“Hierdie is gewone mense – die meeste van hulle het voltydse werke – wat letterlik vrywilliglik hande opsteek . . . wat die passie het, wat hierdie trots het op hul dorp. Wat meer wil doen en meer wil gee. Dit spoel oor na ander dorpe toe,” gesels programaanbieder en sangeres Leah van Niekerk oor kykNET se werklikheidsreeks, Lottoland help ’n dorp.
Calvinia is ’n dorp wat Leah al reeds verskeie kere besoek het en sy sê dis ’n plek waar mense jou baie welkom en tuis laat voel.
“Hulle gee lekker geskenkies in die vorm van moerbeikonfyt ook. En die vleis hier is . . . beste!” vertel sy.
Dis jou dorp . . .
“Calvinia is eintlik ’n unieke dorp. Hier begin jy leer waardeer wat op die grond aangaan. Hy bring jou terug na Moeder Aarde toe en hy gee vir jou die nederigheid, basies plat op die grond,” kom dit van Jan Palm, raadslid: Hantam Munisipaliteit. Hy kan nie uitgepraat raak oor die vriendelikheid van die mense hier nie – en hoe maklik hulle hand uitsteek om te groet én om te help.
Giel Kotze, projekspanleier, vertel van al die verskillende aktiwiteite wat in Calvinia plaasvind. Dis die blommemark, die Kersmark, dan is dit die Vleisfees en tussendeur word daar heerlik op die sportveld gewoel. Hy sê hierdie is nou die een plek wat hom nooit verveeld laat nie. En hy het ook groot waardering vir die rustigheid wat so integraal deel is van die dorp.
“Dis ’n boerdery-gemeenskap hierdie. En hier’s wonderlike ou geboue en hier’s wonderlike restourasie gedoen aan die ou geboue,” vertel Maxie Hugo van die Noordwester-koerant. Sy noem ook die Rebunie- en Hantamberge wat die dorpie omhels. En ook sy praat ook van die pragtige blomme gedurende die wêreldbekende blomseisoen wanneer Calvinia een aaneenlopende veld van kleur en geur word.
Natuurlik spog Calvinia ook met die grootste rooi posbus. En dis iets wat Jan Isaacs, oftewel Boeta Gammie, gemeenskaplid, baie trots op is. Meer nog, die beste vleis kom ook volgens hom uit Calvinia. Hy nooi almal uit om te kom kuier vir die vleis en sê dis voorts ’n plek waar almal vir mekaar omgee en respekteer.
Plek van saligheid
Dis ’n dorp waar almal in die dorp mekaar groet as jy in die oggend van die huis af wegry en weer saans terugkeer.
“Vir my is dit ’n plek van saligheid. Ek het my vreugde kom vind in Calvinia,” sê Giel.
Na haar ontmoeting met Giel kan Leah nie uitgepraat raak oor die man wat nie kan stil sit nie.
“Dis regtig ongelooflik om te sien hoe baie hy vir hierdie dorp omgee,” kom dit verbaas van haar. Giel is nie daar gebore nie, inteendeel. Hy verwys na homself as ’n rolbos wat hier in die draad kom vaswaai het. En waai gaan hy nooit weer nie. Tydens Covid het hy besluit om hier te kom bly en hy het net teruggegaan na sy vorige plek om te gaan oorgee en af te tree sodat hy kan terugkeer na die hart van die Hantam.
Nou is hy onder andere betrokke by die Calvinia Omgeegroep om te help waar hulp nodig is. As daar klereverkope is, hou hulle fondsinsamelingsaktiwiteite vir diegene in nood. Dan is daar ook verskillende ander aktiwiteite wat in die dorp aangebied word om nog meer fondse in te samel. Hy noem dat daar baie projekte is wat aandag nodig het, maar die fondse rek nie so ver nie. Die geliefde rooi posbus is wel onlangs weer mooi geverf en dit staan trots in die hoofstraat.
Help, Lottoland help ’n dorp
Die pragtige kerk is eerste op hul lysie. Dit is onlangs oorgeverf, maar beide die verf en die geld het opgedroog . . . Die tuin kort aandag. Die kerksaal, en veral die braaiplekke daar, het ook aandag nodig. Dis waar die gewilde blommemark en die Kersmark plaasvind.
Die Lombard-vierlinghuis is op die Museum se terrein geleë. Hannie Lombard (oftewel Hannie Vierling) van Loeriesfontein was reeds ma van twee dogters toe sy in 1951 aan die vierling (Jannie, De Waal, De Villiers en Klasie) geboorte geskenk het. Maar daar is nie vandag fondse om hierdie ikoniese huis tot volle glorie te herstel nie. Dit is ook ’n gewilde bestemming vir toeriste wat spesifiek na Calvinia kom om die huis te sien.
Hantampark is waar rugby en ander sport plaasvind, maar die muur om die park het aandag nodig. Dis waar die Vleisfees in Augustus plaasvind. Nog iets op hul wenslysie is ’n koelwa waarmee hulle die vleis mee kan vervoer tydens die fees.
Maar daar’s meer. Die Omgeegroep is deel van ’n uitreikaksie met ’n organisasie in die Kaap waartydens daar ongeveer 30 skape geslag en bewerk word. En die koelwa sal ook daarvoor ingespan word want hulle moes al voorheen van die vleis weggegooi het omdat dit nie voldoende koel gestoor kon word op pad na die bestemming nie.
Giel droom daarvan om hul dorp weer mooi te maak.
Die groen koevertjie
“Gelukkig vir jou vandag . . . Lottoland help’n dorp maak drome waar,” sê Leah vir hom en daarmee oorhandig sy haar geheime wapen aan hom: daai groen koevertjie!
Giel erken Leah het sy voete onder hom uitgeslaan, en dis nog voordat hy sien hoeveel geld daar geskenk word: R447 000.
“Ek het nie woorde nie,” is al wat hy kan sê. Maar hy belowe vir Leah dat hulle hul projekte met trots gaan aanpak. “Ek het nou die bus gevang, en nou moet ek hom seker maar ry.”
Agt weke later
Dis ’n kleurvolle Calvinia wat Leah en die Lottoland help’n dorp-span verwelkom. Sy is verbaas hoe kalm Giel voorkom. Die verfwerk is effe in die wiele gery deur die winterreën, maar niks het die projekspanne gestuit om te doen wat hulle kon doen nie. Hy sê daar was nie eens skuur en skaaf met mekaar nie, dinge het gladweg verloop.
Hy vertel die lekkerste van alles was wanneer die projekspanne hom laat weet het alles verloop volgens skedule. Harde werk, maar lekker werk, erken hy.
Die muur rondom Hantampark is ’n absolute openbaring. Netjies, netjies, netjies . . . met muurskilderye wat elk ’n storie vertel. Daar is selfs ’n blommetjie gelos vir Leah om te verf.
Giel was eers van plan om chromadek in te span vir die muur, maar toe kruis sy pad met Nolene. Haar sketse was die antwoord.
Die Lombard-vierling se huis is pragtig gerestoureer. Frances de Kock, projekspanlid, vertel dat dit sy eie uitdagings gebied het omdat die huis met songebakte bakstene gebou is. Hulle het ook nie met gewone verf die huis getakel nie, maar in lyn met die outydse metode dit met kalk afgewit.
“Die plek . . . regtigwaar, dit lyk goed, vir my is dit baie smart. Ek het al so op die manier skelmpies selfies gevat aan die agterkant, want dis regtig smart,” erken Adonis de Wee, Calvinia Museum. Memci van Wyk, Calvinia Museum, vertel dat hierdie huis reeds in 1904 gebou is. Vandag is dit vir haar weer ’n paradys-huis.
“Hoe sê hulle? ’n Oulap se rooi maak mooi. So, met ’n bietjie verf en ’n bietjie liefde en ’n bietjie aandag dink ek die Vierlinghuis lyk weer tip-top,” sê Francis.
En by die kerksaal? “Nou kan ons basaar hou,” kom dit laggend van Leah. Dit is pragtig gedoen. En, vertel Deon Engelbrecht, wat nou daar gevestig is, is vir die hele gemeenskap gedoen. Dis toeganklik vir almal.
Flip Augustyn, projekspanlid, vertel dit het maar opdraende gegaan toe hulle besef daar moet liewers gruis reg rondom die kerksaal gegooi word. Hulle het tot laat Vrydagaand nog gruis gegooi.
Vir Deon is daar nog ’n bonus van die projekte wat getakel is – en dit is dat daar vir verskeie mense kos op die tafel gesit kon word.
Dit eindig nie daar nie. Calvinia Omgeegroep het uiteindelik hul koelwa gekry! Die kerk, wat jare gelede met die mooiste tuin in die dorp kon spog, het ook weer aandag gekry.
“In Calvinia moet jy tuinmaak sonder water. In die tuin is 80 m2 gruisklippies gebruik en dit kos duur,” vertel Lizette Lambrechts, projekspanlid. Maar toe Lottoland help ’n dorp betrokke geraak het, het Lizette besef haar droom kan waar word. Nou is daar bankies by die gedenkmuur en plante om kalmte te bewerkstellig vir diegene wat hul geliefdes hier kom besoek.
Giel kan nie genoeg erkenning gee aan die samewerking wat met die munisipaliteit plaasgevind het nie.
Hy vertel ook van die jong rieldansertjies van Calivina wat ook nie fondse het nie. Een van hul groot behoeftes was hul uitrustings vir optredes. En net daar word hulle deel van die projek en nou trap hulle al te lekker stof in hul uitbundig-vrolike uitrustings.
Sonja Smith, Rieldansers Calvinia, is ’n baie gelukkige mens omdat haar rieldansertjies nou so pragtig lyk. Hulle is klaar genooi om in die Paarl te gaan optree – en wat dan nou lekkerder as in hul splinternuwe uitrustings!
“Daai gesegde van ‘blom waar jy geplant is’, ek dink ons wil daai uitlewe,” kom dit baie wys van een van die Calvinia Omgeegroep se lede.
Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaand om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.