Meeste mense ken Kathu as bloot net ’n deurry-dorp op pad na Gauteng of die Kalahari. Maar vir Lottoland help ’n dorp se aanbieder, die sangeres Leah, is dié dorpie ’n ware juweel.
“Dit is boomryk, dit is bosveld, lang gras, kort gras . . . jy hoor voëltjies, jy hoor diertjies. Dit is rêrig ’n lieflike plek. Hy omvou jou so, gee jou so ’n drukkie en sê ‘bly maar ’n bietjie’,” sê Leah.
Dis jou dorp . . .
Cristal van Deventer, Groen Kathu, is hier gebore en sy het later na hoërskool eers na Potchefstroom en later na die Universiteit van Kaapstad gegaan. Met haar doktersgraad in haar sak het sy weer teruggekeer na Kathu – maar nie om haar akademiese kwalifikasies toe te pas nie. Sy verkoop nou “overalls en gumboots” op die dorp. Waarom dan?
“Kathu het iets wat geld nie kan koop nie,” vertel sy.
“Dis lekker, dis rustig om jou kind hier groot te maak, jy kan in die dorp ry met jou fiets . . . dis veilig. Kathu is spesiaal. Dis die dorp onder die doringbome, soos almal dit ken,” sê Jackie Swart, gemeenskapslid.
Anna-Marie Caetano, wyksraadslid: Gamagara Munisipaliteit beaam dit en sê dis einste daardie doringbome wat Kathu so bekend maak. Maar daar is nog ’n ander rede hoekom mense weet van Kathu.
“Kathu se gholfbaan is nommer nege op die lys van die land se beste gholfbane,” vertel sy trots. En volgens haar is Kathu ’n unieke klein oase in die middel van die Kalahari.
Annerien Groenewald, Groen Kathu, onthou van die vryheid wat hulle as kind in die dorp ervaar het en dis presies wat sy ook vir haar eie kinders toewens.
“Kathu self beteken ‘dorp onder die bome’. Dit is regtig iets wat bekend is van hierdie dorp en dis iets wat ons wil bewaar en vir ons kinders wil los,” sê Hannerie du Toit, Groen Kathu. Sy en haar man het 12 jaar gelede hier beland toe hy op hul familieplaas kom boer het. Hannerie glo dis nou lank genoeg om nie meer as ’n “inkommer” in die dorp beskou te word nie.
“En as jy ’n regte Kathuter is . . . jy’s eers ’n volwaardige Kathuter as jy op een van hierdie kameeldoringbome se dorings getrap het,” vertel sy en noem dat sy reeds op ’n hele paar dorings getrap het.
Volgens haar is dit die mense wat Kathu máák, en dan natuurlik ook die landskap. Sy beskryf die inwoners as regte Kalahari-mense wat omgee en vrygewig is, wat mekaar bystaan en help. “Dis ’n harde plek om te bly, die Kalahari. Dis vrek-warm en vrek-koud,” maar dis nie genoeg om Hannerie haar tasse te laat pak nie. Selfs nie veldbrande en droogtes gaan hulle uit die Kalahari verjaag nie.
Groen Kathu
Hannerie vertel dat Groen Kathu ontstaan het vanweë hul groep fietsryers. In hul soeke na mooi paadjies om op te ry, moet hulle eers deur die lelike deel van die dorp ry. Toe raak hulle keelvol vir kla en besluit om sélf iets daaraan te doen. Daar’s nou lieflike middelmannetjies, plante en bome wat aangeplant is, dromme wat geverf is – alles wat van Kathu ’n netjiese dorp maak.
Groen Kathu het weggespring met vuilgoed optel, toe besef hulle die paadjies gaan ook werk verg. Maar dit was duidelik dat meer hande nodig was om daarmee te begin – en net daar is daar werk gemaak om die mense van die dorp ook betrokke te kry by die skoonmaakprojek.
Cristal sê sy het skoon eelte op haar hande van strate vee en kalkklippe optel, maar sy kla nie. En die inspirerende werk wat deur die span gedoen word, is vir Annerien iets wat soos ’n paal bo water staan en dit is dat Groen Kathu hoop is, en hoop gee. “Groen Kathu is nie ’n pleister vir die probleem nie. Groen Kathu is die salf vir die wond. Ons moenie kyk in die verlede en sê hoe mooi Kathu was nie. Ja, dit was mooi, maar hallo! Ons kan dit nog beter maak as waar dit was,” sê Cristal.
Help, Lottoland help ’n dorp
Hannerie vertel hulle was aanvanklik huiwerig oor die toewyding wat hul projekte gaan verg. Tot waar hulle besef het hulle is reeds die afgelope vier jaar in ieder geval besig daarmee – en dat hulle vir Lottoland help ’n dorp gaan inskryf om die projekte te help afhandel.
Hulle wil graag die middelmannetjies klaarmaak want dit is ’n integrale deel van die dorp. Dan wil hulle ook 50 groen asdromme in die dorp beskikbaar stel.
Die derde projek op hul lysie is om die ingange te verfraai. Voorheen was daar nie werklik ’n ingang om van te praat nie. Mense moes letterlik om bourommel ry om by die dorp uit te kom. Nou is daar twee splinternuwe ingange, maar dit het nie naamborde nie. Groen Kathu wil die naamborde wat wel in die dorp is, vervang en die randstene verf.
En die lysie gaan aan . . .
Die groen koevertjie
“Julle kweek hoop, en dit is wat julle graag vir die dorp wil hê. Soos julle weet, Lottoland help ’n dorp is absoluut ’n program wat hoop wil kweek. So, mag ek vir julle nog ’n bietjie hoop bring?” vra Leah vir Hannerie en Annerien en bring die groen koevertjie na vore.
Die twee se oë rek wyd van verbasing en hulle begin half-verbouereerd lag. Dis Hannerie wat eerste haar stem vind en sê hulle het so staan en sweet voor Leah want hulle wil so graag die geld hê.
En daar kry hulle dit: ’n volle R325 000 vir Groen Kathu om nog meer hoop in die dorp aan te wakker.
Terwyl die werklikheid stadig besig is om in te sink, erken Annerien dat hulle bietjie benoud en angstig voel oor wat voorlê, maar hulle gaan dit doen!
Agt weke later
“Hierdie berg. Dit was ’n groot berg, dit was ’n groot taak,” erken Hannerie en sê alhoewel dit oorweldigend was, was dit ook lekker.
Annerien sê hulle het basies alles gedoen wat hulle wou. Daar is reeds 32 asblikke uitgesit, die middelmannetjies is met klip en vetplante versier, randstene is geverf en ’n nuwe ingangsbord gemaak. En nog hope meer.
Hannerie vertel hoe wonderlik dit was om te sien dat mense self voor hul winkels die randstene geverf het! “Die dorp lyk net ongelooflik vars en nuut,” kom dit van ’n baie gelukkige Hannerie.
Leah is so beïndruk met wat sy sien en sê dis oral waar jy in die dorp is, duidelik dat daar opgeruim of mooi gemaak is.
“ ’n Groot bonus vir ons was die Kathu Park wat ons kon opgradeer,” vertel Annerien. Sy noem dat dit ’n bestaande park is wat tot nou toe nie juis ten volle benut is nie. Tot waar Groen Kathu dit omskep het in ’n lieflike bestemming. Daar is nou selfs ’n parkie vir die kinders.
Tot Leah se verbasing het selfs van die Kathuters nie besef hulle het ’n park nie! Ook die Lottoland help ’n dorp-span was onbewus van die park want dit was nie op Groen Kathu se aanvanklike wenslysie nie. Dit is nou beslis iets besonders: vrolik, plantryk, speelplek vir die jongspan, sitplek vir die ouers en oues.
Goeie gees
Neo Mahatlhane, Gamagara Munisipaliteit, sê hy hou daarvan om met die Groen Kathu-span te werk omdat hulle dinge in so goeie gees doen. Ook omdat hy kan sien die gemeenskap is gelukkig, baie gelukkig. Een van sy grootste verrassings was toe hy mense van Kuruman wat deurgery het, hoor praat het oor hoe mooi Kathu nou lyk. “Sonder Groen Kathu sou ons nooit so ver gekom het nie, maar saam kan ons wen,” se Neo.
Hannerie is besonder gelukkig oor die uitstekende samewerking van die munisipaliteit se kant. “Ek het net besef in hierdie hele tyd, ons almal het dieselfde hart. Hulle het dieselfde hart wat ons as Groen Kathu het en wat die publiek het, maar hulle kort ook hande,” sê sy.
Sy glo daar gaan nog meer dinge hier gebeur, vertel Dimakatso Manamela, Gamagara Munisipaliteit. Vir haar het die samewerking met Groen Kathu gewys hoe daar ’n verskil in ’n gemeenskap bewerkstellig kan word. “Hierdie maak dat die inwoners weer gaan glo in ons as ’n munisipaliteit kan lewer,” sê Dimakatso.
Inspirasie en spanwerk
“Ons het geverf dat dit gelyk het of ons vir Dulux werk,” kom dit van Dean Espach, Groen Kathu. “Ons het probeer om die mense te inspireer om saam te werk.” Hy is baie bly dat besighede ook vir die eerste keer saamgestaan het om ook hulle passie vir Kathu te deel.
Chrizette Neethling, ekoloog: Endemic Vision, vertel hulle het vir Groen Kathu geleer hoe om bome te plant. Endemic Vision het ook van die bome geskenk.
Op sy beurt het Jaco Geyser, Luhlaza Environmental Solutions, gehelp met die inbring van die roumateriaal vir die dekking van die middelmannetjies en sypaadjies, en gehelp met die wegry van groot bome en boomstompe.
“Ons het baie verrig maar ons het nuwe spoed en woema om meer vorentoe te gaan,” sê ’n opgewonde Annerien.
“Een hart, een wil, een gees – dit maak ons werk baie maklik. So, ek is baie gelukkig,” sê Neo.
“Ons het net soveel hoop en humanity gekry by die mense van Kathu. Ek is regtig trots op Kathu en sy mense,” kom dit van Hannerie.
Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaand om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.