“Dit gaan interessant raak,” belowe Lottoland help ’n dorp se aanbieder Leah van Niekerk oor die 40ste dorp waar die groen Lottoland-vlag gehys gaan word.
Net ses dorpe, maar langer tyd en ’n groter begroting is hoe die vierde seisoen van kykNET se inspirerende werklikheidsreeks Lottoland help ’n dorp getakel word. In die eerste twee episodes was Coligny, ’n klein dorpie in Noordwes, die eerste dorp wat tydens die huidige reeks besoek is. En die resultate was verstommend.
Opreg, oop en eg – dís Darling
Wilmie van der Walt, projekleier, vertel Darling is ’n pragtige dorpie, gegrond in kuns en kultuur met fantastiese wynlandgoedere.
Charles Withington, ’n veteraan in die Suid-Afrikaanse wynbedryf en eienaar van The Darling Wine Shop, vertel hulle het lank in Stellenbosch en die Paarl gewoon, maar nog altyd ’n klein plekkie op die dorp gehad omdat hy op ’n plaas gewerk het. Van hul aanvanklike plan om hul plekkie hier te verkoop en eerder in die Paarl te koop, het daar dadels gekom. Hulle het andersom besluit – nou’s die huis in die Paarl verkoop en hulle twee is goed gevestig in Darling. “Dis opreg, dis oop, dis ’n hele klomp egte mense wat is wie hulle sê hulle is,” gaan hy voort.
Die “soet ouens” op die dorp is Frits van Ryneveld en Hentie van der Merwe. Hulle besit Darling Sweet en hulle is gek oor die diversiteit van dié dorpie se inwoners.
Vir nuwe inkommers kan Darling vreemd voel, vertel Lize Bester, projekspanlid. Juis vanweë die groot verskeidenheid kunstenaars en kreatiewe siele wat hier bly. Maar hoe langer jy daar bly, hoe beter.

Dis ’n dorp van omgee
“Ons is baie verwelkomend,” vertel Marius Vlotman, projekspanlid, oor die dorpie waar mense nog vir mekaar omgee. Om van die ongelooflike kreatiewe mense nie te vergeet nie.
Nicola Smit van Evita’s Darlings sê jy kan maar weet, iemand gaan vir jou “hallo” sê wanneer jy hier kom. Sy sê dit hou nie net by die groet op nie, dit raak sommer ’n hele lang storie van gesels.
Ontmoet die tannie
Darling het in 1996 die tuiste geword van een van die bekendste “tannies” ooit: Tannie Evita Bezuidenhout, oftewel Pieter-Dirk Uys! Mense het na Darling begin stroom, veral om na Pieter-Dirk se vertonings te kom kyk en met Evita se Perron is die dorp op die kaart gesit, vertel Frits. Reg in die hartjie van die dorp geleë.
Darling spog ook met ’n ryk verskeidenheid veldblomme en ’n besondere craft-bier. Wie het nog nie ’n Darling Brew raakgeloop nie? Daar is ook die alombekende melkery.
Dit alles skep werksgeleenthede, vertel Charlton Philander, projekspanlid. Hy hoop om Darling nog meer aanlokliker te maak sodat meer werksgeleenthede vir die jeug geskep kan word. Terloops, die gewilde Darling-veldblomskou vind vanjaar van 19 tot 21 September plaas, iets wat reeds oor die afgelope dekades strek. Om nie van die Duckitt-kwekery se orgidees te vergeet nie. Dit is die grootste orgidee-kwekery in die land.
Hoe gaan dit nou op Darling?
Florence Tango, projekspanlid, vertel dat van die jeug die afgelope paar jaar die pad begin byster raak het. Sy dink dis juis vanweë ’n tekort aan werksgeleenthede.
“Mense kry baie swaar. Mense sukkel. En daar is geweld, daar is drugs en Tik. Ons is nie Disneyland hier nie,” vertel Pieter-Dirk.
“Maar mense praat met mekaar. En die wonderlikste ding in my lewe hier in Darling is ons skooltjie, die Darling Trust-skooltjie. En dis ’n lewensveranderende ondervinding, want jy weet, dis vir my te wonderlik om vir hulle hier te sien as hulle klaar is na die jaar,” sê hy en brei uit oor hoekom hy dink die toekoms wink blink vir die inwoners van hierdie dorpie.
Ondersteuning
Wilmie is duidelik trots op Darling. En spog met die feit dat die plaaslike munisipaliteit hulle nie net geweldig goed ondersteun nie, maar dat die Swartland Munisipaliteit ook aangewys is as die beste plaaslike munisipaliteit. Ja, erken sy, hulle het almal groot drome. Maar in hierdie stadium is die geld net nie daar nie. Daarom wil hulle deur hul Oh so Darling-projek fondse inwin deur meer besoekers te lok.
Dan is daar Omnia, bekend aan almal in die dorp vir die pragtige muurskilderye wat sy die lig laat sien. En Marius, met sy kalm teenwoordigheid, is ewe belangrik vir sy kennis van die dorp. Plante is Sharon Burger, projekspanlid, se lewe en Florence is die gemeenskapsgesondheidswerker wat almal al op hul beste én hul slegste gesien het. Ook sy spog met groen vingers.
Charlton het hier grootgeword en homself opgewerk tot waar hy vandag sy eie verfbesigheid besit. Annetjie Kleinhans, projekspanlid, wie se passie met die museum verweef is, is ’n afgetrede landdros. Lize word gesien as die raakvatter. Op haar beurt is Meg die een met ’n passie vir toerisme, die een wat almal altyd hartlik verwelkom.
Ook lekker om te lees
Help, Lottoland!
Mooi maak, verfraai, ophelder . . . dit vorm die basis van Oh so Darling se planne. Daar is die swembad agter ’n grys betonmuur propvol graffiti. Omni vertel dat hierdie swembad ’n veilige bestemming moet word vir ouers wat hul kinders hierheen kan bring.
Park Close is ook op die lysie – ’n lieflike groot gebied wat ideaal sal wees vir ’n park, propvol geleenthede vir plaaslike kunstenaars om uitstallings te hou, ’n boorgat en natuurlik die veldblomprag ten toon te stel.
Sharon noem dat daar nie juis openbare ruimtes vir inwoners of toeriste is nie. Haar hande jeuk om hier te begin ontwikkel, reg langs die begraafplaas wat gereeld deur mense besoek word. Randstene, muurskilderye en kennisgewingborde wat al die besienswaardighede verkondig word vir die hoofstraat beoog. In hierdie stadium voel ook Charles dat die hoofstraat nie Darling se lewendige persoonlikheid weerspieël nie.
Die beton-bushalte moet opgeknap word en Wilmie wens ook vir beter dae vir die Darling Outreach Foundation, wie se gebou ’n baken van hoop vir die inwoners is.
Wilmie glo dat Oh so Darling hierdie lieflike gemeenskap en dorp weer sterk bymekaar gaan bring. As hulle nie die befondsing kry nie, glo sy hulle sal deur die afskaling van sommige projekte tog wel voortbeur met verbeteringe wat hulle wel kan bekostig.
Die groen koevert

Van iewers bring Leah daardie groen koevertjie na vore. “Dit is so ’n gevoel van hoop,” kom dit van ’n oorstelpte Wilmie terwyl sy die koevert oopmaak. “Ek kan nie glo ek huil so erg nie, ek is nie so ’n huilerige mens nie.”
Daar staan dit in swart op wit: Lottoland gaan vir Darling help. Ons gaan vir die Oh so Darling-span R800 000 skenk!
“Dit het net so mooi alles bymekaar gebring. Sy was reg om nog vir ons om te praat om daai geld te kry – en hier verras ek vir haar met die groen koevert,” vertel Leah wat self ook aangedaan geraak het. “Dit was vir my ’n verskriklike mooi, en ’n baie egte, oomblik.”
“Ek het gedink ‘sy kan mos nie nou haar rok so oplig voor die kamera nie’ . . . en daar verskyn die groen koevert!” sê Wilmie. (Kykers sal maar self moet uitvind waar Leah hierdie keer daai koevertjie versteek het!)
Vier weke later
Gaan Leah die kleurvolle prentjie vind wat sy belowe is nadat die groen koevertjie oorhandig is? “Darling gaan groot, en Darling hét groot gegaan,” vertel ’n opgewonde Wilmie toe Leah en die Lottoland help ’n dorp-span weer terugkeer.
Omnia vertel dat mense, toe hulle haar haar muurskilderye sien verf, gevra het of hulle sommer langs die treinspoor kan skoonmaak of gou hier ’n draadhek kan regmaak. Baie vrae, baie gewillige hande. Daar is baie bloed en sweet getap om die Darling Outreach Foundation se gebou weer reg te ruk. Krake is gevul, vensters is vervang, geroeste panele is verwyder, daar is geverf. En dit is absoluut besonders en verdien nou op alle vlakke die titel as die baken van hoop.
Tussendeur erken van die spanlede dat hulle baie vinnig baie nuwe vaardighede en kennis moes opdoen. Maar niks, absoluut niks, het hul geesdrif gestuit nie. Nie eers die 75 kg-bouerskalk wat met die hand ingewerk moes word nie….
Volgende week
Vind uit of die projekspan goed genoeg gevorder het – en hoe gaan die mense met “interessante opinies” reageer op die swembad se nuwe verfwerk?
Lottoland help ’n dorp wys Dinsdae om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream. Episodes is ook ná uitsending op CatchUp beskikbaar.