In die tweede episode van Lekker & goed met Carmen Niehaus, een van Suid-Afrika se grootste name in die kosbedryf, neem sy haar gas, Marciel Hopkins van Boer soek ’n vrou-faam, en deesdae Bravo!-aanbieder, vir die dag op ’n uitstappie deur die veld in Langebaan aan die pragtige Weskus.
Marciel, wat onlangs die Boer soek ’n vrou-aanbiederleisels aan Reandi Greyling oorgegee het, sê sy ken nie die Weskus juis goed nie, maar enigiets wat haar naby die natuur bring, is vir haar baie lekker. Veral as sy haar dag daarmee kan begin.
Carmen en Marciel het natuurlik ook iets belangrik in gemeen: altwee is plaaskinders wat met ’n diep liefde vir die veld grootgeword het. “Die veld gee vir my energie,” sê Carmen.
“En dis vryheid, né! Daar’s nie grense wat jou vashou nie,” beaam Marciel en sy onthou hoe sy en haar boetie oral op die plaas kon rondspeel. Een van haar gunsteling dinge om te doen, was om ’n kortbroek ná skool aan te trek en dan in die bome te gaan rondklouter.
“Dit was my verbeeldingswêreld gewees. Daar het ek al begin om ‘in flieks te speel’, en dan model te speel. In die bome. Dit was heerlik,” onthou Marciel.
“Dit sal nogal partykeer vir my lekker wees om net weer vir so ’n tydjie op die plaas te wees,” is een van Carmen se wense.
Veelsydige tee en vark
“Ons gaan dit drink, met dit kook . . . snaakse goed doen,” belowe Carmen vir Marciel met die tee wat gereed staan. Terwyl Marciel noem dat sy baie van rooibostee hou, erken Carmen dat sy as kind glad nie ’n groot rooibosteedrinker was nie want “jy drink dit óf as jy siek is óf in die koshuis is”.
Maar vandag gaan Marciel kennis maak met, ‘Dis gin, vriendin’, verklap Carmen. Dit bestaan uit Chai-jenewer en tonikum. En ’n teesakkie om alles te komplimenteer.
Marciel gaan ook op ’n vark-oondbraai getrakteer word. Dit word gegeur met vinkel en op ’n bed van suurlemoenskille, appel, uie en gemmer gaargemaak. “Maar die cherry op die koek is ons gaan ook rooibostee byvoeg,” sê Carmen.
Dit word aangevul met ’n vinnige Oosterse kool- en wortelslaai. “Partykeer het ek net daai gevoel van, ‘Jô, nou moet ek darem ietsie soets geniet.’ Daai pampoentert van destyds wat ons so as ‘toe-kos’ geëet het, hy is nou meer as goed genoeg vir ’n poedinkie,” vertel sy oor haar nagereg.
Onthoutyd
“My ouma was ’n verpleegster gewees en ek is nou die eerste kind en my ma was ’n bietjie oorweldig – en sy’t altyd vir my ma gesê ‘as die kinders siek is, rooibostee en slaap’. So, ek is nou nogal ’n bietjie opgewonde om hom met ’n skop te proe vandag,” sê Marciel.
Carmen lag en sê sy dink Marciel het die regte behandeling op die regte tyd gekry. Sy onthou van koshuisdae toe hulle rooibostee in ’n groot teekan gekry het, maar dit was glad nie aangenaam nie. Dalk ’n bietjie te flou gewees?
Wat van oefen en eet?
Sy wil by Marciel weet hoe sy dit reggekry het om gesond te bly tydens die vier Boer soek ’n vrou-reekse waarvan sy die aanbieder was.
“Ek het my weights ingepak en as ons daar by die volgende gastehuisie aankom, dan het ek gou vinnig vir my ’n klein spasietjie geskep . . . en dan het ek gou daar van my oefeninge gedoen,” vertel Marciel.
En Carmen? Sy hou van crossfit.
“Almal hoef nie dieselfde tipe oefeninge te doen nie, maar ek glo dis ’n verantwoordelikheid om op daai manier gesond te bly. Want ek sê as jy spiere het en jy bly aktief – dit hou jou jonk,” gesels Marciel oor oefeninge. En sy sê sy wil eendag ’n ouma wees wat nog trampolien spring saam met haar kleinkinders.
“Oefeninge is vir my net so belangrik. Ek kan baie grumpy raak as ek nie daai bietjie oefening op ’n daaglikse basis inkry nie,” sê Carmen. Carmen sê sy glo mense wou vir Marciel net voer waar sy oral beland het tydens Boer soek ’n vrou.
“Ek glo ’n mens moet jouself nie weerhou van enigiets wat vir jou lekker is nie. Ek is regtig een van daai life’s too short, maar dit kom nou met die selfdissipline van ek kan nou nie die hele pak koekies opeet nie,” sê Marciel en noem dat die lewe vir haar oor balans gaan.
Dié tyd van die oggend?
Carmen se mengeldrankie, genaamd ‘Dis gin, vriendin’, is gereed om geproe te word. En Marciel kan nie wag nie. “As koningin Elizabeth kan gin drink in die oggend, hoekom dan nou nie ons nie?” wil Carmen met ’n laggie weet. “Ons gooi dan nou net ’n teetjie by.”
Die “teetjie” is Carmién Tea Tropical Burst-rooibostee. Carmen sien ook die waarde van hierdie helende drankie in en moedig Marciel aan om dit te geniet as sy dalk ’n bietjie olik voel – sy moet net ’n bietjie van die jenewer byvoeg . . .
Marciel word oorrompel deur die vrugtige geur en sê die drankie is heerlik. Vir haar begin dit nou proe soos koeldrank. En sy wil by Carmen weet of sy nou elke dat met ’n G&T begin. “Ek het geen probleem daarmee nie. Ek is mos nou nêrens heen op pad nie,” laat sy hoor.
Marcel vertel
Sy het voorheen vir Mej. SA ingeskryf en het daarvoor 14 kg in 4 maande verloor. Sy dink vandag haar gewigsverliesplan was nie die volhoubaarste nie. Sy het baie ernstig begin draf en op groente en proteïene geleef. Twee maande later was sy weer terug in haar nommer 14-jeans. Vandaar af, het sy besef, moes sy ’n gesonde verhouding met kos leer.
Op die spyskaart
Carmen vertel op die plaas sou hulle destyds waarskynlik ’n skaapboud voorgesit het, maar vark is een van haar gunsteling-vleise. En vir hierdie varkboud gebruik sy rooibostee as ’n aftreksel.
Marciel wil weet of Carmen ook die rooi uie gaan insit. Sy is gek daaroor en noem dat wanneer sy braaibroodjies maak, kry haar broodjie ’n hoekie (afgesny om dit as haar broodjie te identifiseer) omdat dit soveel ui daarop het en sy dink nie iemand anders gaan daarvan hou nie.
Op haar beurt verkies Carmen die bruin uie van Wildeklawer omdat hulle baie minder chemikalieë bevat want hulle word in oop lug en in gesonde grond verbou. Daar is ook minder peste en plae.
Het jy geweet?
Vir ’n lekker bros swoerd (crackling) gooi jy kookwater oor die varkboud en vryf dit in met sout. Daarna sit jy dit oornag in die yskas.
Plaaspraatjies
Carmen het op ’n plaas met gemengde boerdery grootgeword. Daar was sitrusvrugte, rooibostee en ook beeste.
“Ek dink jy het ’n ander verstaan van natuur en boerdery as jy op ’n plaas grootgeword het want jy sien dit voor jou oë gebeur,” sê Marciel.
“Mens het ’n bewustheid waar vanaf kos kom en besef jy kry dit nie uit ’n bakkie uit nie. Iemand moet daarvoor sorg sodat ons kos op die tafel kan hê,” is Carmen se reaksie daarop.
Gesond én lekker
“Ek weet jou benadering tot kos is dit moet lekker wees. Ons gaan nie net spinasieblaartjies eet vir middagete nie, maar dit is ook gesond. So, wat vandag gee dit nou ’n bietjie van ’n twist?” vra Marciel.
“Varkvleis is vir my ’n baie gesonde vleis in die sin dat sy vet aan die buitekant sit. So, jy kan hom afsny en dis ’n baie goeie proteïen,” verduidelik Carmen. Verby is die dae toe mense bang was om vark te eet . . . Die goudgebraaide varkboud wat uit die oond gehaal word, gaan monde laat water. Maar Carmen is nog lank nie klaar nie. Die tee wat sy as aftreksel byvoeg, is eintlik die tee wat ma’s drink wanneer hulle borsvoed. Maar Carmen is gek oor die smaak daarvan. Dan is dit weer terug oond toe om nog sagter te stoom. Teen die tyd kan Marciel nie meer wag nie, sy wil net daai varkboud proe.
Dis ook volgens Carmen tyd vir die ‘toe-kos’-pampoentert om nou die kollig te steel as ’n nagereg. Maar, vermaan sy, moenie die pampoen in water gaar kook nie. Dit moet gaar gestoom wees.
Soet of stout?
Terwyl Marciel ewe handig vir Carmen bystaan met die maak van die pampoentert, wil sy weet of Carmen kleintyd soet of stout was. “Man, ek sal vir jou sê ek was soet-stout,” erken sy en vertel hoe hulle kleintyd konkoksies met blare en wat ook al beskikbaar was, gemaak het. Daarmee wou hulle gifpyle maak om voëltjies te skiet.
Marciel sê haar pa was baie streng. Sy het tot in matriek inkomtye gehad, maar sy het ’n buitedeur gehad . . . “So, ek het lekker uitge-sneak. Baie gereeld. Maar my ouers weet nou daarvan. Maar selfs in my matriek-eindeksamen, dan het ek klaar geleer want ek is ’n pliggie [pligsgetrou], maar dan het ek nog steeds uitge-sneak. Twee ure geslaap, dan eksamen geskryf . . . so het ek my matriekjaar gedoen,” verklap Marciel.
Carmen onthou dat hulle ook inkomtye gehad het. Maar hulle het twee neefs gehad en hulle kon nêrens gaan sonder dat die twee hulle vergesel het nie. Sy sê haar ma het gedink sy en haar tweelingsus sal veilig wees solank die twee by was. “Maar of dit so was, dit kan ek jou nou nie sê nie . . .”
Gesonde poeding?
Ja, daar is ’n halwe koppie suiker in. Maar heelwat minder botter. Die jogurt sorg vir die fluweelsagte voorkoms en gevoel van die pastei. En Marciel kan haarself nie keer nie, sy smeek om die lepel af te lek.
Diep gesprekke aan tafel
Wat ’n onvergeetlike uitsig – ’n neutrale palet om die gevoel van plaas en rustigheid te versterk terwyl die Weskus-blomme en die see se blou die prentjie volmaak voltooi. Oor ’n glasie Piekenierskloof Heidedal Cinsault kuier die twee ’n hond uit ’n (Weskus-)bos. Dié wyn kom van ’n wingerd wat in 1976 aangeplant is met ou bos-stokke. Die wingerd word glad nie besproei nie. Marciel vertel dat die besluit om Boer soek ’n vrou te groet, was om meer spasie vir haarself te skep vir meer vryskutdinge.
“Om meer te kon ‘ja’ sê. Ek voel partykeer of ek ’n bietjie catch-up speel met my persoonlike lewe wat ek tot so ’n groot mate opgeoffer het,” deel sy met Carmen.
“Dis maar net so interessant van hoe die sirkel altyd ’n geneigdheid het om die volle 360o te vat en weer by daai punt van eenvoud uit te kom,” sê Carmen.
Lekker & Goed se resepte word op Vrydae op terloops gepubliseer.
Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar.