Dis onthoubraaier Johan de Villiers (30), die operasionele bestuurder van ’n familieplaas naby Durbanville en kinkelbraaier Lourens Engelbrecht (37), ’n vryskutsjef van Pretoria, wat teen kinkelkok Lorianne Heyns (44), die uitvoerende sjef by Jéan Restaurant op die Klein Roosboom-wynlandgoed naby Durbanville, en onthoukok Benjie Benjamin (39), ’n hoogspanningselektrisiën by Eskom in Kimberley, in die Kokkedoor Vuur & Vlam-finaal meeding.

Dit voel vir hom asof die spanne nou aan die Olimpiese Spele van Kokkedoor Vuur & Vlam deelneem, het Kobus Burger, wat saam met Bertus Basson ’n beoordelaar op die reeks is, met die aanvang van vandeesweek se uitdaging gesê.
“Ons is nou hier in die eindstryd, hulle is besig om daai 100 m te hardloop.”
En met kinkelbraaier Mike van Rooyen (37), konsulterende sjef van Johannesburg en sy spanmaat, onthoubraaier Jay Maan (51), ’n oopvuursjef van Pretoria, wat hul voorskote moes ophang, is daar nou net twee spanne in dié resies oor.

Tydens die semifinaal was dit weer die kombinasie van Lourens en Johan wat hulle met die louere laat wegstap het. Hulle het al voorheen koning gekraai en selfs die spraaksame Kobus was vir ’n wyle tjoepstil want, hoe hard hy ook al probeer het, kon hy net mooi niks negatief oor hul dis gevind het nie.
Hoe voel dié twee spanne nou so naby aan die eindstreep?
Vandeesweek se wenspan

Lourens:
Jess se kos was vir jou baie fyn, met “baie mooi goedjies, blaartjies en blommetjies” Hoe het dit jou aanvanklik oor die uitdaging laat voel? En gaan jy dit dalk by jou vryskut-braaigeleenthede inspan?
“Toe ek die baie verfynde bordjie van Jess sien, het ek geweet dat dit ’n besonderse uitdaging gaan wees vir die semifinaal. Ek het in die verlede, toe ons nog in die Kaap gebly het, in ’n fine dining-restaurant gewerk.
“Ek wéét hoeveel harde werk in so ’n bordjie ingaan, nie net vir die smaak nie, maar ook hoe dit lyk aan die einde. Die meeste van my vryskutwerk is maar family style maar niks keer my om my disse met ’n bietjie meer finesse voor te sit nie.”

Dit moes ’n groot uitdaging gewees het om iemand anders se kos “na te maak”. Jy’t gesê dis so goed hulle vra jou om die Mona Lisa te verf. Wat was vir jou die sleutel tot die smaak wat julle tog wel reggekry het?
“Ons het begin om baie mooi na Jess se dis en al die fyn detail te kyk, van die grote van elke bestanddeel tot elke blaartjie en blommetjie. Terwyl ons dit geproe het, het ons regtig baie aandag spandeer rondom hoe als proe, as aparte bestanddele en dan saam as een dis. Ons het ook gefokus op hoe die verskillende teksture, smake, geure en reuke bymekaar kom.”
Jy sê Jess se geur het jou brein gebreek. Het jy al vantevore so ’n geur-ervaring gehad en wat was dit?
“Daar was een spesifieke dis wat vir my baie uitgestaan het. Dit was toe ek by Jordan Restaurant in Stellenbosch saam met sjef George Jardine en sjef Kyle Burn gewerk het. Ons het in die wintermaande, sodra dit tyd vir porcini-sampioene was, ’n pastei gemaak met ’n tipe wit vis (soos stokvis) en porcini-sampioene. Ek het nooit gedink hierdie twee bestanddele sou so goed saam werk nie, maar dit het – en dit was so lekker vir my!”
Die druk was geweldig toe die skaal nie wou saamspeel nie. Hoe hanteer jy gewoonlik sulke spanningsvolle situasies in die kombuis?
“In ’n kompetisie-kombuis is daar altyd baie druk. Jy werk teen tyd om die beste moontlik dis voor te sit, maar partykeer gebeur daar dinge wat daai druk hoër maak. Die beste ding om dan te doen, is om net ’n sluk water te vat, asem te haal en dan deur te druk om te beste eindproduk moontlik te lewer.”
Wanneer het dit werklik ingesink dat jy en Johan in die finaal is?
“Toe Bertus en Kobus aankondig dat ons ’n plek in die finaal het, kon ek dit nie glo nie. Dit was regtig ’n onbeskryflike oomblik vir my in my sjef-loopbaan. Ek dink dit het eers behoorlik ingesink toe ons uit die Kolekamer en KokkedoorVuur & Vlam-stoor gestap het en Johan gesê het ons het dit gedoen, ons is in die finaal!”
Hoe voel dit vir jou om in die finale episode van Kokkedoor Vuur & Vlam te wees? Het jy iewers in die reeks gedink jy gaan dit dalk nie maak nie?
“Ek het regtig gedink my Kokkedoor Vuur & Vlam-dae is getel na die hele melktert- en fyngebak-uitdaging, maar gelukkig was ek en Ferdi [Uys] gespaar en is ons ’n tweede kans gegee om weer te kon braai/kook.
“Ek het toe besef dat nog ’n kans dalk nie weer sal opduik nie. Ek sou moes moet vinger trek en tydens elke uitdaging my als moes gee as ek verder wou gaan in die kompetisie.
“Om Johan weer as ’n spanmaat te kon kry, was ook ’n teken vir my dat as ons hard saam werk en mooi konsentreer tydens die laaste paar uitdagings en ons als gee, ons die finaal kan haal. En om dit saam met Johan te kon doen, is regtig ’n hoogtepunt vir my!”
Johan:
Hoe het jy gevoel toe julle die resep vir jul dis ontvang het? Het dit die aard van die uitdaging vir jou makliker gemaak?
“Ek was eintlik dankbaar vir die resep – dit het vir ons ’n rigting gegee. Maar dit maak dit nie noodwendig makliker nie want jy moet steeds jou stempel daarop sit. Dis nie net om iets te maak wat werk nie, dis om dit uitsonderlik te maak.”

Jy’t dadelik weggespring om die vleis te braai. Wat is jou beste raad om seker te maak vleis bly sappig en geurig?
“Die belangrikste is hittebeheer. Jy moet jou kole en jou tyd reg bestuur. En dan – moenie skaam wees vir geur nie. Gebruik sout en suur as jou ankers, en gee die vleis genoeg tyd om te rus voor jy dit sny. Dis waar die sappigheid vasgevang word.”
Jy’t gehoop vir Klein Roosboom in die finaal met jou en Lorianne (Heyns). Hoe het dit gevoel toe jy besef dis werklik wat gaan gebeur?
“Dit was ongelooflike oomblik: Twee mense wat hul wortels in dieselfde grond het, is nou saam in die eindstryd. Dis ’n groot trots vir ons as plaas en as span.”
Jy vertel dat jou pa en ma saamgekook het, en later was dit jy en jou ma. Nou doen jy en jou vrou (Andri de Villiers) dieselfde. Wat is jul gunsteling-disse om voor te berei en hoe goed kom julle oor die weg in die kombuis?
“Ek en Andri geniet dit om saam in die kombuis of langs die vuur te wees. Ons gunsteling is ’n stadig-gebraaide lamsboud of ’n heerlike pasta. Ons werk goed saam – al wil ons soms dieselfde pan op dieselfde tyd hê, maar dis altyd met liefde.”
Deurentyd het jy baie gefokus voorgekom. Het jy ’n bepaalde tegniek wat jy toepas om te keer dat jy “spin” in die kombuis?
“Ek probeer altyd eers asemhaal en dink voor ek doen. Ek’s iemand wat onder druk beter funksioneer as ek kalm bly en dinge in kleiner dele opbreek. Fokus op die volgende taak, nie op die hele berg nie.”
Wat het Jess se terugvoer op jul dis, veral jou boeljon (broth) vir jou beteken? En dat Kobus erken het hy moet maar stil bly, want daar was niks wat nie lekker was nie?
“Dis ’n ongelooflike gevoel as iemand soos Jess jou uitlig – dis ’n komponent wat dikwels afgeskeep word. Dit wys dat elke element op die bord belangrik is. En Kobus se woorde… dit laat mens stil raak en besef jy het iets reg gedoen.”
Wat beteken dit vir jou om in die finaal van Kokkedoor Vuur & Vlam te wees? Het jy enigsins op ’n stadium tydens die reeks getwyfel of jy in die top-twee spanne gaan wees?
“Dis ’n groot eer. Ek het nooit verwag om in die finaal te wees toe ons die eerste dag ingeloop het nie. Daar was oomblikke van twyfel – dis normaal. Maar elke uitdaging het my selfvertroue gegee, en teen die einde het ek begin glo dit is moontlik.”

Nog oomblikke in die kombuis vandeesweek. Foto’s: Verskaf
En die ander span in die finaal…

Lorianne:
Wat beteken dit vir jou om in een van die top-2 spanne van Kokkedoor Vuur & Vlam te wees?
“Ek het eerlikwaar nie gedink ek gaan dit maak tot een van die top-2 spanne nie! Dis so moeilik om in woorde uit te druk hoe absoluut incredible dit is om dit so ver in die reeks te kon kom. Dis soos om ’n tweede asem te kry en ek is super opgewonde en so geëerd om saam met Benjie die finaal teen Johan en Lourens aan te pak.”
Watter impak het jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam op jou lewe gehad? Wat het jy van jouself geleer?
“Hierdie uitdaging het my heel onkant gevang. Ek het slegs ingeskryf om myself ’n bietjie van ’n uitdaging buite my gemaksone te gee . . . en het eerlikwaar nie gedink ek gaan dit baie ver maak nie. Maar toe ons top-5 bereik het, het ek besef ek wil nie huis toe gaan nie en dat ons dit moontlik kan wen!
“Ek voel asof Kokkedoor Vuur & Vlam vir my ’n nuwe lus vir die lewe én kookkuns gegee het. Ek het so ongelooflik baie geleer oor ons kultuur en ook interesante kosgeskiedenis. Nou wil ek dit baie graag verder bestudeer om te kyk hoe ek dit kan vernuwe.”

Hoe voel dit om teen Johan in die finaal mee te ding?
“Ek is so trots om teen Johan in die finaal te kan wees. Al kan ons nie in een span wees nie, is top-2 steeds ongelooflik. Johan is nie net ’n fabulous mens nie, maar sy kos-kennis en kookvernuf is tops. Ek kon nie vir ’n beter opponent as dit gevra het nie. Wie ookal wen, verdien dit 100%. Ek gaan beslis my als gee, en ek glo dieselfde van Benjie, Lourens en Johan.”
Benjie:

Wat beteken dit vir jou om in een van die top-2 spanne van Kokkedoor Vuur & Vlam te wees?
“Dit is regtig ’n groot eer vir my om een van die top-2 spanne te wees. Dit is ’n groot belewenis. Ek het gehoop dat ek ver in die kompetisie gaan kom, en om hierdie vlak van die kompetisie te kon haal, is ’n groot eer.”
Watter impak het jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam op jou lewe gehad? Wat het jy van jouself geleer?
“Dit het ’n groot impak op my lewe gemaak, veral hoe ek goed doen en beplan. So ’n kompetisie is nie net vermaak nie, dit laat jou groei as mens. Elke mens wat jy ontmoet vryf iets aan jou af, so met die al die mense en hoe hulle te werk gaan en hoe hulle kook . . .
“Dit het my ook geleer om nie bang te wees om goed aan te pak nie. In die kompetisie het ek die vertroue in myself herontdek. Dit het my rigting gegee en ook nuwe uitsig. Ek sien uit na die toekoms.”

Wat lê voor tydens die finaal?
Natuurlik gaan die finaal nie sonder ’n kinkel wees nie want, soos Bertus reeds plegtig in die negende episode verklaar het: “Dis mos Kokkedoor, en dis mos te maklik” as daar nie iets onverwags opduik nie!
Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.