Menu terloops
In Recaps & Resensies [26 Aug 2025]

‘Lottoland help ’n dorp’: Feesvieringe oor Van Wyksdorp se ‘feëverhaal’


“Hierdie is mos nou eintlik bietjie van ’n feëverhaal – of miskien dalk meer ’n sepie,” het ‘Lottoland help ’n dorp’-aanbieder Leah gesê toe sy hoor van al uitdagings om Van Wyksdorp se transformasie teen die spertyd klaar te kry. 

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Lottoland help ’n dorp’: Feesvieringe oor Van Wyksdorp se ‘feëverhaal’

Kykers het verlede week dié dorpie in die Wes-Kaap leer ken – die een wat jy nét met grondpaaie kan bereik en dalk nog nooit vantevore van gehoor het nie. Danksy Lottoland help ’n dorp, is Van Wyksdorp nou nie meer ’n vreemdeling nie.  

Matty Strydom, projekspanlid en Afrikaanse woordvoerder vir die projek, het vir Leah vertel dat die plaaslike toerismevereniging met die idee na vore gekom het om die informele mark op Saterdae te formaliseer. Sy het ook vertel dat hul voorlegging aan Lottoland SA daaroor gehandel het om ’n gemeenskapskern rondom speel te skep. Die dorpie het wel reeds ’n tennisbaan, maar die plan is om ook dit veeldoelig te maak en ’n netbalbaan deel van die tennisbaan te maak.

Natuurlik was daar weer klein jakkalsies wat aanvanklik meer gekritiseer het as wat daar hand uitgereik is. “Hoe kleiner die dorpie, hoe groter die drama . . .”

Maar nie eers dit het die span ontspoor nie. Inteendeel, dis asof hulle ’n tweede asem gekry het.

Hou moed! 

Mark Holgate, projekbestuurder, het nie moed opgegee nie, al was dit ’n stryd om altyd voorraad in die hande te kry. 

Dawn Berry, projekspanleier, was baie trots toe die tennisbaan so aangepas kon word dat dit nie net tennis en netbal nie, maar ook sokker (vyf aan ’n kant) en basketbal kan akkommodeer.

Wat ook wonderlik was, was die feit dat die projekspan oorwegend plaaslike mense ingespan het om te help, behalwe natuurlik die tennisbaan wat deur ’n kontrakteur van buite gedoen is. En Sue Stein, projekspanlid, sê sy het skoon hoendervleis gekry toe sy die produk gesien het. Een van die waardevolle lesse wat sy geleer het om die gemeenskap aan boord te kry, moet die mense betrek word om die werk te doen. 

Ook Brian en Ronetta Saffrey was verbaas oor hoe gewillig die gemeenskap was om hulp aan te bied. Brian het juis vertel hoe twee donateurs al die besproeiingsgeriewe geskenk het terwyl ander weer groot watertenks gegee het.

Geldsake

Ronetta het die geldkant hanteer. Sy het vertel dat R310 000 op bouwerk spandeer is. Die tennisbaan het hul sak ook meer geruk as waarvoor hulle beplan het. Die eerste kontrakteur kon nie by die sperdatum hou nie, en ’n tweede (duurder) kontrakteur moes ingebring word. Dit het die span R140 000 gekos.

Arbeid vanuit die gemeenskap het sowat R13 000 beloop. Hardeware en toestelle was ongeveer R125 000 en daar is nog byna R32 000 oor in die spaarvarkie. Maar dit gaan ook nog aangewend word.

Dan het daar skenkings ingestroom (benewens dié wat reeds genoem is). Jack’s Paints het verf ter waarde van R30 000 geskenk. Wendy, een van die inwoners, borg ’n tuinier wat weekliks die bome sal water gee en doen wat gedoen moet word.

Die verfgogga het die gemeenskap behoorlik gebyt. ATKV Oudtshoorn het die polisiestasie kom verf, het Nick Koornhof, projek-ondersteuner, vertel. Die dam buite die dorp het ook kennis gemaak met ywerige kwaste. 

Die provinsiale regering en Tuinroete is ook oorreed om nuwe naamborde by die dorp se ingange op te rig. Dis nie al nie. Hy dink daar is minstens 15 huise wat ook nou met verfwerk opgevrolik is. “En dis net die begin,” het hy belowe.

Snot en trane oor die mooi

Lottoland
Die tennisbaan het hul sak ook meer geruk as waarvoor hulle beplan het, maar dit het nie die inwoners van Van Wyksdorp gekeer nie. Foto’s: Skermgrepe

Vir Lottoland help ’n dorp-aanbieder Leah het hierdie haar aanvanklike gevoel van ’n feëverhaal bevestig. “Dis netjies, dis skoon. Die mense is opgewonde. Jy sien hoe almal in die strate rondloop met groot glimlagte op hul gesigte, en dit helder al klaar ’n hele gemeenskap op,” het sy gesê. 

“Daar was ’n antie gewees wat snot en trane gehuil het oor haar huis wat nog nooit, na al die jare, so mooi netjies gewees het nie,” het Peter vertel.

Nick het vertel dat iemand in die gemeenskap met die plan na vore gekom het om van die huisies te verf en so ’n eie Bo-Kaap hier te vestig. Hulle noem dit net Bo-Kanna want Van Wyksdorp is in Kannaland geleë.

Donovan Kameel, een van die arbeiders, het op sy beurt vertel hoe hard hulle gewerk het, maar dat hulle oneindig trots is op wat verrig is en dat hulle iets vir die gemeenskap kon doen.

Erfenisroete

Een van die groot drome op Van Wyksdorp was ’n erfenis-roete juis omdat dit so ryk aan geskiedenis en baie stories is. Daardie droom het waar geword want deesdae is daar oral in die dorp blou bordjies met ’n QR-kode wat geskandeer kan word om die stories te luister en te lees.

Feestyd

Tydens die projek is daar twee komitees gestig: die Saamspeel-komitee en die Verfraaiingskomitee en daar was groot planne beraam om fees te vier oor wat alles in hierdie klein dorpie die afgelope twee maande vermag is. Van trompoppies wat die hele skool deur die dorp gelei het tot bejaardes wat opgetree het . . . fees is daar gevier!

“Dit was ’n absolute reis, ’n wonderlike reis. Dit het met niks begin nie, geheel en al niks nie. Selfs die komitee wat ons gehad het, het uit ’n klomp individue vanuit verskillende dele van die gemeenskap bestaan. Ek het nie woorde nie . . . werklik, ek het nie,” het Brian tydens die feesvieringe gesê. Maar dit het nie vir hom daar opgehou nie. Ook die gemeenskap en diegene wat ingespring het om te help, het hom diep ontroer.

Die benoudheid oor die naderende Lottoland-spertyd was groot, het George Prinsloo, projek-ondersteuner, erken. Die vaardigheid en gesindheid van die gemeenskap het hom verbaas. Op ’n goeie manier, natuurlik. Ja, daar was oppe en awwe en humeure het soms gelol, maar aan die einde van die dag het hierdie gemeenskap en die projekspan dinge bymekaar getrek en sáám die ding gedoen.

Lottoland
Fees is daar gevier met die voltooiing van die projek.

’n Feëverhaal 

“Hierdie is mos nou eintlik bietjie van ’n feëverhaal – of miskien dalk meer ’n sepie,” het Leah laggend gesê want sy het gehoor van die struwelinge en ongelukkigheid, maar ook van die goeie goed en dat, aan die einde van die dag, die werk so mooi afgehandel is.

“Wat belangrik is, is die eindproduk. En ek dink ons het ’n ongelooflike eindproduk,” het Matty trots verklaar.

Dawn het in hierdie tyd ongelukkig hartseer nuus ontvang en sy moes na haar familie oorsee gaan na haar pa se afsterwe. Maar hulle het daagliks kontak met haar behou en sy het virtueel al die vergaderings bygewoon. Dit spreek boekdele van die vrou wat baie harde werk en al haar energie vir die projek ingesit het om dinge te laat werk.

Van Wyksdorp is nou wakker, is hoe Nico dit so akkuraat beskryf het. Hou  hierdie spasie dop – en volg die stofpad na hierdie juweeltjie van ’n dorp.

Volgende week

Die Lottoland-span gaan Vrystaat toe – en wees gereed vir nog aangename verrassings en veranderinge.


Lottoland help ’n dorp wys Dinsdae om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream. Episodes is ook ná uitsending op CatchUp beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies