Menu terloops
In Recaps & Resensies [12 Aug 2025]

‘Lottoland help ’n dorp’: Dié Vrystaatse dorp ken nie van tou opgooi nie


 “Hierdie dorp het ’n baie groot towerstaffie so geswaai,” kom dit van ‘Lottoland help ’n dorp’-aanbieder Leah van Niekerk wanneer sy met haar terugkeer die transformasie van Winnie Mandela-dorp se stadsaal aanskou. 

Deur Annelene Oberholzer
‘Lottoland help ’n dorp’: Dié Vrystaatse dorp ken nie van tou opgooi nie

In verlede week se episode van Lottoland help ’n dorp het kykers ’n dorpie halfpad tussen Bloemfontein en Welkom wat eens as Brandfort bekend gestaan het, van naderby leer ken. Nou staan Brandfort ook bekend as Winnie Mandela-dorp.

Die Lottoland help ’n dorpspan het na vier weke gaan inloer om die vordering dop te hou wat projekspanleier Denise Kriel en haar span hier aan die voet van die Keeromberg verrig het. Hul groot droom was om die stadsaal weer tot volle glorie te herstel. Dit is immers waar die hartklop van die dorp behoort te wees, waar mense kan bymekaarkom en dinge laat gebeur.

Denise het erken dit was ’n taai tyd waar drome van maanskyn en rose beslis nie plek gehad het nie. En nog was dit het einde niet van al die uitdagings wat op hulle gewag het. Die geld het begin knyp, onverwagte uitgawes het soos kakiebos begin opslaan en dan was daar die groot reën en wind. Vir ’n twee volle weke . . .

Maar een ding van die inwoners van die Vrystaatse vlaktes – hulle ken nie van tou opgooi nie.

Halfpadmerk

Pieter van Dyk, voorsitter: Masilonyana-Brandfort-forum, was baie trots op wat reeds binne die eerste vier weke verrig is. Vensters is ingesit, en toe die ligte aangeskakel word, het die hele dorp glo kom kyk. Teen die halfpadmerk het die spanne reeds begin met die verfwerk en daar is wild op die terrein gewerskaf. Dinge het beslis nie stilgestaan nie.

Volgens Ina Beukes, projekspanlid wat ook die finansiële kant van die projek monitor, was die opgewondenheid onder baie van die inwoners hoog oor die nuwe baadjie wat nou vir die stadsaal gemeet, gesaag en gepas word. “Hulle het ou herinneringe van hoe’t hulle troues hier gehou het, watse groot funksies en goed was hier binne.”

Geldsake en welwillendheid

Lottoland het R800 000 vir die projek bewillig. Volgens Ina is daar reeds R12 000 van die gemeenskapsfonds en R321 916 van Lottoland se geld vir die projek aangewend. “Sy’s baie kwaai,” het Thys Loots, projekspanlid, te sê gehad oor Ina se fyn oog op die geldsake.

Lottoland
Lottoland het R800 000 vir die projek bewillig. Foto’s: Skermgrepe

Dan was daar ook die weldoeners uit die gemeenskap, soos iemand wat vir al die badkamerteëls en ook vir die teëls op die stoep betaal het. Iemand anders het die alarmstelsel geborg en die vensters is teen ’n baie spesiale tarief aan die span verkoop.

Selfs kwaste en verf vir die heining rondom die stadsaal is aan hulle geskenk. En mense van alle ouderdomme, skoolkinders inkluis, het kom “kwas inlê”.

Die gemeenskap het ’n TLB (Trekker-laaigraaf-trekskop) gratis aan die span beskikbaar gestel en ook die plaaslike munisipaliteit het nie gehuiwer om ’n hand, en selfs meer, by te sit nie.

Vrywilligers het vanuit alle oorde gestroom om te kom help, en Thys sê hy het selfs mense ontmoet wat hy nie geweet het op die dorp bly nie.

Groter prentjie

Kykers weet teen die tyd dat geen gemeenskap 100% inkoop by projekte nie, maar tot dusver het Lottoland help ’n dorp gewys dat dit geen projek gaan ontspoor nie. Ook nie hier nie. Dit gaan immers oor die groter prentjie: trots, gemeenskap, eienaarskap en vorentoe beweeg op ’n positiewe grondslag.

Pieter het vertel dat daar ’n ooreenkoms met die munisipaliteit gesluit is wat behels dat die die projekspan die stadsaal namens die munisipaliteit gaan bestuur. “Daar was twee raadslede wat opstandig geraak het en gesê het die projek moet stop. Ek moet sê, ons het ’n paar benoude oomblikke daar gehad. Maar die burgemeester [Dimakatso Modise], was fantasties gewees. Sy het net voet by stuk gehou en gesê, ‘Hierdie projek gaan aan’.”

Niks en niemand kon die projek se entoesiasme blus nie en hulle het begin wens dat die volgende vier weke sommer verby moet vlieg.

Vier weke later

Dit was ’n opgewonde Leah wat na die dorpie teruggekeer het. Sy het besef dat daar ongelooflik baie werk afgehandel moes word, dat dit allesbehalwe goedkoop sou wees – maar eintlik ook omdat sy besef het wat die potensiaal van die projek is.

Denise kon ook nie glo dat die agt weke so skielik verby is nie. Sy het ook genoem van die oppe en awwe wat hulle beleef het, maar niks kon hulle stuit nie. Dan, die weerstand vanuit die geledere wat gevoel het die fondse kon beter aangewend word. Sy vermoed dis dalk omdat diegene wat negatief was, waarskynlik Lottoland help ’n dorp met Dankie, Lottoland verwar het.

“Maar dit was net ’n klein druppeltjie van die gemeenskap wat so gevoel het,” het Denise vir Leah vertel. En ook met groot dankbaarheid het sy genoem dat die res van die gemeenskap 110% bygedra het tot die projek – of dit nou hulp, bydraes, advies, foto’s of stories was – hulle was daar!

Toe Leah eindelik by die stadsaal uitkom, kon sy net in absolute verstomming na dit staar. “Is ons in die regte dorp?!” het sy verbaas vir Denise gevra. 

Lottoland, kykNET, Leah
Toe Leah eindelik by die stadsaal uitkom, kon sy net in absolute verstomming na dit staar. 

“Die prentjie wat Denise vir my die vorige keer geskep het… Dit het nou waarlik tot lewe gekom, en soveel meer,” was Leah se reaksie op wat alles binne agt weke vermag is. “Hierdie dorp het ’n baie groot towerstaffie so geswaai. Ek kry sommer ’n bietjie goosebumps terwyl ek praat.”

“Ek gaan baie eerlik wees. Toe ons sien hoe hierdie stadsaal lyk, was ek baie skepties. En toe ek daar instap, was my verbasing baie groot,” vertel Maryke Haywood, bemarkingshoof: Lottoland SA. Sy kon ook nie uitgepraat raak oor hoe trots sy voel op wat die projekspan vermag het nie.

‘Dag en nag gewerk’

Denise het vertel hoe daar dag en nag gewerk is, “selfs kerk is ge-bunk” om vordering by die stadsaal te maak. Om nie van die ellelange lysies te praat nie, lysies om seker te maak dat alles gedoen is wat gedoen moes word.

Die stadsaal het nou selfs ’n “geskiedenis-muur” wat Brandfort se geskiedenis in beeld uitstal. Die Nasionale Museum het ingewillig om die panele vir die stadsaal te maak. Behalwe die nuwe geteëlde vloer van die stadsaal, het die span by Leah gespog oor hul verhoog wat Denise as ’n meesterstuk beskryf het. Ook Pieter het ’n stuiwer in die armbeurs daaroor gegooi. “Enige groot saal . . . operahuis, sal trots wees om so ’n verhoog te hê,” het hy verklaar. 

Nog ’n kinkel wat bygedra het tot die sukses van die stadsaal se nuwe baadjie, was dat die gemeenskap uitgenooi is om ’n plekkie op die terrein te kom kies waar hulle graag sou wou tuinmaak. “Ons het hard gewerk om die vuilgoed om te spit,” het Tshepo Khatlisi Jantjie, gemeenskapslid, vertel. 

Nog planne

Ina het vertel dat hulle so goed met hul geld gewerk het dat daar nog R50 000 in die spaarvarkie oor is. En met daardie geld word daar nou planne gemaak om gordyne vir die stadsaal aan te koop. Want, sê sy, ’n verhoog sonder ’n gordyn is nie ’n verhoog nie.

Die swart muur

Net so hartlik en vrygewig as wat die Vrystaters kan wees, kan hulle ook hul dankbaarheid deel. Dis hoekom daar ’n swart muur in die stadsaal is. Op dié muur verskyn die name van almal wat betrokke was en ’n bydrae gemaak het.

“Hulle name gaan tot in lengte van dae daar wees. Almal gaan weet hulle was deel van daai boublokkie van die stadsaal,” het Denise verduidelik. 

Lottoland, kykNET, Leah
“Hierdie dorp het ’n baie groot towerstaffie so geswaai. Ek kry sommer ’n bietjie goosebumps terwyl ek praat,” was Leah se reaksie.

Wat sê die inwoners?

“Ons is so bly, so dankbaar dat dit so kan wees. Mens het nie gedink dis moontlik nie,” sê Cora Smith, gemeenskapslid.

Johan Swanepoel, ’n kontrakteur, sê weer: “Die stadsaal was regtigwaar een van ons mooiste plekke in die dorp gewees. Ek is hier van 1986 af, so ek weet hoe het dit gelyk. Dit was vir ons nogal ’n skok gewees om te sien wat het gebeur en hoe’t hy agteruitgegaan. Dit was regtig die samekoms van die dorp.” 

Lottoland het nie ons gebou net kom mooimaak nie, hy’t ons mense kom hoop gee en almal blootgestel dat ons weet wie’s oulik en wie’s nog ouliker. So, dit was net vir ons ’n wonderlike projek, regtigwaar,” kom dit van Madalén Loots, gemeenskapslid.

“Dit gee ons hoop dat ons plaaslik baie dinge kan verrig solank ons positief is, saamwerk as ’n gemeenskap en munisipaliteit. En nie net op ons politieke verskille fokus nie. Dit word gedoen tot voordeel van die gemeenskap,” sê Ben Mabaso, gemeenskapslid en oud-burgemeester.

Die vonkie wat ’n vuur moet word

Dis wat Pieter graag in die toekoms sal sien gebeur en dat hierdie projek die hele dorp gaan omkeer en ’n baken van lig vir die gemeenskap sal word. Op haar beurt het Denise ongelooflik baie geleer – van die boubedryf tot hoe om mense bymekaar te bring.

Pieter se vonkie-tot-vuur-droom is nie so vergesog nie, veral nie as daar na Denise se boodskap vir ander dorpe gekyk word nie. “Daai droom wat jy in jou hart het, daai wat jy sien jy gaan dalk ’n verskil kan maak – maak die verskil want jy is die verskil.”

En op sy kalm manier het Pieter ook ’n boodskap om te deel, die een wat hy op die swartbord geskryf het: Acta non verba. “Hou op praat, en dóén. En dan sien jy ’n eindproduk soos die stadsaal.”

Volgende week

Waar op dees aarde in die Klein Karoo gaan Leah met haar Lottoland help ’n dorpspan en daai groen koevertjie vir ’n wyle tot stilstand kom?


Lottoland help ’n dorp wys Dinsdae om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream. Episodes is ook ná uitsending op CatchUp beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
10

Gesinsvermaak: Kyk dié 10 reekse en flieks saam-saam

Van ‘Finding Optel’ en 'The Wild Robot' tot ‘Fuller House’ en 'Een keer om die son' – daar is heelparty TV-reekse en flieks wat jy oor die lang skoolvakansie as gesin saam kan kyk. 

Meer
3

‘Skemergrond’ in Desember: Hou dié storielyne dop

'Skemergrond' se mense beleef ’n stormagtige Desember met van liefde wat blom tot pynlike herlewings uit die verlede. Hier is die storielyne wat jy vandeesmaand moet dophou.

Meer
Sien alle opsies