“Daar’s ’n paar goed wat natuurlik so ég Suid-Afrikaans is, dis so moeilik om dit te verduidelik vir ander mense. Die geluid van ’n vuvuzela, natuurlik die geruis van ’n braaivuur wat almal goed ken, en as die kos reg is,” en daarmee het die beoordelaar Bertus Basson die braaitang die praatwerk laat doen in die negende episode van Kokkedoor Vuur & Vlam.

Die uitdaging
In hierdie episode moes die deelnemers wys hoe goed hulle Suid-Afrika se eksotiese boskos met tradisionele braaikos kan kombineer. Bertus sê die deelnemers moet ’n allegaartjie-styl braaibak voorsit wat bestaan uit die snitte in die skottel en dan die boskos-snitte wat elkeen getrek het. Daarmee saam moet ’n styselgereg en ’n warm of koue braaislaai voorberei word.
Voorts moet die vuur ingespan word, maar die spanne kan kies of hulle die braaipan of lugbraaier wil gebruik. Hulle het net 90 minute om die hele kaboedel bymekaar te bring en voor te sit.

By elke werkstasie was daar ’n braaiskottel (die aluminium-weergawe met daardie ronde duikies in die deksel) met alles daarin wat gewoonlik op die kole gegooi word: tjops, hoenderdye, wors en self sosaties.
Maar die boskos was ’n perd van ’n ander kleur . . . wie het nou al ooit vantevore haas, krokodil, vlakvark, bosvark en wildebees saam met tjops en wors gebraai? Proe haas werklik soos skrophoender, maar net ’n bietjie wilder? En wie weet hoe werk ’n drukkoker?
Een van die kinkelbraaiers erken hy het nog nooit met ’n drukkoker gewerk nie. Hy besit ook nie een nie, maar sy spanmaat het besluit om dit nader te trek.“Ek f*kken hoop en bid net daai ding is aan en hy werk reg,” is sy versugting.
Vandeesweek se wenners
Tussen al die chaos deur was daar één span wat kalm en onder beheer voorgekom het – en dit het in hul vlakvarkdis gewys. Dít het ook daartoe gelei dat kinkelbraaier Lorianne Heyns (44), ’n professionele kok en haar onthoubraaier-spanmaat, Benjie Benjamin (39), ’n hoogspanningselektrisiën van Kimberley, as oorwinnaars uit die stryd getree het.

Wat sê Lorianne?
Waar het jou liefde vir kosmaak begin en wie inspireer jou?
“My pa was ’n ongelooflike huiskok en hy het altyd die interessantste disse voorberei. Ek dink dit is waar my belangstelling in kos begin het: smake, teksture, samestellings van verskillende geure en natuurlik die mooi van bestanddele saam op ’n bord.
“Vandag vind ek steeds inspirasie in bestanddele, die kleure en geure van die seisoen asook die verskillende emosies wat nostalgiese geure na vore bring.”
Jy was baie bang om die haas of krokodil te kry vir julle dis. Vlakvark? Het jy al vantevore dit voorberei en is daar ’n spesiale manier waarop vlakvark benader moet word op die braai?
“Ek het vir ’n jaar by Singita, Sabi Sands gewerk waar filet en loin baie gewild was. Vlakvark moenie soos gewone vark hanteer word nie want dit is baie droog. So, die beste is om dit vir ’n dag of so te marineer. Karringmelk met lekker speserye werk goed.
“Ek en Benjie het die loin gekry. Die beste om dit op die vuur gaar te maak, is om dit vinnig oor hoë hitte te braai dat dit lekker karameliseer buite-om maar nog sappig bly binne-in. Ek hou baie daarvan om my vleis klaar te maak met bruinbotter, maar ’n romerige sousie sal ook baie lekker werk.”
Wat is die beste raad wat iemand nog ooit vir jou gegee het rondom jou kreatiwiteit met kos?
“Ek het vir die legendariese sjef, Bruce Roberston, by The Showroom Restaurant in Kaapstad gewerk. Hy was seker een van die mees kreatiefste sjefs saam met wie ek al ooit gewerk het. Hy het nie soseer vir my raad gegee nie, maar ek het baie by hom geleer oor geure bymekaar sit,om inspirasie uit die omgewing rondom ons te kry en hoe om die fun in kos in te bring.
“Karin de Villiers van Klein Roosboom naby Durbanville is ook ongelooflik kreatief en ek leer vreeslik baie by haar ook.”
Jy en Benjie was volgens Bertus en Kobus by verre die kalmste in die kombuis. Hoe het julle dit reggekry?
“Gelukkig vir my is Benji ’n baie rustige mens en ek voel dadelik ander mense se energie rondom my aan. Net die feit dat hy so kalm en collected was, het my baie rustig gemaak.
“Benji is baie goed belese en beskik oor ongelooflike kos-kennis wat baie gehelp het met kommunikasie en dat ons mekaar verstaan het met die uitdagings.”
Julle het die goeie nuus gekry dat julle nie die volgende uitdaging hoef te takel nie. Hoe het dit gevoel?
“Dit was regtig baie lekker om te hoor dat ons spanwerk so goed was dat ons ’n afdag gekry het én ’n uitdaging vrygespring het, veral met my glipsie waar ek my vinger so effens afgesny het.”
Wat sê Benjie?

Hoe het jy gevoel oor die vlakvark-lende wat julle gekry het om voor te berei? Is dit iets waarmee jy bekend is?
“In Kimberley is Van Zyls Slaghuis die plek wat altyd in seisoentyd vlakvark-lendetjops verkoop. Ek braai so nou en dan ’n paar van daai tjops.”
Vir wie sou jy baie graag vir ’n braai wil nooi? En hoekom?
“Ek sal definitief my oorlede oupa nooi. Hy was tog so baie lief vir ’n lam-soutrib oor die kole.
“Wyle Braam Kruger (Kitchen Boy) het’n toer deur die land gedoen en verskillende disse van verskillende kulture gemaak. Dis iets wat ek ook graag wil doen na Kokkedoor Vuur & Vlam.
“En op dié oomblik voel ek klaar geëerd dat Bertus Basson en Kobus Botha my braai kon proe!”
Jy het gesê jy het nie genoeg klere ingepak nie omdat jy nie gedink het jy sal so ver in die reeks vorder nie. Met watter uitdaging het jy gedink dis nou die einde van jou Kokkedoor Vuur & Vlam-pad?
“Ek kon net ’n klein tas in die hande kry en moes maar genoeg pak vir sewe dae. Met die tweede episode (Sout & Peper) het ek geglo dit was my einde.
“Ek het nie genoeg geproe tydens die gaarmaakproses nie en my hand was bietjie swaar met die sout. Ek wou nie my spanmaat Francois (Binneman) in die steek laat nie.”
Sommige van jou vorige spanlede het gejeuk om jou aan te jaag omdat hulle gevoel het jou spoed is te stadig vir die gegewe tyd. Maar Lorianne het dit op haar beurt waardeer. Hoe het jy dit ervaar om saam met haar die uitdaging te takel?
“Dit was vir my baie maklik om met Lorianne oor die weg te kom en ek het gemaklik gevoel met haar. Sy’t mooi gepraat met my en my met respek hanteer. Ek kon op haar staatmaak. Sy’t verstaan dat ek nog nooit in ’n profesionele kombuis gewerk het nie. Ek waardeer baie wat sy gedoen het.”
Jy’t tydens ’n vorige uitdaging (Episode 3) baie vertroue in jy en jou spanmaat, Francois Binneman, se disse openbaar toe jy vir julle as wenners gekies het. Hoe het dit met hierdie uitdaging vergelyk?
“Met die hierdie uitdaging was dit soortgelyk. In beide episodes het elkeen ’n taak gehad om te doen en ons kon mekaar help as iets iewers vasgebrand het. In hierdie episode was ek ook darem gemaklik met die bestanddele.”
Julle het die goeie nuus gekry dat julle nie die volgende uitdaging hoef te takel nie. Hoe het dit gevoel?
“Dit was ’n groot verligting om bietjie van ’n blaaskans te kry. Die druk raak verskriklik hoog voor die vuur.”
En die res?
Hier is nog ’n paar foto’s van wat tydens die episode afgespeel het en wat die ander spanne aangevang het.
Kokkedoor Vuur & Vlam S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uit. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.