Menu terloops
In Leefstyl & Aktueel [6 Jul 2026]

‘Lottoland help ’n dorp’: Leah gesels oor veerkragtigheid, trane en die vlammetjie van hoop


In die vyfde seisoen van ‘Lottoland help ’n dorp’ neem die reeksaanbieder, Leah van Niekerk, kykers weer op ’n heerlike avontuur na plekke neem waarvan talle dalk nog nooit gehoor het nie.

Deur Redaksie
‘Lottoland help ’n dorp’: Leah gesels oor veerkragtigheid, trane en die vlammetjie van hoop

Deernis, doenmense en groot dinge wat in klein gemeenskappe gebeur – dis die resep wat van Lottoland help ’n dorp so ’n gewilde werklikheidsreeks op kykNET maak, meen sangeres en aanbieder Leah van Niekerk. 

Die vyfde seisoen begin op 7 Julie 2026 op kykNET (DStv-kanaal 144) en dié keer gaan toegewyde plaaslike projekspanne inspring in plekke soos Luckhoff, Concordia, Middelburg, Reitz, Uniondale en Wakkerstroom om betekenisvolle veranderinge in hul onderskeie gemeenskappe teweeg te bring. 

Natuurlik is daar ook altyd uitdagings, maar oor die afgelope vier seisoene het dit duidelik geword dat gemeenskappe wat saamstaan en glo in wat hulle doen, vir geen enkele van daardie uitdagings stuit nie. 

Leah vertel meer: 

Wat het die reeks jou geleer oor die dryfkrag en uithouvermoë van klein dorpies in Suid-Afrika?

“Suid-Afrikaners is beslis baie veerkragtig, en hulle bons gou terug ná uitdagings. Ons mense maak ’n plan. Dis rêrig waar as daar gesê word ’n boer maak ’n plan!”

Sy is ook vol lof vir die mense in die gemeenskap wat betrokke is by die projekte – daardie mense wat sonder huiwering hul hand opsteek om te help.

“Daai deursettingsvermoë – dis ongelooflik.”

Watter impak het Help ’n dorp op jou as mens gehad? 

“Dit maak nie saak hoe goed of sleg dit met jou dorp gaan nie en of dit selfs oorstroom het nie. Die son gaan altyd weer opkom. Dis hoe ek nou letterlik die lewe begin sien.

“Ek het ook geleer dat ons tot baie meer in staat is as waarvoor ons onsself krediet gee. ’n Mens moet wel eerste voor jou eie deur begin vee en nie net staan en kla nie. Staan op vir jou gemeenskap en vir jou mense.

“Dis nie altyd iemand anders se verantwoordelikheid om verandering teweeg te bring nie. Ons moet ook self verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. 

“As jy jouself met die regte span omring, kan jy werklik berge versit.”

Leah van Niekerk, Lottoland Help 'n dorp
“Elke keer wanneer ek uit ’n dorpie ry nadat Lottoland help ’n dorp daar afgehandel is, sê ek dat dit nie die einde van die storie is nie, maar die nuwe begin vir daardie dorpie vir vele dinge wat nog in die toekoms gaan gebeur,” meen Leah van Niekerk. Foto’s: Verskaf/Skermgrepe

Lottoland help ’n dorp bring nie net sigbare verbeterings aan nie – dit gaan ook oor om trots in gemeenskappe aan te wakker. Hoekom dink jy is dit belangrik om hierdie stories te vertel?

“Met elke seisoen besef ek net al hoe meer hoe mooi ons land is. Partykeer voel dit of jy op die maan is. Ander dele is mooi gemaak deur die mense self. Ja, daar is baie negatiwiteit en mense wat sê die land val uitmekaar uit, maar ons moet ons dorpies en ons mense mooi oppas en koester.

“Hou op om te baklei en begin saamstaan – dan kan ons baie meer uitrig. Jy sien regtig die verbeteringe in die gemeenskappe, die mooimaak, die mense wat floreer. As ek hierdie dorpies binnegaan, voel ek die samehorigheid en die onderlinge respek. Dit is so mooi.

“Elke keer wanneer ek uit ’n dorpie ry nadat Lottoland help ’n dorp daar afgehandel is, sê ek dat dit nie die einde van die storie is nie, maar die nuwe begin vir daardie dorpie vir vele dinge wat nog in die toekoms gaan gebeur. Ons verteenwoordig maar net die vlammetjie van hoop wat aangesteek word, en dit versprei deur die land.

“Dis ook baie lekker as ek ’n dorpie binnery wat nie eers deel van Lottoland help ’n dorp was nie, maar waar daar ook verbeteringe aangebring is. Die program het hulle gemotiveer om ook self projekte in hul dorp aan te pak.

“Befondsing is oor die algemeen maar skraps, maar gee van jou tyd. Motiveer mense. Lottoland help ’n dorp is werklik ’n sielsverrykende program, en ek hoop wanneer mense daarna kyk, hulle dit ook voel.

“Selfs ek, wanneer ek weer na die programme kyk, tjank lekker lang trane oor wat ons alles in die dorpies ervaar het.”


Lottoland help ’n dorp word Dinsdae vanaf 7 Julie om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies