Menu terloops
In Gons [19 Sep 2023]

Kyk nou: Eerste lokprent vir ‘Boetie Boer’, Showmax se nuwe ware misdaad-dokkiereeks


‘Boetie Boer: Inside The Mind Of A Monster’ is Showmax se nuutste ware misdaad-dokkiereeks waarin die reeksmoordenaar Stewart ‘Boetie Boer’ Wilken oor sy grudade vertel.

Stroom vanaf 18 Oktober 2023

Kyk nou: Eerste lokprent vir ‘Boetie Boer’, Showmax se nuwe ware misdaad-dokkiereeks
Kyk lokprent

Showmax se Boetie Boer, Inside The Mind Of A Monster neem kykers terug in tyd na 1990. Soos die ANC ontban, en Nelson Mandela ná 27 jaar in die tronk vrygelaat word, begin Stewart ‘Boetie Boer’ Wilken sy moordtog in Port Elizabeth, nou Gqeberha. Soos die joernalis Brett Adkins in die lokprent sê: “Toe hy in hegtenis geneem is, het dit geklink soos iets uit ‘n fliek. Skielik het ons ’n reeksmoordenaar gehad.”

“Wilken was ’n hoogs ongewone reeksmoordenaar,” sê dié dokumentêre reeks se regisseur Jasyn Howes (Dula).

“Anders as die meeste reeksmoordenaars, het hy meer as een soort slagoffer gehad. Hy het oorwegend vroue sekswerkers en jong seuns, gewoonlik straatkinders, van verskeie rasse geteiken. Hy het ook beweer dat hy nekrofilie en kannibalisme met sy slagoffers beoefen het.”

Boetie Boer-regisseur Jasyn Howes
Boetie Boer-regisseur Jasyn Howes. Foto: Verskaf

In die lokprent bespreek Wilken openlik sy misdade met dr. Gérard Labuschagne, die voormalige afdelingshoof van die polisie se ondersoekende sielkunde-afdeling.

“Labuschagne het vir ons sy opname van net meer as drie ure gegee, waarin Wilken, in sy eie woorde, alles vertel wat hy gedoen het,” sê Howes.

“Wilken was teen daardie tyd reeds agt jaar in die tronk. Hy is reeds tot lewenslange tronkstraf gevonnis, so hy het geen ooglopende rede gehad om iets weg te steek nie.”

Wilken se weergawe van gebeure word vergesel deur onderhoude met sers. Ursula Barnard van die polisie se kinderbeskermingseenheid, asook sers. Derick Nosworthy van die moord-en-roof-eenheid. Albei het sleutelrolle in Wilken se vervolging gespeel. Daarbenewens voer Howes ook onderhoude met die familie van een van Wilken se slagoffers, Georgina Zweni, en met Wilken se kinders, Sonika en Sergius.

Die 90’s was ook die era van die ABC-moordenaar, Moses Sithole, en die sogenaamde “Station Strangler”-beskuldigde, Norman Simons, wat in Julie 2023 op parool vrygelaat is. Ten spyte daarvan dat hy ten minste sewe moorde gepleeg het, het Wilken se misdade dus nie soveel dekking ontvang soos wat ’n mens sou verwag nie. 

“Ten tyde van sy moorde het Wilken se saak grootliks ongemerk in die res van die land gebly, aangesien daar terselfdertyd meer hoëprofiel-moordenaars op vrye voet was,” sê Howes.

“Daar is min tot geen video- of radio-argief nie, hoewel daar meer koerantdekking was. Ons moes dus op reaksies steun om die storie visueel lewe te gee. Ek is beïndruk deur dokumentêre reekse soos Wormwood wat werklik probeer het om die ware misdaad-genre in ’n nuwe rigting te stuur, en wat die grense tussen dokumentêre en verhalende rolprentvervaardiging vervaag het. Dít het ons die geleentheid gebied om die genre plaaslik te verhef en die gehoor ’n meer filmiese kykervaring te gee.”

Die vyfdelige dokumentêre reeks is ’n koproduksie tussen Stage 5 Films en Howes se Fifth Floor Films. Dit is die derde dokumentêr, en eerste ware-misdaad-dokumentêre reeks, van Stage 5 Films. Dit bou voort op die sukses van Unearthed, en The Journeymen. Stage 5 Films se prestasie-rekord sluit ook die studente-Oscar-wenner Lakutshon’ Ilanga en die Suid-Afrikaanse Oscar-inskrywing, Noem My Skollie in.


Boetie Boer het ‘n ouderdomsbeperking van R18, en premiere op Showmax op 18 Oktober 2023, met nuwe episodes elke Woensdag. Nie vir sensitiewe kykers nie.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies