugtig laat omdat hulle dalk buierig kan wees en op jou kan spring. Maar, soos sy sê, hierdie is beslis ’n wildtuin by die see.
Gooi mense ryk aan karakter saam met die natuurskoon in een pot, en jy kry Munster, die plek waar mense nie net heerlik spontaan is nie, maar ook gou reg is om handjie by te sit waar nodig.
“Eiesoortig, ongerep” is van die woorde wat Annelize gebruik. En sy is slaggereed om nuwe stories te laat skryf oor Munster, om nuwe drome waar te laat word. Sy noem dat Glenmore-strand ’n baie goeie strand was, maar dat daar nou geboue reg op die strand gebou is. Dié geboue het nou totaal verval en is gevaarlik. En ook lelik, baie lelik, vertel Annelize.
Die gebou wat ’n doring in die vlees is, is die lewensreddersklubhuis waar ook die Nippers, die kleinspan, bymekaar kom.
Help, Lottoland help ’n dorp
“Ons wil verskriklik graag ten minste net veiliger relings opsit en dan natuurlik die gebou se verval stop,” sê Annelize.
Leah sien die gevaar verbonde aan die relings wat plek-plek weggeroes het en op ander plekke vlymskerp die lug in troon, die kosyne is uitgebreek en daar is heelwat gebreekte vensters. Wat eens ’n kiosk was, is nou so vervalle dat niemand dit kan gebruik nie.
“Ongelukkig is dit nou ook ’n plek waar sluipslapers heen kom,” vertel Annelize. Dan is daar uitheemse plante wat uitgeroei moet word, verfwerk en skoonmaak is noodsaaklik en dan word daar vir ’n piekniekplek onder die melkhoutbome gewens. Watertenks kort, die walvisdek moet beter ingerig word en ’n bestemming word vir die vroue om daarheen te stap waar hulle ’n mimosa (of twee) kan geniet.
“Jy dink aan hoe dit was, en hoe dit [weer] kan wees,” is Annelize se versugting vir Munster.
Die groen koevertjie
“Die potensiaal wat ’n mens hier kan sien met die prentjie wat jy skep, is regtig baie, baie groot. Ons wil nie eintlik iets soos hierdie laat vergaan nie,” sê Leah vir Annelize.
Toe sy daai groen koevertjie oorhandig, was dit duidelik die laaste ding wat Annelize verwag het. Sprakeloos. En toe sy besef daar kom R350 000 na Munster se kant om dinge weer reg te ruk, kom die trane. “Tranerig en stomgeslaan,” som Leah die oomblik op.

Praat van voorbereid – net vir ingeval. Annelize het al die nodige toestemmings gekry, sy’t kontrakteurs op haar lysie en ook mense wat op die strand gaan kom help. Verder gaan die munisipaliteit bydra deur werklose mense by die projek te betrek.
Sy besef daar is mense wat dalk dwars kan trek, maar Annelize sien kans vir enigiets. “Maar nee, dis nie ’n berg nie, dis ’n wonderlike geleentheid vir ons,” kom dit vasbeslote van haar.
Agt weke later
Leah het beslis weer haar hart verloor, dié keer op Munster.
Annelize vertel dat hierdie projek waarskynlik die mees bevredigende ding is wat sy in dekades gedoen het. “As jy terugkyk, voel jy verryk. Jy’s amper ’n beter mens omdat jy met soveel mense kon skouers skuur en almal saam met jou jou help dra het en jy hulle help dra het,” sê sy. “Die storie wat ons wou skryf, het ons verbeel. En dit het heeltemal waar geword.”
Annelize kan nie uitgepraat raak oor die oorweldigende hulp en steun uit die gemeenskap nie.
Die klubhuis is pragtig, skitterwit met blou golf-detail. Dié muurskildery is deur die kunstenaar Marianna Radley gedoen.
“In my wildste drome nooit gedink ek gaan hierdie hele gebou doen nie,” kom dit van Marianna wat met haar kreatiwiteit kontinuïteit aan die gebou verskaf. “Ek het dit só geniet en ek dink dit maak ons wêreld net soveel mooier.”
Die watertenks het plek gekry by die ablusieblokke, die walvisdek is gebou en daar is nuwe straatname regdeur die dorp. Ook die tuine is “vreeslik mooi” gemaak, vertel Annelize.
Sy sê Munster het altyd mooi tuine gehad, maar mense het dit nie altyd onderhou nie. Toe kom Jean-Louise Kinsey en haar ma, Robin Broide, met die idee van “wilding” en Annelize versoek hulle om ’n tuin te skep wat nie onderhoud vereis nie. En natuurlik dit so te maak dat mense ook in die tuin kan sit.
Jean-Louise vertel dat mense hul eie bordjies lukraak opgerig het en dat daar ’n geroeste ou wag-hokkie was waar hulle nou ’n lieflike tuin gevestig het. Sy en Robin het gefokus op iets wat meer in harmonie, en terselfdertyd ook kleurvol, is. Nou is al die bordjies netjies en gestandaardiseer en die blomme al te pragtig!
By die klubhuis kan Leah nie uitgepraat raak oor hoe mooi die gebou nou lyk nie, byna asof dit nuut gebou is. “Hierdie was nie ’n afgerammelde, vinnige projek nie. Hier is baie moeite, baie detail, baie passie en liefde ingesit,” sê sy.
Annelize vertel dat sommige mense sinies was oor die bou van ’n nuwe ingang tot Munster. Maar dit het gou omgeskakel na heelhartige ondersteuning.
Sy het met haar begroting na die verskillende kontrakteurs gegaan en sodoende vir hulle ’n raamwerk verskaf waarbinne hulle moes werk. Daarbenewens het verskeie mense donasies gegee. Aan die einde van die projek was daar ’n skrale R2 tekort. En Annelize het haar finansiële mens aangesê om dit in te betaal . . . Wat hy wel gedoen het.
Nou spog Munster boonop met ’n strand-rolstoel wat die strand toeganklik maak vir diegene wat voorheen nie daar kon kom nie.
Daai brug
Dan die brug. Annelize erken sy was baie verleë oor die brug omdat dit so lelik was. Dit was wel nie deel van die projek nie, maar die projekspan het besef dat dit ’n seer oog is. Anna-Mart Moss het mense byeengeroep, verf gekoop en op ’n Saterdagoggend die brug getakel. Mense het opgedaag, selfs al het hulle mekaar nie geken nie. Oud en jonk het saam die kwas opgetel en die brug lieflik gemaak.

Annelize is oortuig dat daardie brug-projek meer as enige van die ander verbeteringe wat hulle getakel het, daartoe bygedra het dat daar ’n vlam van entoesiasme onder die Munsters aangesteek is.
“Dit lyk nou soos ’n luukse kusdorpie,” vertel Ulandi Lotter, projekspanlid, wat verstom is oor die transformasie wat plaasgevind het sedert hulle vier jaar gelede na Munster verhuis het.
“Die Admiral’s Deck was aanvanklik beplan om by Auntie’s-baai te wees, maar die logistiek het net eenvoudig daarteen getel,” vertel Annelize. Die plek waar dit nou opgerig is, is as ’n vleiland geïdentifiseer.
Met die amptelike opening van die dek, voel dit vir Leah of sy op ’n skildery uitkyk. En sowaar, asof fyn beplan is, maak ’n walvis weer ’n verskyning met ’n lieflike stertswaai.
Daarmee begin ’n nuwe hoofstuk vir Munster, nuwe stories wat geskryf kan word want soos Annelize sê: “Elke somer het ’n storie.”
Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaand om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.