Hope vernuwing wag op ses unieke dorpe met die aanbreek van die vyfde reeks van kykNET se inspirerende werklikheidsreeks, Lottoland help ’n dorp. Net soos die reeks die boodskap van vernuwing verkondig, het die reeks sélf ook ’n nuwe baadjie aangetrek.
Nou kan kykers dubbel die lekkerte geniet van saamkuier in die dorpe want aanbieder Leah van Niekerk en daardie bussie van hoop gaan nou elke keer vir twee episodes lank in dieselfde dorpie kuier!
Leah was opgewonde om weer in die pad te val om iets spesiaal in elkeen van die gekose dorpies na die tafel te bring.
Selfs die bussie en die koevertjie het ook vernuwing ondergaan – van groen tot blou!
Eerste stop
Die eerste stop in die nuwe seisoen is Luckhoff, ’n plat stuk aarde met ’n paar heuwels in die verte, daar waar die hoofstraat nie baie teer gehad het nie . . . “Ja, hulp is bietjie hier nodig,” het Leah met haar aankoms gevoel.

“Luckhoff is ’n klein dorpie, met baie klein winkeltjies, kort stofstraatjies – maar as jy lank genoeg gaan stilstaan hier, gaan jy agterkom dis vol van mense met baie groot harte,” het Estée Viljoen, voormalige stadsmeisie maar nou deeglik-ingeburgerde projekleier, vir Leah verduidelik.
Dis einste die dorp waar daar toeka potjiekoskompetisies gehou is, kennetjie en albasters gespeel is en selfs ’n paar vensters vanweë goed-gemokerde krieketballe aan skerwe gespat het.
Passie-projekte
Daar is onder meer die tennisbane, dan ’n projek vir die gemeenskap met die belangrikste fokus op die kinders, die kerksentrum (die enigste bymekaarkomplek vir almal) en die hoofstraat . . .
Die blou koevertjie
Dit was Estée se tweede probeerslag om vir Lottoland help ’n dorp in te skryf, maar hierdie keer was sy suksesvol. Wat ’n waardevolle les om nooit tou op te gooi nie. En toe sy die bedrag sien wat bewillig is, kon sy nie haar trane keer nie: R850 000 om hul droomprojekte mee te takel.
Hulle het agt weke gehad om die projekte af te handel, maar Lottoland help ’n dorp het na vier weke weer kom inloer om hul vordering te monitor.
Vier weke later
Chaos. Dis een manier om te beskryf wat tydens die eerste vier weke van die projek hoogty gevier het. Vanweë die dorpie se afstand van groter sentrums, het dit lank geneem voordat die noodsaaklike produkte hul bestemming bereik het. Goeters het gebreek, kostes het gestyg en planne moes gewysig word . . .

In die pylvak
“Die dorp lyk ewe skielik of hy wakker word,” het Klaas Viljoen, ’n vrywilliger, opgemerk. En daar was baie hande wat saam “wakker geword het”… Sagte jong handjies, verknokkelde hande vol eelte, kantoorhande en selfs familielede van elders is nadergehark.
Ja, Luckhoff se mense het gewys hoekom hierdie dorpie so ’n onblusbare omgee-gees het.
Die laaste inloer
“Beautifully chaotic,” het Estée die afgelope 8 weke aan Leah verduidelik. En ja, daar was ’n tyd dat sy byna die handdoek wou ingooi. Tot waar sy die volgende dag al die aktiwiteite in die dorp gewaar het en besef het dit gaan nie oor haar nie, maar om hierdie lieflike gemeenskap weer te help om hoop te vind.
“Die nuwe verf is die vir ons die wonderlikste ding. Vandag voel dit asof ons aan die begin van ’n nuwe seisoen staan, het Nadesta May oor haar Angel Child-dagsorgsentrum vertel.

Die begroting
Hoofstraat: R205 000
Kerksentrum: 115 000
Bane & tennishuisie: R530 000
Vrywilligers en gemeenskapsbetrokkenheid: Weergaloos
Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream.