“Welkom in die dorp van strandmere, seeperdjies en woude. Dit is baie mooi in Knysna,” vertel Lottoland help ’n dorp se aanbieder, sangeres Leah van Niekerk, oor hierdie pragtige bestemming, een wat vir haar goeie herinneringe inhou.
Dis jou dorp
“Knysna is wêreldbekend vir die Knysna Heads, die Paquita-skeepswrak, die Oesterfees, Kringe in die Bos, Dalene Matthee . . . en is die mooiste dorp op die Tuinroete,” vertel Chris van der Merwe, projekspanlid.
Gail Sofianos, projekspanleier en stigter: Revive Knysna vertel hoe trots hulle op hierdie diverse dorp is en dat hulle hul bes doen om dit deurentyd so mooi as moontlik te laat lyk.
Op sy beurt vertel Mark Sofianos, gemeenskapslid en besigheidseienaar, hoe maklik dit is om hier vriende te maak en dat daar altyd iets is om te doen. En dis vir hom belangrik om seker te maak daar word mooi na Knysna gekyk, ook vir die toekoms wat wag.
“Mense is baie rustig, soos jy kan sien. Hulle sê die Outeniqua-roes het ingeskop hiersô in die Tuinroete,” sê Chris.
Volgens hom staan die mense mekaar ook goed by. Soos met die vernietigende Knysna-brande wat in 2017 tot onherstelbare skade en verliese gelei het. Hy vertel hoe mense in daardie tyd hul huise oopgestel het, hotelle het kamers beskikbaar gestel en mense het net bly gee waar daar nood was.
Mark beaam dit en sê dat Knysna werklik ’n vasbyter-dorp is – en wat hom die meeste beïndruk is die veerkragtigheid, kameraderie en die passie wat deel is van Knysna se mense.
Dit was nie net die Knysna-brande nie, maar Covid-19 het hierdie toeristedorp in 2020 baie hard getref. Baie plekke moes noodgedwonge sluit, verwaarlosing het ingetree en die munisipaliteit het nie gewerk nie.
“Ons moes net iets doen. Ons kon dit net verder agteruit laat gaan, of iets daaraan gedoen het,” vertel Gail.
Revive Knysna
Paula Wishardt, projekspanleier en mede-stigter: Revive Knysna, vertel dat sy wel verwaarlosing sien intree het nog voor 2020. Maar ná Covid-19 het sy besef die dorp is werklik in die sop. Hulle het sowat drie jaar gelede met Revive Knysna begin. Eers het hulle begin skoonmaak, toe het van die sypaadjies aandag gekry. Daar is op die sakekern as die hart van Knysna gefokus. “Ek wou daarvan deel wees om verandering teweeg te bring, ek wou ’n verskil maak,” sê Paula.
Revive Knysna bestaan uit die twee vroue, en nou het hulle vier mans op ’n permanente basis aangestel om instandhouding in die dorp te doen.
“Ek het in my lewe nog nooit sulke entoesiastiese tannies gesien nie. Hulle is altyd op ’n spoed om dinge reg te maak,” vertel Mark Laminie, senior brandbestryder en gemeenskapslid.
Help, Lottoland help ’n dorp
Chris verduidelik aan Leah dat die begin van Queenstraat die begin is van die geskiedkundige deel van Knysna en dat dit opgradeer moet word. Dis ’n baie tegniese hoek in die dorp waar al die waterlyne, rioolpype, internetkabels en elektriese punte bymekaar kom.
Aimee Neff, projekspanlid en landskapargitek, is deur Revive Knysna aangewys om met die munisipaliteit en stadsbeplanner te gesels oor wat hier gedoen kan word.
Die grond gaan gelyk gemaak word en dreinering geïnstalleer word. Plaveisel, gras, bankies, ligte en ’n geplaveide pad na Queenstraat is van die goed wat beoog word. Daar is nie juis ruimte vir ander parkies in Knysna nie en hierdie lyk na ’n goeie oplossing.
Chris sê hulle wil Knysna een projek op ’n slag takel. Paula noem ook dat Knysna nog nie ten volle herstel het van die pandemie nie. Besighede sukkel nog steeds en die toeriste lê betreklik laag. Hierdie projek is vir haar belangrik en sy sê hulle wil dit behoorlik doen.
Dis duidelik dat Knysna baie na aan die hart van sy inwoners lê en dis waarom Chris-hulle ingeskryf het vir Lottoland help ’n dorp sodat die inwoners weer meer positief kan raak en besef dinge kan gebeur en gedoen word.
Die groen koevertjie
“Julle is amper deur sewe soorte hel die afgelope paar jaar en Lottoland help ’n dorp het dit raakgesien. Ons hou van julle idee van hierdie lieflike pocket park,” en met daardie woorde verras Leah vir Chris met daai groen koevertjie. Die man se glimlag kon nie breër nie!
Dis met bewende hande dat hy die groen koevertjie oopvou, maar toe hy sien dis R475 000 wat aan Revive Knysna beskikbaar gestel word, kan hy nie ophou lag so tussen die verstomming deur nie.
Emosioneel, baie bly en baie dankbaar. Dis Chris. Gail kon haar oë nie glo nie en Paula se trane het baie vlak gesit. Die twee vroue wat Revive Knysna begin het, kon aan die einde wel nie die trane keer nie.
Agt weke later
Op ’n sonnige dag keer Leah en die Lottoland help ’n dorp-span terug. Chris erken dit was ’n bittersoet oomblik om die koevertjie te ontvang want met dit het die besef gekom dat daar baie werk en baie harde werk voorlê.
Chris vertel vir Leah dat daar nog goed is wat moet gebeur, soos die bankies, ligte en pale wat op hierdie dag nog afgelewer word. Die logistiek lol soms in kleiner dorpe.
Die weer het ook nie mooi saamgespeel nie. Stormweer het gesorg vir baie ontwrigting, maar daar was gelukkig baie mense wat kon help.
Die reaksie uit die gemeenskap was ongelooflik. Hulle het plante gesoek – en toe het daar soveel opgedaag dat hulle moes halt roep.
Eind goed, als goed. Daar is nou ’n pragtige nuwe wandelpad en die mense van die omgewing is baie opgewonde oor die park self.
Van stof na groen lafenis
Paula noem dat die brandweerstasie hulle van groot hulp was met die beskikbaarstelling van water vir die plante. Nadat die brandbestryders gesien het wat beoog word met die parkie, is hulle ook baie gretig om hul middagetes daar te geniet.
Nog ’n inwoner vertel dat hy al 20 jaar lank daar woon en tot nou toe was dit maar net altyd stof oraloor, en nou is dit ’n lieflike groen area.
Aimee verduidelik dat ’n pocket park ’n klein plek is wat oop is vir die publiek. Almal moet toegang daartoe hê. Maar dit beteken meer as net dit – dit beteken ook dis ’n plek waar ’n gemeenskap saamgespan en saamgewerk het.
Vir Tawanda Goethe, projekspanlid, was dit eens ’n oogseer en hy noem dit ’n aaklige plek. Daar was altyd stof wat teen die geboue vasgewaai het. “Dit was ’n disaster, maar nadat ons nou hierdie gedoen het, is ek gelukkig. Die park is hier, die grond is bedek en die tuine lyk goed,” kom dit van ’n baie gelukkige Tawanda.
Op haar beurt hoop Gail dat hierdie parkie ’n gelukkige bestemming sal wees vir die mense van Knysna.
“Hier het Revive Knysna gekom en weer herlewing gebring na ons strate . . . In ons strate het hulle gekom en hulle het nuwe lewe geblaas in hierdie dorp,” vertel brandbestryder Mark.
Kom kuier!
Tawanda sien uit daarna om weer meer toeriste in die dorp te sien noudat dit soveel mooier lyk.
Aimee kan ook nie wag om haar familie en vriende te kom wys wat hier plaasgevind het nie. Ja, erken sy, dit was harde werk. Maar hulle het dit almal saam gedoen en dit het net so mooi vir haar afgeloop.
Leah is ook baie bly dat die span nog ’n bietjie geld in hul sak het en nie die begroting uitgeput het nie. Dit beteken dat die geld slim bestee is. En met wat nou oor is, gaan die sekuriteit van die dorp aandag geniet.
Hulle wil ook volhoubaarheid verseker en vuilgoeddromme deur die dorp versprei. Dis nie sommer sulke dromme nie, hierdie is pragtige houthouers vir die dromme met wat anders as ’n seeperdjiemotief daarop!
Gail en Paula is vol lof vir die wonderlike samewerking uit soveel verskillende oorde. Daar is die vrywilligers, die brandweermanne, die munisipaliteit, SANParke en nog vele meer.
“Hoe so ’n klein hoekie so baie mense bymekaar kan bring . . . Dit is mense wat elkeen ’n verskil maak hier op Knysna,” sê Leah. “En dis regtig nog net die begin!”
Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaand om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.