Menu terloops
In Gons [3 Jan 2025]

‘Lekker & Goed’: Episode 1 se lipafleklekker-resepte


Van sappige Midde-Oosterse lam tot ‘n verfrissende drankie vir die hittige someraande – hier is Carmen Niehaus se resepte vir al die geregte wat sy in die eerste episode van haar kykNET-reeks, ‘Lekker & Goed’, voorberei het.

‘Lekker & Goed’: Episode 1 se lipafleklekker-resepte

Kopiereg op resepte: Carmen Niehaus

Rosé sangria

Carmien het nou ook familiegrootte-teesakkies Cranberry Hibiscus Cold Brew wat ideaal is wanneer jy vir ‘n klompie mense ‘n drankie aanmekaar wil slaan. Een teesakkie maak 1,25 liter ystee. Dis glad nie nodig om kookwater te gebruik om die tee in te trek nie. Die aarbei-, kersie- en spookasemgeure van die Piekenierskloof Rosé saam met die subtiele roosblaar ondertone werk goed saam met die bosbessie- en hibiscusgeure van die tee om ‘n heerlike verfrissende drankie te maak. 

Lewer sowat 2 liter sangria

Bereiding: 10 min

Staantyd: 10—30 min

500 ml (2 k) Piekenierskloof Grenache Rosé

Sitrusvrugte soos lemoen, pomelo, lemmetjies, in skyfies gesny

2 groen appels, in skyfies gesny 

Groot handvol aarbeie, in skyfies gesny

4—6 sakkies Carmien Cranberry Hibiscus Cold Brew Rooibos Tea of 2 familiegrootte Cranberry Hibiscus-teesakkies

Verkoelde sprankelwater of tonikumwater om mee aan te vul

ysblokkies

  1.  Giet die rosé in ‘n groot fles en voeg die vrugte asook die teesakkies by.  Laat staan vir ten minste 10 minute (verkieslik 30 minute) totdat die tee lekker in die wyn getrek het. 
  2.  Voeg net voor opdiening verkoelde sprankelwater of tonikumwater na smaak by asook ‘n klompie ysblokkies. 

Midde-Oosterse lam 

Die Sondagboud waarmee ek grootgeword het, het ek aangepas met Midde-Oosterse geure soos komyn, suurlemoen en baie knoffel en dit dan ook in Carmien se Focus-rooibostee gaargemaak wat ‘n delikate mengsel van rooibos, masala-chai en borrie is. Die masala-chai-speserye sluit in kaneel, gemmer, kardamom, naeltjies en swartpeper. Dis van vroegste tye gebruik vir gesondheidsdoeleindes, soos hartgesondheid, help om artritis te bekamp, is ‘n natuurlike bloedverdunner en help ook om suikervlakke te beheer. Borrie is veral anti-inflammatories.    

Genoeg vir 6 mense

Voorbereiding: 10 min

Marineertyd: 12 uur of oornag

Gaarmaak: gerooster: 1—1½ uur; stadig gebak: 4—6 uur

MARINADE

80 ml (⅓ k) olyfolie

80 ml (1/3 k) natuurlike jogurt (opsioneel)

45 ml (3 e) droë oregano of fyngekapte pietersielie (opsioneel)

8 knoffelhuisies, fyngedruk

45 ml (3 e) fyn komyn

Sap en skil van 2 suurlemoene

VLEIS

1,8 kg lamsboud, met skenkel 

4 uie, in stukke gesny

Ekstra knoffelhuisies (opsioneel) 

250– 375 ml (1—1½k) sterk Carmien Focus-rooibostee, gemaak met ten minste 4 sakkies 

VOORSIT

Kruie-jogurtsous (sien resep onder)

Gebraaide eiervrugskywe met granate 

  1.  MARINADE – Meng al die bestanddele saam.
  2.  VLEIS – Plaas die boud in ‘n nie-metaalbak. Giet die marinade oor en marineer oornag of 12 uur
  3.  Pak die uie, ekstra knoffelhuisies in ‘n bak en giet genoeg rooibostee oor tot die uie bedek is. Plaas die boud bo-op die uie. Bedek met tinfoelie en bak sowat 4 ure stadig by 120°C tot die vleis murgsag en van die bene afval (andersins bak by 160°C vir 20—25 min per 500 g plus 20—25 minute ekstra vir ‘n mediumgaar boud). 
  4. Verwyder die bedekking en rooster vinnig onder die roosterelement tot bruin. Trek die vleis in stukke met ‘n lepel indien verkies. Sit voor met gebakte eiervrugskywe en kruie-jogurtsous (sien resep onder).

Kruie-jogurtsous 

Maak sowat 1 liter sous

Bereiding: 10 min

1 kg romerige natuurlike jogurt

1 bossie vars koljander, goed afgespoel en fyn gekap (of andersins 40 g takkies)

Halwe bossie ment (of andersins 20 g takkies), gekap

15 ml elk (1 e) gekapte knoffel en gerasperde gemmer

1 brandrissie, gekap

Sout en peper na smaak

Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker en verwerk tot glad. Sit voor saam met die boud.

Eiervrugskywe met granate

Sny 4 eiervrugte in skywe, besprinkel met sout, 4 fyngedrukte knoffelhuisies en olyfolie oor. Bak by 180°C tot gaar. Sprinkel ‘n handvol elk gekapte pietersielie, basilieblare en mentblare en granaatpitte en pistasieneute oor. 

Beetslaai met okkerneut-rooibosslaaisous

Van die vroegste tye is beet ingespan vir mediese doeleindes, van om te help met spysvertering tot bloedverwante siektes. Wildeklawer se oessikklusse is van so ‘n aard dat goeie kwaliteit beet die hele jaar beskikbaar is. Die lekkerte van hierdie slaai is die slaaisous wat onder andere met okkerneute berei word. Die Carmien boegoe-rooibostee verleen ‘n heerlike, maar nie oordonderende fynbossmaak daaraan. Rooibos loop oor van antioksidante en boegoe is nes rooibos eg Suid-Afrikaans. Boegoe help vir van urineweginfeksies, waterretensie, artritis tot prostaat-infeksies. Drink dit veral op lang vlugte om waterretensie te help voorkom.

GENOEG VIR 4 MENSE

BEREIDING: 10 MIN.

KOOK: 60 MIN.

10–12 klein beetjies

OKKERNEUT-SLAAISOUS 

250 ml (1 k) okkerneute 

2 knoffelhuisies, fyngedruk

Handvol koljanderblare en pietersielie

60–80 ml (¼–⅓ k) olyfolie

45 ml (3 e) suurlemoensap

160 ml (⅔ k) Carmien boegoe-rooibostee 

15—30 ml (2—3 e) heuning 

Seesoutvlokkies na smaak

SLAAI

80 g wilderoketslaaiblare

125 ml (½ k) vars bloubessies

100 g bokkaas

50 g okkerneute, fyn gekap 

Kwart rooi ui, fyn gekap

  1.  Kook die beetjies in genoeg water tot net sag. Laat effens afkoel en trek dan die velletjies af. Halveer indien nodig.
  2.  SLAAISOUS – Plaas al die bestanddele in ‘n NutriBullet of voedselverwerker en verwerk tot die kruie fyn, maar die neute steeds effe grof is en nie heeltemal fyn is nie.
  3.  SLAAI – Pak die roketblare op ’n bord en rangskik die beetjies bo-op. Sprinkel die bloubessies oor.
  4.  Sny die kaas in skyfies, rol in balletjies en dan in bietjie fyn okkerneute (of selfs kruie) indien verkies.
  5.  Pak die kaasballetjies op die slaai, sprinkel die rooi uie oor en streep die slaaisous oor.

Patat-brownies

lekker & goed

Geen mens sou vir een oomblik kon dink dat hierdie heerlike brownies geen sjokolade bevat nie en met gerasperde rou patat gemaak word (wat heeltemal wegsmelt terwyl dit bak) nie! Dit bevat geen koringmeel nie, en is dus glutenvry en het ook ‘n lae GI. Patat bevat baie vesel wat dermkanaalfunksie aanhelp en ook help om bloedsuikervlakke te reguleer. Daarby is dit anti-inflammatories en versterk immuniteit.

Gebruik versoeter soos eritritol as jy ‘n lae koolhidraat brownie wil maak. Dit werk goed in enige gebak en is ook bekostigbaar. Klappermeel is ‘n goeie alternatief vir koringmeel maar gaan suinig daarmee te werk, want dit droog gebak baie vinnig uit. Klappermeel bevat ook baie vesel en redelik baie proteïen wat help met die regulering van bloedsuikervlakke en dra ook by tot beter hartgesondheid deurdat dit cholesterol- en trigliseriedvlakke help verlaag. Dit hou jou ook langer versadig. Moenie langer as 26 min bak nie, dan is dit baie droog. 

Maak 16–20 blokkies 

Bereiding: 20 min 

Baktyd: 25–30 min

BROWNIES

400 g 750 ml patats (3 k wanneer dit gerasper is)

2 eiers

10 ml (2 t) vanieljegeursel

125—160 ml (1/2 –2/3 k) heuning of bruinsuiker of versoeter soos eritritol

125 ml (½ k) gesmelte klapperolie

250 ml (1 k) gesifte kakao

7,5 ml (11/2 t) bakpoeier 

2,5 ml (1/2 t) koeksoda

15 ml appelasyn

37 ml (2½ e) klappermeel

AFRONDING

Kakao of gesmelte donker sjokolade

Aarbeie en soutvlokkies (opsioneel)

  1.  Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n vierkantige 18-cm koekpan en voer uit met bakpapier.
  2.  BROWNIES – Meng die patat, eiers, vanieljegeursel, versoeter, bruinsuiker of heuning en klapperolie goed in ’n groot mengbak.
  3.  Meng die kakao, bakpoeier, koeksoda en appelasyn by. Voeg die klappermeel laaste by.
  4.  Giet die mengsel in die bereide pan. Bak 26 minute of tot gaar maar steeds sag. Laat 5–10 minute afkoel.
  5.  Verwyder die brownies versigtig uit die pan. 
  6.  AFRONDING – Sny in vierkante en sif ’n bietjie kakao oor of giet gesmelte donkersjokolade oor. Sit voor met aarbeie en sprinkel soutvlokkies oor indien verkies.

Vir verdere inligting oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies