Menu terloops
In Recaps & Resensies [13 Feb 2025]

‘Lekker en goed’ met Carmen Niehaus: O frikkadel, hier kom ’n ding! 


Die bekroonde radioman en TV-aanbieder Johnny Davids is vandeesweek Carmen Niehaus se gas in ‘Lekker en goed’.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Lekker en goed'

‘Lekker en goed’ met Carmen Niehaus: O frikkadel, hier kom ’n ding! 

Carmen Niehaus se gas in die sewende episode van Lekker en goed is die veelsydige TV- en radio-persoonlikheid Johnny Davids. En dié twee gaan kopstukke gesels oor lekker padkos vir die langpad.  

Sy kom voorbereid met padkos in die motor terwyl hulle koers kies verby Langebaan op pad na haar huis. Vir haar hou langpad-ritte goeie herinneringe in. Hulle was vyf kinders en hulle “was ingepak soos sardientjies in die kar” en dan was daar natuurlik ma se padkos . . .

’n Dop met skop

Carmen maak vir Johnny ’n Moskou-muil met rooibostee en benewens al die gawe bestanddele, doop sy ook die glase se rand in sout – wat die proe-ervaring nog beter maak. 

Terwyl sy besig om die tee-gedeelte reg te kry, onthou Johnny dat hy in ’n stadium ’n ambassadeur vir Carmién Tea was. Klein wêreld!

Sy waarsku vir Johnny dat hierdie ’n “d*ndertjie met skop is” al besef sy die vliegtuig is nog nie oor nie. Sy vul die wodka aan met die tee, gevolg deur lemmetjiesap en gemmerbier.

Meer oor Boytjie

Die bekroonde radioman en TV-aanbieder Johnny Davids is vandeesweek Carmen Niehaus se gas in Lekker en goed. Foto: Verskaf

Carmen wil dadelik meer weet van Johnny se boek, Boytjie (uitgegee deur Lux Verbi) wat baie goed ontvang is. Johnny erken hy was self ’n bietjie oorstelp met die verkope daarvan. “Hy was vir twee weke die top-verkoper onder Afrikaanse boeke. Kan jy dit glo?” kom dit van hom en dis duidelik dat Johnny nog steeds oorweldig voel oor sy boek se sukses.

Die boek handel oor die pad wat hy van kleintyd al moes oopveg tot waar hy die afgelope 20 jaar ’n kykNET-aanbieder is.

“Almal het lus vir ’n voel-goed storie. Hierdie is nie ’n pity party nie,” vertel Johnny en erken dat dit wel help dat hy ook ’n bekende gesig is. Mense wil werklik weet hoe hy bo uitgekom het.

Op die spyskaart

Johnny gaan vandag padkos-frikkadelletjies kry. “En dan moet daar mos nou êrens ’n eiertjie wees. Ek maak ’n eierslaai met groenigheid by en met ’n heerlike eier-suursous,” vertel Carmen.

Vir die soetigheid gaan die dadelhawermoutstafies, oftewel padkos-crunchies soos sy dit noem, die smaakkliere gaan laat juig. Ja, Carmen, daai liefde vir ’n soetigheidjie . . .

Lekker en goed met Carmen niehaus
Johnny en Carmen voel dieselfde oor die rol wat padkos speel wanneer daar iewers heen gery word. Foto: Verskaf

Maar wag, eier-suursous? Omdat Carmen gesonder te werk gaan met haar disse, het sy ’n ou staatmaker waar kondensmelk ingespan is om die suursous te maak, aangepas. Sy maak dit van eiers, sout, asyn en ’n bietjie water. En later jogurt om dit romerig te maak.

Sy vertel vir Johnny dat haar ma, benewens die padkos met die oorspronklike kondensmelk-suursous vir elke kind ’n blikkie gekookte kondensmelk ingepak het wanneer hulle op hul jaarlikse vakansiereis vertrek het.

“Teen die tyd dat ons nou by ons bestemming aankom, is ons almal so naar dat ons vir twee dae omtrent nie kan eet nie,” vertel sy omdat hulle daardie blikkies sommer binne die eerste dag al leeg gemaak het.

Johnny vertel dat hy as kind nie soortgelyke ervarings gehad het nie. “So nou en dan het ’n antie of ’n ouma of iets vir my ’n ietsie ingepak, veral as ons nou op rugbytoere gegaan het,” sê hy en noem dat elke kind op daardie bus ’n gekookte eier en frikkadelletjie as deel van hul padkos gekry het.

Vir haar frikkadelletjies gebruik Carmen verskeie kruie en speserye, maar sy voeg ook amandels by! “Dis definitief nie net groot maalvleisbolle nie,” kom dit met ’n glimlag van haar kant af.

Johnny en Carmen voel dieselfde oor die rol wat padkos speel wanneer daar iewers heen gery word.  “Padkos is vir my ’n baie lekker ding, maar spesifiek ook omdat jy weet . . . jy half dan net kan pause. Soos wat jy sê, dinge bietjie stadiger kan vat en inneem wat rondom jou is,” sê sy.

Wat eet Johnny?

As aanbieder reis hy gereeld en Carmen is gretig om uit te vind wat dan op die bord beland. Hy sê einste dat daar frikkadelle op hul spyskaart is, maar ongelukkig kan hulle nie hul eie maak vanweë hul druk produksieskedules nie.

“Ons gaan nou nie eier eet nie, want ons sit nogal naby mekaar in die produksievoertuie,” erken hy en dit laat Carmen lekker lag. 

Hy sê ook hulle kry ook nie juis kans om langs die pad stil te hou om te eet nie, dié gebeur maar so terwyl hulle ry.

Die dadelhawermoutstafies is ideaal om vir die jongspan in te pak skool toe. Foto: Verskaf

In die kombuis

Kosblaarslaai is lekker bros en Carmen se keuse vir hierdie slaai. Avokados en wortelrepies (Wildeklawer se soet wortels) en rooi uie word saam met die hardgekookte eiers, wat ook in repies gesny is, vermeng. Die suursous kom in ’n aparte houer.

Carmen span die tee in om die dadels vir die dadelhawermoutstafies te versag. Dan kom daar ook ’n bietjie koeksoda by. Sy span vir Johnny in om die roerwerk te doen en hy lyk heel behendig met daai houtlepel in die hand.

Tussendeur noem Carmen dat hierdie stafies ideaal is om vir die jongspan in te pak skool toe. Daar is wel ’n bietjie suiker in, maar oorwegend is daar hope en hope goedheid in dié stafies.

Wat nog?

Daar word land en sand gesels. Foto: Verskaf

Die twee kuier al te lekker in die veld met die Jimny en ’n heerlike seebriesie wat die blou blokkiestafeldoek saggies roer. Daar word land en sand gesels oor wanneer die sportgogga vir Johnny gebyt het. En padkos, natuurlik . . .

Lekker & Goed se resepte word op Vrydae op terloops gepubliseer. 


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies