Vandeesweek in Lekker en goed deel Carmen Niehaus iets met die kykers waarvan min dalk bewus was: sy is een van ’n tweeling en haar gas in hierdie episode is juis haar tweelingsus, Mientjie Mouton.
“Maar ek moet darem nou sê, ek beat haar met 10 minute,” terg Carmen as die oudste van die twee.
“Vandag maak ek ’n Wals, Wilhelmina-drankie want ons gaan met die Wilhelmina MCC-vonkelwyn werk (vernoem na hul ouma) en sy is nou die naamgenoot van daai ouma van my,” vertel Carmen. Die twee skerts al te lekker oor wat hul ouma te sê sou hê omdat die vonkelwyn na haar vernoem is, en omdat die twee sommer vroeg reeds daarvan proe . . .
Maar Carmen het nog veel meer om te vertel oor Mientjie. Sy is einste die grootbaas van Carmién Tea! Mientjie sê dis iets waarvoor sy Carmen ewig dankbaar sal wees – die feit dat sy Carmién Tea begin het. Sy skryf dit toe aan Carmen en haar inspirasie uit die koswêreld.

“Dit is mos nou waar ons die naam van ook gekry het,” vertel Mientjie want die “Car” is afkomstig van Carmen en die “mien” van Mientjie. Min het die twee tydens kleintyd se speeltyd in die teelande gedink dit sal eendag in ’n boksie beland en wêreldwyd beskikbaar wees.
Wilhelmina Bellini
Dís wat Carmen haar Wals, Wilhelmina-drankie noem. Sy gebruik vars perskes, ’n heuningstroop en dan van Carmién Tea se Peach Passion-tee wat bygevoeg word. Dan volg die Wilhelmina MCC.
Ouma Wilhelmina
Ouma Wilhelmina en oupa Johan het in 1923 begin boer. “Daai ouma Wilhelmina was definitief vir ons ’n inspirasie, saam met haar man, wat hierdie pioniersgees gehad het, om ongemak te oorkom en om te weet dit wat hulle doen, te midde van swaarkry, te staan vir meer en dis ’n passie om te staan vir daai groei en ontwikkeling en om vooruit te gaan,” sê Mientjie.
Die spyskaart

Carmen gaan vir Mientjie ’n Marokkaanse hoenderpastei voorsit want sy weet haar sus is gek oor hoender. Die twee deel ’n liefde vir slaai en sy gaan saam met hierdie dis ’n beet- en appelslaai voorsit.
Kykers weet mos teen hierdie tyd dat Carmen ’n baie sagte plekkie vir ’n soetigheid het. En vir haar kuier met Mientjie, gaan sy natuurlik ’n lekker spoggerige lekkerte voorsit: ’n Rooibos-sjokoladekoek!
Carmen beskryf dit as ’n heerlike klam sjokoladekoek met Turkish Delight-tee. Ja, sy glo Mientjie gaan beslis van hierdie weergawe hou.
Ui-kennis
Carmen vertel sy en Mientjie het kindertyd baie lekker goed saam gedoen en heerlike ervaringe gehad het. Een ding wat vir hulle baie spesiaal is, is die hoenderpastei – ’n resep van hulle tannie Martie.
En, soos Carmen verduidelik, is die wenresep vir enige pastei die vulsel. En dit begin met ’n goeie ui, soos dié van Wildeklawer. Meer nog, dat die skudblare van ’n ui dit beskerm terwyl die ui nog in die grond is. Maar dit is ook die outomatiese verpakking van die ui op pad na die verbruiker. As ’n ui groen begin wys, is dit reeds verby sy beste tyd.
Onthoutyd
So tussen die ui-kappery deur gesels die tweeling oor disse wat altyd op die Kerstafel was. Een staatmaker was die hoenderpastei, oftewel “ankerkos” soos Carmen dit noem.
“Ek dink tannie Martie het die hoenderpastei gemaak, en Ma die lamsboud en tannie Christine het die . . . wat het sy nou wee’ gemaak?” gesels Carmen oor daardie dae. “Sy’t die lekkerste poedings gemaak,” onthou Mientjie.
Maar nou wil Mientjie weet hoe gaan Carmen vandag haar hoenderpastei maak wat gaan verskil van tannie Martie s’n. “Tannie Martie se hoenderpastei was basies. Daar was miskien ’n paar uie en wortels en dit was basies dit. Hierdie een is nou ’n spesery- . . . ’n Marokkaanse een,” verduidelik Carmen en verskaf wenke oor hoe daar met die fyner speserye te werk gegaan moet word. Dis ook hier waar die tee inkom.
“Tee het mos nou eintlik my speserykas geword, in ’n koppie,” sê sy.
Kinkels met die pastei en die koek
Carmen is vasberade om gesonder disse voor te berei, maar een van haar ander swakhede is dat sy van ’n romerige pastei hou. Geen probleem nie. Sy vervang room met jogurt, en sê selfs volroom-jogurt kan dieselfde resultate lewer.
Wat haar pastei nog beter maak, is dat sy nie met ’n skilferkorsdeeg begin soos pasteie destyds gemaak is nie. Sy verkies filo-deeg want sy wil die vetterigheid of rykheid uit die pastei haal.
Sy vou die filo-velletjies bloot in bondels en plaas dit bo-op die vulsel. “Met filo-deeg kan jy nou rêrigwaar alles doen,” sê Carmen. En met die laaste velletjie in plek besluit sy dat selfs tannie Martie van hierdie nuwe weergawe van haar staatmaker-pastei sal hou.
Vir die koek gebruik sy Carmién Tea se Turkish Delight-weergawe wat van groen rooibostee gemaak word. Dis juis een van die produkte wat onlangs ’n internasionale prys verower het.
Vir die deeg gebruik Carmen minder meel en vul dit aan met fyngemaalde hawermout.
“Ek wil die skrik uit koekbak haal omdat, net soos met broodbak, sê mense ‘my koek kom net nooit reg nie’ en dis eintlik allermins,” sê Carmen.
Mientjie sit ewe vlytig hand by om die deeg in die pan te skep, maar Carmen waarsku gou dat hulle nie alles moet insit nie. Daar moet darem so ’n bietjie oorbly vir die proe . . . die rou deeg, natuurlik. Wie onthou ook as kind hoe die mengbak vir die kleinspan gehou is om uit te lek?
Die tafel

Carmen vertel hulle was reeds die oggend by die see, maar veral vandag wil sy vir Mientjie ’n tafel dek soos op die plaas. Sy kies die ou meul as die plek waar hierdie spesiale tafel gedek gaan word.
“Vir altwee van ons moet dit soveel goeie herinneringe terugbring – van tannie Martie se hoenderpastei saam met ’n heerlike klám koek wat nie is soos daai droë koek wat ons in ons kleintyd geëet het nie,” is Carmen se wens.
Vir oulaas geniet die twee ’n teetjie aan tafel voordat Carmen die Piekenierskloof Grenache Blanc oopmaak. Die tee word ook ingespan in plaas van water tussen die glasies wyn deur om te help met hidrasie en ook om die ekstra geure van die verskillende disse op te tel.
Wat nog?
Carmen en Mientjie gesels onophoudelik oor hoe die kuiers reeds van toeka se tyd om die plaastafel verloop het en hoe vryelik opinies gedeel kon word. En toe was kinders gesien én gehoor . . .
Lekker & Goed se resepte word op Vrydae op terloops gepubliseer.
Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar.