Menu terloops
In Recaps & Resensies [5 Aug 2025]

‘Lottoland help ’n dorp’: Die dorpie met een hoofstraat waar jy nie verlore kán raak nie


“My ouma het altyd gesê jy huil twee keer oor Brandfort. Die eerste keer is as jy hier kom en sien hoe klein is die plek, en die tweede keer as jy moet weggaan.” Só vertel een van dié dorp se inwoners tydens ‘Lottoland help ’n dorp’ se besoek. Watter transformasie gaan kykers hier sien gebeur?

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Lottoland help ’n dorp’: Die dorpie met een hoofstraat waar jy nie verlore kán raak nie

Lottoland help ’n dorp-kykers verlede week gesien hoe “darling” ’n klein dorpie soos Darling in die Wes-Kaap kán wees danksy ’n uitstekende projekspan en mense wat saam kom skouer aan die wiel kom sit het. Sommer so. 

Die nuwe formaat van die reeks betrek vanjaar net ses dorpe, maar die projekte is groter en die begroting bult groter spiere. Leah se Lottoland help ’n dorp-span kom loer ná die eerste vier weke deur die proses by die dorpie in en dan is dit D-dag ’n verdere vier weke later . . . die dag waarop alles afgehandel moet wees.

Dís jou dorp

Die Vrystaatse grasvlaktes roep en Leah en haar span is op pad na ’n dorpie halfpad tussen Bloemfontein en Welkom wat eens as Brandfort bekend gestaan het. Nou is dit beter bekend as Winnie Mandela-dorp. En Leah kan nie glo hoe mooi en groen die wêreld rondom haar lyk nie.

Denise Kriel, projekspanleier, is duidelik baie trots op hierdie dorpie wat aan die voet van een van die min berge in die Vrystaat, die Keeromberg, gesetel is. Ja, sê sy, die dorpie is wel klein, máár die mense . . . groothartig beskryf die gemeenskap nie goed genoeg nie.

Pieter van Dyk, voorsitter: Masilonyana-Brandfort-forum, is net so lief vir wat hy ’n unieke dorpie noem. Óf jy nou vyf-uur soggens die son sien opkom óf dit saans sien sak, hierdie dorp kan volgens hom nie met enige ander plek vergelyk word nie. Om nie van die sonsondergange te praat nie!

In ’n stadium was die ouer geledere meer verteenwoordigend in hul dorp, maar deesdae sien dit baie anders daaruit, vertel Pieter Bezuidenhout, projekspanlid.

Dis ook ’n dorpie waar geskiedenis deur die dekades hier baie diep spore getrap het – van die eerste vliegtuig in Suid-Afrika wat hier gebou is tot Winnie Mandela wat hier gevestig was.

Dimakatso Modise, burgemeester van die dorp, onthou van die dae toe daar ’n groot skeiding tussen die verskeie gemeenskappe was. Almal kon nie by dieselfde deur ingaan om inkopies te gaan doen nie. Maar Winnie het hard gewerk om hierdie skeiding tot niet te maak.

Leah is oortuig jy kan nie verdwaal as jy hierdie dorpie tref nie. En alhoewel dit betreklik besig is, is daar tog die plattelandse rustigheid wat oorheers.

Lekker gees

Denise vertel dat baie dinge hier ten goede verander het sedert Covid danksy die Masilonyana-Brandfort-forum wat verskeie projekte aan die gang gesit het.

“Die gees van die dorp het net lekker geraak,” vertel sy. En, soos met menige kleiner dorpies die geval is, ken almal boonop mekaar. Sy sê jy moet maar jou tyd “inwerk” as jy die plaaslike OK besoek, want een ding is seker – daar gaan gesels word vir langer as wat jy voor sou beplan. “Die goud van die dorp is die gemeenskap. Hulle hou alles bymekaar,” sê Denise.

“My ouma het altyd gesê jy huil twee keer oor Brandfort. Die eerste keer is as jy hier kom en sien hoe klein is die plek, en die tweede keer as jy moet weggaan,” kom dit van Pieter. 

Help, Lottoland!

Lottoland
Leah erken haar moed het letterlik sommer tot in haar skoene geval toe sy die toestand van die stadsaal sien. Foto: Verskaf

Denise erken sy was bang dat Leah sou skrik vir die omvang van hul projek. Die hooffokus is natuurlik op die stadsaal wat hulle graag in ere wil herstel. “Hierdie mooi meisie van ons,” noem Denise dit.

Leah erken haar moed het letterlik sommer tot in haar skoene geval. Dis toegegroei, dis vervalle en vandaliste het hul merk gelaat. Denise-hulle het al die binnekant twee weke gelede begin skoonmaak, maar dit lyk na ’n onbegonne taak om weer orde en netheid hier te herstel. Van die plafonpanele het voete gekry, die vloerplanke is allesbehalwe veilig met groot gapings hier en daar. 

“Hier was 81-jarige tannies, hier was klein kindertjies – van hulle seker ses-sewe jaar oud – wat almal kom help het om skoon te maak,” vertel Pieter. En as daar so na die foto’s gekyk word van hoe dit toe gelyk het tot en met Leah se besoek, het dit bloed en sweet geverg om net weer dit van die vloerplanke wat oor is, van onder al die rommel weer sigbaar te maak!

Juliana Griessel, projekspanlid, vertel hoe hulle as span ingespring het. Party het voor begin, ander binne-in die saal, sy en haar dogter het die kombuis getakel. So het elkeen maar net ’n plek gekies en begin skoonmaak.

“Dié plek hou soveel herinneringe in vir ons senior burgers,” vertel Lesley Walaza, gemeenskapslid. Hy onthou van musiekkonserte en danse wat in die stadsaal plaasgevind het. Nou wil hy daai herinneringe weer laat herleef. Meer nog, hy gee musiekklasse tuis en kan nie wag om dit uit te brei na die stadsaal om nog meer kinders te onderrig nie.

Lottoland
Die stadsaal was omtrent in ’n haglike toestand. Foto: Verskaf

Denise, ’n groot aanhanger van Lottoland help ’n dorp, sê sy sélf hou daarvan om skoon te maak en uit te help. Daarom was hul inskrywing absoluut net die mees logiese stap om te neem. “Die dorp is jou tuiste. Nou, jy gaan tog nie toelaat dat jou huis en vervalle is nie. Dan spring jy in en doen iets daaromtrent,” verklaar Pieter.

Die eerste stap is om die stadsaal te beveilig deur onder meer vensters in te sit, ’n alarmstelsel  en ligte aan die buitekant te installeer en daarna sal daar na die binnekant beweeg word. 

Daai groen koevertjie

Lottoland
Die dorp se inwoners het baie planne om hul tuiste weer in ere te herstel. Foto: Verskaf

Denise vertel vir Leah dat die forum verskeie planne het om veral die stadsaal se volhoubaarheid te verseker en ook om die dorpie weer op die kaart te plaas vir toeriste. Hulle ligging is immers ideaal tussen Welkom en Bloemfontein.

“Ons moet dit net benut.”

Dis net waarvoor Leah gewag het voordat sy die groen koevertjie aan Denise oorhandig. Dis ’n bewerige Denise wat die brief aan Leah voorlees: R800 000 gaan aan hulle geskenk word om Winnie Mandela-dorp se stadsaal in ere te help herstel! 

“Jou hart klop in jou keel, jou ore suis . . . dis net ’n ongelooflike gevoel, daar’s 10 000 goed wat net deur jou gedagtes gaan en dit voel of jy nie kan praat nie,” erken Denise nadat die inhoud van die groen koevert begin insink het.

“Julle gaan hierdie mooi meisie sien, hoor!” belowe Denise vir Leah. “Die hoop brand al klaar daar. Hierdie is nou net die petrol op die hoop.”

Dit het ’n tydjie geneem vir Pieter om sy stem te vind toe hy die inhoud van die koevert lees. En sy stem is nog bewerig toe hy vertel hoeveel dit vir die mense van die dorp gaan beteken. Vir hom voel dit soos die aanbreek van ’n droomvakansie waar ‘jy in die kar klim en ry’. “Dit is hierdie oomblik.”

Lottoland
R800 000 is geskenk om Winnie Mandela-dorp se stadsaal in ere te help herstel. Foto: Verskaf

Vier weke later

Die eerste paar weke was allesbehalwe maanskyn en rose. En soos gewoonlik was daar die gewone kwota kritici. Maar, sê Denise, vir haar was dit wonderlik om te sien hoe die gemeenskap oopgemaak het en hulle gekomplimenteer het oor wat hulle reeds bereik het.

Daar is nog heelwat uitdagings wat voorlê, maar sy sê as sy terugkyk na wat hulle reeds bereik het, voel dit vir haar ongelooflik.

Ook Pieter moes sy verwagtinge effens in toom hou. Hy erken hy wou Rome werklik in een dag bou. “Ons moes alles van vooraf doen. Alles was weg. Al vier DB-borde (elektrisiteitspanele) was leeg gesteel,” vertel Thys Loots, projekspanlid. 

En toe Willem Pienaar, kontrakteur, opdaag om die vloer te kom inspekteer vir ’n kwotasie, was van die vloerplanke uitgebreek. Al die dra-balke onder die vloer moes uitgehaal en vervang word om alles weer 100% gelyk te kry.

Nog slegte nuus het gevolg. Die panele waaruit die plafon bestaan, is glad nie meer beskikbaar nie. Dit sou derduisende ekstra rande gekos het om die hele plafon te vervang. Maar ’n boer soos Thys maak ’n plan . . .

Pieter erken finansies is aan die knap kant. Tog is daar beloftes van steun, maar die mense wil eers sien dat daar daadwerklik iets gebeur voordat hulle betrokke gaan raak. Ai, en toe kom die reën, en die wind!

Volgende week

Hoe gaan die projek beïnvloed word met groot aflewerings wat net een keer ’n week na hierdie dorpie se kant toe kom? Dan nog ’n paar benoude oomblikke tussen alles deur. Gaan dit die span se geesdrif (en vordering) blus?


Lottoland help ’n dorp wys Dinsdae om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream. Episodes is ook ná uitsending op CatchUp beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies